Markus 12:38-44
Markus 12:38-44 AFR20
In sy lering het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, en die voorste sitplekke in die •sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.” Jesus het oorkant die offergawekis gesit en kyk hoe die skare kopermunte in die offergawekis gooi. Baie rykes het baie ingegooi. 'n Arm weduwee het gekom en twee lepton, wat saam 'n kwadrant werd is, ingegooi. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle dat hierdie weduwee, wat brandarm is, meer ingegooi het as almal wat geld in die offergawekis gegooi het. Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. ”