Die Beloofde MessiasVoorbeeld
Die Beloofde Koning
Lees: Jesaja 9:7; Sagaria 9:9; Lukas 1:32–33; Matteus 2:1–2; Johannes 12:12–13; Matteus 27:37
SOAP: Lukas 1:32–33
“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
Oordenking
God het belowe om ‘n Messias te stuur. Hierdie Messias sou nie net sy volk red en verlos nie, maar Hy sou ook regeer. Toe God die Israelitiese volk opgerig het, het Hy hul afgesonder. Hulle sou nie ‘n koning hê nie, want God was hul koning. Die mense het egter gerebelleer en wou soos al die ander volke wees, en toe het God vir hulle ‘n koning gegee.
Maar wat die Israeliete misgekyk het in hul versoek aan God vir ‘n aardse koning, was dat Hy genoeg was. God het reeds planne gehad om sy volk van ‘n koning te voorsien, maar hulle moes wag vir sy koms. Hierdie koning sou red en verlos, met regverdigheid en genade regeer, en sy volk vir ewig bewaar en beskerm. Alhoewel God vir die Israeliete gegee het waarvoor hul gevra het, was baie konings van Israel en Juda boos en hulle het die mense weg van God af gelei.
God het ‘n koning belowe wat anders sou wees. Alhoewel die mense God as hul koning geweier het, het God se plan bly staan. Hy het belowe om sy uitverkore koning te stuur om te heers en te regeer, en om ‘n ewige koninkryk te vestig. Hierdie koning wat sou kom was Jesus, en Hy was die vervulling van God se plan en belofte. God sou weer die koning van sy mense wees deur sy Seun, en Hy sou sy belofte nakom om sy volk te verlos.
Toe die engel aan Maria verskyn het, het hy vir haar gesê dat haar seun, wat deur die Heilige Gees verwek is, die beloofde koning sou wees. Jesus het die profesieë oor die koning vervul, ook om in Betlehem gebore te word en Jerusalem op ‘n donkie binne te gaan. Sommige mense het Jesus as hierdie beloofde koning erken, insluitend heidense wyse manne en soldate wat Hom gekruisig het, maar ander het Hom as die koning verwerp en geweier om te glo dat Hy hul beloofde verlosser was.
Ongeag of die wêreld Jesus as die koning erken of nie, bly Hy die koning. Hy is die Seun van die Allerhoogste God, en Hy sit op die troon, ook vandag. Hy is die Een wat sy volk verlos en red. Hy is die Een wat die wêreld met regverdigheid en genade regeer. Hy is die Een wat sy volk vir ewig beskerm en bewaar. Mag ons Hom elke dag as ons koning aanbid en vereer.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer God ‘n belofte maak, het Hy reeds ‘n plan om dit gestand te doen. Sy grootste belofte, om vir ons ‘n Verlosser te stuur om ons van sonde te red, word bewys deur die lewe, dood en opstanding van Jesus. In hierdie studie gaan ons dieper delf in die spesifieke messiaanse beloftes wat God aan sy volk gemaak het en hoe Jesus elkeen van hierdie beloftes vervul het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.loveGodgreatly.com