YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 7:1-10

Lukas 7:1-10 AFR20

Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref.