YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 5:1-19

SPREUKE 5:1-19 AFR83

My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer, luister na my goeie raad. Dan sal jy self ook met oorleg kan optree en met die nodige kennis praat. Die slegte vrou se lippe drup van die heuning, haar tong is gladder as olie, maar agterna is alles so bitter soos wildeals; sy is so gevaarlik soos die skerpste swaard. Haar pad is dié van die dood, elke stap saam met haar bring die ondergang nader. Sy hou jou weg van die pad van die lewe af, sy laat jou dwaal, en jy weet dit nie. Luister na my, my seun, bly by wat ek jou sê: Bly weg van haar af, moenie naby haar huis se deur kom nie dat jy nie jou mooiste jare verspil nie, jou beste jare aan 'n hartelose mens gee nie, dat vreemdes hulle nie vol eet aan die vrug van jou arbeid nie, dat dit waarvoor jy gewerk het, nie in die huis van 'n ander beland nie. Jy sal lê en kreun as jou einde nader, met die vleis aan jou liggaam weggevreet, en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai, ek het my nie gesteur aan die onderrig nie. As ek maar geluister het na my leermeesters en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het! Hier sit ek nou in die grootste ellende voor die oë van almal.” Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? Hulle is tog net joune, en jy sal hulle nie met 'n ander wil deel nie. Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy