YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 15:1-24

1 SAMUEL 15:1-24 AFR83

Samuel het vir Saul gesê: “Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie.” Saul het die manskappe opgeroep. Hy het hulle by Telaim getel: twee honderd afdelings voetsoldate en tien afdelings uit Juda. Saul het by die woonplek van die Amalekiete aangekom en sy manskappe laat stelling inneem by 'n spruit. Toe het Saul die Keniete laat weet: “Gee gou pad tussen die Amalekiete uit sodat ek julle nie saam met hulle uit die weg ruim nie, want julle het die Israeliete goed behandel toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe tussen die Amalekiete uit padgegee. Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar 'n mens kom by Sur teenoor Egipte. Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak. Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: “Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek. Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself 'n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.” Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?” “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.” En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.” Saul sê toe vir hom: “Praat maar.” Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’ Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?” Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.” Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy