YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 4:7-21

1 Johannes 4:7-21 AFR20

Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry. En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Wie ook al bely dat Jesus die •Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom. Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy 'n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.