YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 1

1
In die begin
1Alles het begin toe God die hemel en die aarde gemaak het. 2Daar was niks op die aarde nie, niemand kon daar woon nie. Daar was net 'n groot see, en dit was baie donker. Die Gees van God het oor die water beweeg soos 'n sterk wind.
Lig
3God het gesê: “Daar moet lig wees.”
En toe was daar lig. 4God het gesien die lig is goed. Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig “dag” genoem en Hy het die donker “nag” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die eerste dag.
Die lug
6God het gesê: “Daar moet 'n hemeldak wees, die lug daarbo, en dit moet die water wat bo is, skei van die water wat onder is.”
7Dit het toe gebeur. God het die hemeldak gemaak en Hy het die water onder die dak geskei van die water bo die dak. 8God het die ronde dak “hemel” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die tweede dag.
Die aarde en die see
9God het gesê: “Die water onder die hemel moet bymekaarkom op een plek, sodat daar ook grond kan wees.”
Dit het toe gebeur. 10God het die grond “aarde” genoem en Hy het die water “see” genoem. God het gesien dit is goed.
11God het gesê: “Daar moet plante op die aarde groei – groen plante wat saad dra, en bome wat vrugte dra en wat saad in die vrugte dra.”
Dit het toe gebeur. 12Daar het plante op die aarde gegroei – groen plante wat hulle eie saad dra, en bome wat hulle eie saad in die vrugte dra. God het gesien dit is goed. 13Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die derde dag.
Die son, die maan en die sterre
14God het gesê: “Daar moet ligte in die hemeldak wees. Die ligte moet dag en nag van mekaar skei. Die ligte moet tekens wees wat wys watter tyd dit is en wanneer die dae en die jare begin en wanneer hulle eindig. 15Die ligte in die hemeldak moet skyn op die aarde.”
Dit het toe gebeur. 16God het twee groot ligte gemaak, en ook die sterre. Die groot lig moes in die dag skyn, en die kleiner lig moes in die nag skyn. 17God het hierdie ligte in die hemeldak gesit om lig te gee op die aarde 18en om in die dag te skyn of in die nag te skyn. Hulle moes lig en donker van mekaar skei. God het gesien dit is goed. 19Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vierde dag.
Die diere in die water en die voëls
20God het gesê: “Daar moet baie diere in die water wees en daar moet voëls onder die hemeldak vlieg.”
21God het die groot seediere gemaak, en alles wat in die see lewe. Hy het ook al die verskillende soorte voëls gemaak. God het gesien dit is goed. 22God het die diere in die see en die voëls geseën. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet meer word, en die see moet vol diere wees. Daar moet ook baie voëls op die aarde wees.”
23Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vyfde dag.
Die diere op die aarde
24God het gesê: “Daar moet baie soorte diere op die aarde wees – mak diere, diere wat kruip en wilde diere.”
Dit het toe gebeur. 25God het die diere op die aarde gemaak, wilde diere, mak diere en diere wat kruip. God het gesien dit is goed.
Die mense
26God het gesê: “Kom Ons maak 'n mens wat in ons plek kan regeer. Die mens moet hoof wees oor die visse in die see en oor die voëls in die lug. Hy moet ook hoof wees oor die mak diere en oor die hele aarde, en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
27God het toe die mens gemaak om in sy plek te regeer. Hy het die mens gemaak om in sy plek hoof te wees. Hy het die mense so gemaak dat daar mans en vroue is.
28God het hulle geseën en vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en die aarde vol mense maak. Julle moet hoof wees oor die aarde en julle moet regeer oor die visse in die see, oor die voëls in die lug en oor al die diere wat op die aarde beweeg.”
29God het gesê: “Ek gee nou vir julle al die plante wat saad dra op die hele aarde, en al die bome wat vrugte en saad dra. Dit is die kos wat julle mag eet. 30Die gras en die groen plante is kos vir al die wilde diere, vir die voëls en al die ander diere wat op die aarde lewe.”
Dit het gebeur.
31God het toe gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die sesde dag.

Currently Selected:

Genesis 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy