ESTER 7:1-10
ESTER 7:1-10 AFR83
Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet. Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.” Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.” Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.” Haman het groot geskrik daar in teenwoordigheid van die koning en koningin. Die koning het woedend van die ete af opgestaan en na die tuin van die paleis toe gegaan. Haman het egter bly staan om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning klaar oor sy ondergang besluit het. Net toe Haman neerval op die rusbank waarop Ester sit, kom die koning uit die tuin van die paleis terug in die saal waar die maaltyd gegee is. Toe sê die koning: “Wil jy nou ook nog die koningin hier by my in die paleis aanrand?” Skaars het die koning dit gesê, of sy dienaars het vir Haman kom blinddoek. Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, sê toe: “Daar is mos reeds by Haman se huis 'n galg van drie en twintig meter hoog wat hy laat oprig het vir Mordegai wat destyds in belang van die koning gepraat het.” Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!” Hulle het Haman toe opgehang aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die woede van die koning bedaar.