NUMERI 20:7-13
NUMERI 20:7-13 AFR83
Die Here sê toe vir Moses: “Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.” Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink. Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.” Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.