YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 139:1-24

PSALMS 139:1-24 AFR83

Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê. As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met 'n uiterste haat, want hulle is ook my vyande. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy