2 SAMUEL 16:5-13
2 SAMUEL 16:5-13 AFR83
Toe die koning by Bagurim kom, storm daar ewe skielik een van Saul se familielede op hom af. Sy naam was Simeï seun van Gera. So ver as hy gaan, het hy geloop en vloek. Hy het Dawid en al sy amptenare en die hele volk, ja, selfs al die dapper krygsmanne, links en regs onder die klippe gesteek. Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy 'n moordenaar is.” Toe vra Seruja se seun Abisai vir die koning: “Waarom vloek hierdie lae hond die koning? Laat ek sy kop vir hom gaan afkap.” “Seun van Seruja, dit het niks met my of met jou te doen nie,” was die koning se antwoord. “Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie.” Verder het die koning vir al sy amptenare en vir Abisai gesê: “My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee. Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking.” Dawid en sy mense het toe pad langs verder getrek. Simeï het ál teen die berghang langs geloop en vloek en klippe gooi en stof opskop.