RUT 4:5-10
RUT 4:5-10 AFR83
Daarop sê Boas: “Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd vir Rut die Moabitiese weduwee sodat die grond in die oorledene se familie bly.” Die losser sê toe: “In daardie geval sal ek my reg om as losser op te tree, laat vaar, want anders sou dit beteken dat my eie eiendom in gevaar kom. Tree jy nou maar as losser op, want ek sien nie meer daarvoor kans nie.” In Israel was dit gebruiklik by die lossingsprosedure of by die ruil van enige eiendom dat die een party 'n skoen uittrek en aan die ander party gee. Dit was die manier waarop die bekragtiging van 'n transaksie in Israel plaasgevind het. Die losser sê toe vir Boas: “Jy kan dit maar koop,” en die losser het sy skoen uitgetrek. Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.”