YouVersion Logo
Search Icon

Markus 11:1-11

Markus 11:1-11 AFR20

Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië teen die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en sodra julle in die dorpie ingaan, sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom. As iemand julle vra, ‘Waarom doen julle dit?’ sê dan, ‘Die Here het hom nodig, en Hy sal hom dadelik hierheen terugstuur.’ ” Hulle het gegaan en 'n donkievul gevind, vasgemaak by 'n deur buite op die straat, en hom losgemaak. Van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het hulle toe geantwoord soos Jesus beveel het, en die mense het hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkievul na Jesus en gooi hulle boklere oor hom, en Jesus het op hom gaan sit. Baie mense het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer takke met blare wat hulle in die veld afgekap het. Dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom, dié van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste!” Jesus het in Jerusalem die tempelterrein binnegegaan. En nadat Hy na alles rondom Hom gekyk het, het Hy, omdat dit reeds aand was, na Betanië vertrek met die twaalf.