Psalms 32:1-11
Psalms 32:1-11 AFR20
Van Dawid. 'n Maskiel . Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Gelukkig is die mens vir wie die HERE sondeskuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek stilgebly het, het my gebeente broos geword onder my gekreun die hele dag. Ja, dag en nag was u hand swaar op my; my lewenskrag het weggekwyn soos in die hitte van die somer. •Sela My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die HERE bely, en U het my sondeskuld vergewe. Sela Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid terwyl die geleentheid daar is. Die geluid van 'n groot watervloed sal hom nie bereik nie. U bied vir my beskutting; U vrywaar my van nood; met jubelkrete van bevryding omring U my. Sela Ek wil jou insig gee, Ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog oor jou hou. Moet julle nie soos 'n perd, soos 'n muil sonder verstand, gedra nie: Met toom en stang moet sy krag beteuel word, anders bly hy nie by jou nie. 'n Goddelose het baie smarte, maar wie op die HERE vertrou – troue liefde omring hom. Verbly julle in die HERE, en juig, regverdiges; ja, jubel dit uit, almal met opregte harte.