YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 46:1-13

Jesaja 46:1-13 AFR20

Bel het inmekaargesak, Nebo is vooroor gebuig. Hulle afgodsbeelde behoort aan die wilde diere en aan die vee. Julle draagbare gode is opgelaai – 'n las vir uitgeputte diere. Hulle staan vooroor gebuig, saam sak hulle inmekaar; hulle kan die vrag nie red nie. Hulle gaan self in ballingskap. “ Luister na My, huis van Jakob, die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat gedra is vanaf die baarmoeder, wat opgetel is van die moederskoot af. Tot in julle ouderdom is Ek daar; tot in julle gryse ouderdom is Ek die Een wat julle dra. Dit is Ek wat dit gedoen het: dit is Ek wat optel, dit is Ek wat dra en verlos. Met wie wil julle My vergelyk, en aan wie My gelykstel, wie beskou julle as My gelyke, dat ons dieselfde is? Hulle wat goud uit 'n geldsak skud en silwer met 'n weegskaal afweeg, hulle huur 'n goudsmid, en hy maak 'n god daarvan. Hulle kniel voor hom, hulle buig selfs in aanbidding; hulle tel hom op hulle skouers, hulle dra hom en plaas hom op sy plek – en daar staan hy! Van dié plek af kan hy nie beweeg nie. Selfs as iemand na hom om hulp roep, antwoord hy nie; uit benoudheid kan hy iemand nie verlos nie. “ Onthou dit, sodat julle standvastig kan wees. Neem dit ter harte, oortreders! Onthou die dinge van vroeër, van lank gelede; want Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie – Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer,’ Ek wat uit die ooste 'n roofvoël roep, van 'n ver land af iemand roep vir my raadsbesluit. Ja, Ek het dit aangekondig; Ek sal dit beslis laat gebeur. Ek het dit gereedgemaak; Ek sal dit beslis uitvoer. “Luister na My, trotses van hart, julle wat ver is van geregtigheid. Ek het my geregtigheid nader gebring; dit is nie meer ver nie. Die verlossing wat Ek bring, sal nie talm nie. In Sion sal Ek verlossing skenk, aan Israel my heerlikheid.”

Free Reading Plans and Devotionals related to Jesaja 46:1-13