YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Opstanding Diens 4 April 2021

Kruik Opstanding Diens 4 April 2021

Kruik Opstanding Diens 4 April 2021

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 8:00 AM

Vanoggend staan ons in verwondering, in awe, in vreugde oor wat meer as 2000 jaar terug op hierdie naweek gebeur het.

Jesus het opgestaan en die lewe wat Hy ons skenk deur Sy eie lewe te gee en ook weer op te neem is nie net merkwaardig nie dit is ook die grootste vorm van liefde.

Daardie Sondag oggend is die grootste inskrywing in die Christelike kalender! Daar is nie iets groter as vandag nie… nie eers die kruis wat ‘n groot simbool is van die Christelike reis is, kan dit oorweldig nie.

Die kruis was ‘n pad! Daar het al baie mense voor Jesus aan ‘n kruis gesterf en ook mense na Jesus maar niemand het uit ‘n leë graf uitgeloop nie. Die opstanding bring die lewe wat Jesus kom gee het!

Ek het gekom sodat julle lewe kan hê en dit in oorvloed… op hierdie dag tel ons die oorvloed van daardie lewe op!

Ons gaan vanoggend by twee momente stilstaan waar Jesus aan mense stilstaan na Sy opstanding.

Eerste een… Maria Magdalena.
Kom ons lees saam in Johannes 20.
“Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.”‭‭JOHANNES‬ ‭20:11-16‬ ‭AFR83‬‬

Jesus vra Maria; Waarom huil jy? Miskien klink dit onsimpatiek, ons sien dalk onsself hierdie vraag vra, dalk met tikkie ongeduld. Maar dis nie wat Jesus hier doen nie, hy vra haar deur deel te word van haar pyn, verlange en verlies. Jesus het deur dieselfde gegaan nie lank voor dit nie. Jesus het self iemand naby Hom verloor wat Hy voor lief was…

“Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” “Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”‭‭JOHANNES‬ ‭11:34-36 ‭AFR83‬‬

Jesus het self gehuil en verlies beleef. Vereenselwig met hulle pyn en ook nou Maria Magdalena sin. En ook in jou verlies, jou hartseer en jou verlange… waarom huil jy? Nie om jou te oordeel nie maar om saam jou daar in te gaan en sê ek verstaan. Maar ook te sê… hierdie is jie die einde nie… daar is opstanding vir Lasarus; vir Jesus, vir jou eie geliefdes en ook vir jou.

Jesus is die eersteling uit die dood… en die boodskap is; Die dood is nie die einde nie! Dood waar is jou angel, doderyk waar is jou oorwinning?!
Ek sien jou trane, ek sien jou pyn, maar Ek is hier saam met jou.

Tweede moment waar Jesus stilstaan… by sy disippels. Kom ons lees saam
“Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!”‭‭JOHANNES‬ ‭20:19-22‬ ‭AFR83‬‬

Die deure was gesluit, hulle het agter hulle eie vrees weggekruip. En Jesus se eerste woorde aan hulle… Vrede vir julle!! Teenoorgestelde van vrees.
Ek het eendag ‘n boek gelees waar die karakter vir Jesus sê; I feel so lost en waarop Jesus antwoord, I am with you and I am not lost. Ons vrees vir ons lewens agter toe deure… Ek is met julle en ek vrees nie. My vrede gee ek julle!

Hy het ook dit herhaal… wonder hoekom, dalk omdat ons mense die eerste keer mooi hoor nie.
En toe blaas Hy oor hulle en sê; Ontvang die Heilige Gees. Ontvang die een wat julle die waarheid sal gee, julle sal lei en julle sal troos.

“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”‭‭JOHANNES‬ ‭16:33‬ ‭AFR83‬‬

Ek is die opstanding en die lewe, nie net in die letterlike graf nie; maar ook in jou lewe! Ontvang My Gees!
Waarom huil jy? Wees nie bevrees nie, hier is die Vrede, Ek is met jou!!

Miskien gaan jy nog deur groot verlies gaan, daar kom dalk tye van donker in jou lewe… maar weet, die Here sê, Ek is met jou! My vrede gee ek jou!

Besprekingsvrae:

Wat beteken die opstanding vir jou?

Hoe kan jy dit deel van jou alledaagse lewe maak?



YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy