YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 12:20-33

Johannes 12:20-33 AFR20

Daar was 'n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus sien. ” Filippus het dit toe vir Andreas gaan vertel, en toe gaan sê Andreas en Filippus dit weer vir Jesus. Maar Jesus antwoord hulle: “Die uur het gekom dat die •Seun van die Mens verheerlik moet word. Amen, amen, Ek sê vir julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. “Nou is my siel ontsteld. Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar Ek het tog juis met die oog op hierdie uur gekom! Vader, verheerlik u Naam!” Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.” Jesus het geantwoord: “Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle. Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word. En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf.

Video for Johannes 12:20-33