SAGARIA 9:1-8
SAGARIA 9:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het met Sagaria gepraat. Die Here praat kwaai met die mense van die land Gadrak en die mense van die stad Damaskus. Die Here sien nie net wat die stamme van Israel doen nie, Hy sien wat al die mense doen. Hy kyk ook na die land Hamat langs Damaskus, en na die stede Tirus en Sidon. Hy doen dit omdat daardie mense dink hulle is baie slim. Die mense van Tirus het sterk mure om hulle stad gebou en hulle het baie ryk geword. Hulle het baie silwer en goud bymekaargemaak, so baie soos die stof en die modder in die strate. Die Here sal nou al die goed vat wat die mense van die stad het. Hy sal die skepe van die stad Tirus verwoes. Die mense van die stede Askelon en Gasa sal sien wat gebeur met Tirus. Hulle sal bang word en groot skrik. Die mense van die stad Ekron sal ook skrik, want hulle sal sien dat niks en niemand hulle kan help nie. Die stad Gasa sal nie meer 'n koning hê nie, en daar sal nie meer mense in Askelon woon nie. In die stad Asdod sal nou ander mense woon. Die Here sê: “Ek sal alles wegvat wat die Filistyne hoogmoedig gemaak het. Hulle sal nie meer ete-offers vol bloed vir hulle afgode bring nie. Die Filistyne wat nog lewe, sal ook aan ons God behoort. Hulle sal soos familie wees vir die mense van Juda. Dit sal met die mense van Ekron gaan soos met die Jebusiete, wat ook saam met die mense van Juda gewoon het. Die Here sê Hy sal sy tempel beskerm. Daar sal nie meer ander volke in die stad Jerusalem kom nie, niemand sal die mense van Jerusalem verdruk nie, want die Here self sorg vir hulle.”
SAGARIA 9:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GODSPRAAK. Die woord van die HERE teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit rus — want die HERE hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel. En ook teen Hamat wat daaraan grens; teen Tirus saam met Sidon, want hy is baie slim. Ja, Tirus het vir hom 'n vesting gebou; ook het hy silwer opgehoop soos stof en goud soos modder van die strate. Kyk, die Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp, en hy sal deur vuur verteer word. Áskelon sal dit sien en vrees; ook Gasa, wat sal sidder van angs; ook Ekron, omdat sy toeverlaat teleurgestel het; en uit Gasa verdwyn die koning, en Áskelon bly onbewoond; en die baster sal in Asdod woon — so sal Ek dan aan die trotsheid van die Filistyn 'n einde maak — en Ek sal die bloed uit sy mond verwyder en sy verfoeisels tussen sy tande uit; so sal hy dan ook vir onse God oorbly en wees soos 'n stamhoof in Juda, en Ekron soos 'n Jebusiet. En Ek sal om my huis 'n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie; want nou het Ek dit met my eie oë gesien.
SAGARIA 9:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Uitspraak van die Here. Die woord van die Here is ook in Gadrak, en Hy het ook in Damaskus sy woonplek. Die Here sien alle mense, nie net al die stamme van Israel nie. Hy sien ook vir Hamat, wat aan Damaskus grens, en vir Tirus en Sidon, al het hulle hoeveel wysheid. Tirus het vir homself 'n vesting gebou en so baie silwer en goud vergader as wat daar stof is en modder in die strate. Nou gaan die Here alles vat wat die stad het, Hy gaan die mag breek wat die stad op see het, en die stad self sal afgebrand word. Askelon sal dit sien en skrik, Gasa sal dit sien en baie bang word, Ekron ook, want alles waarop hy vertrou het, sal daarmee heen wees. Gasa sal sonder koning wees, Askelon sonder inwoners, en in Asdod sal net mense woon wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap . So sal Ek die trots van die Filistyne breek, sê die Here. Ek sal die bloederige vleis wat hulle eet, uit hulle mond ruk, Ek sal die afskuwelike afgodsoffers tussen hulle tande uitruk. Wat van die Filistyne oorbly, sal aan ons God behoort. Hulle sal een van die groepe in die stam Juda word; dit sal met Ekron gaan soos met die Jebusiete. Ek sal my huis beskerm teen enige leër wat daar verbykom, sê die Here, geen onderdrukkers sal hulle meer oorval nie. Ek sorg nou self vir hulle.
SAGARIA 9:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Profesie. Die woord van die HERE het die landstreek Hadrag bereik en rus op Damaskus, want die oog van mense en al die stamme van Israel is gerig op die HERE; so ook Hamat, wat daaraan grens, en Tirus en Sidon, al is hulle baie wys. Tirus het vir homself 'n vesting gebou, en silwer opgehoop soos grond, en goud soos modder op straat. Kyk, die Heer sal hom in besit neem en sy rykdom in die see gooi, en hy sal deur vuur verteer word. Askelon sal dit sien en bang word; Gasa sal inmekaar krimp van pyn, ook Ekron, omdat hy in sy verwagting beskaam is. 'n Koning sal uit Gasa verdwyn, en Askelon sal nie bewoon wees nie. 'n Gemengde volk sal in Asdod woon. Ek maak 'n einde aan die hoogmoed van die Filistyne: Ek verwyder die bloederige vleis uit sy mond, die afskuwelike afgodsoffers tussen sy tande. Maar hy wat oorbly, sal ook aan ons God behoort. Hy sal soos familie in Juda wees, en Ekron soos die Jebusiete . Ek sal by my huis kamp opslaan teen die leërs; teen hulle wat verbygaan en terugkom. Geen onderdrukker sal hulle weer oorval nie, want nou waak Ek met my eie oë.
SAGARIA 9:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die las van die woord van die HERE in die land Hadrag en Damaskus sal die res daarvan wees; En Hamat sal ook daaraan grens; Tirus en Sidon, hy is baie wys. En Tirus het vir haar 'n vesting gebou en silwer opgehoop soos die stof en fyn goud soos die modder van die strate. Kyk, die HERE sal haar uitdryf, en Hy sal haar krag in die see slaan; en sy sal deur vuur verteer word. Askelon sal dit sien en vrees; Ook Gasa sal dit sien en baie bedroef wees, en Ekron; want haar verwagting sal beskaamd word; en die koning sal uit Gasa omkom, en Askelon sal nie bewoon word nie. En 'n baster sal in Asdod woon, en Ek sal die trots van die Filistyne uitroei. En Ek sal sy bloed uit sy mond wegneem en sy gruwels tussen sy tande uit; maar hy wat oorbly, ook hy, sal vir onse God wees, en hy sal wees soos 'n goewerneur in Juda, en Ekron soos 'n Jebusiet. En ek sal laer opslaan rondom my huis ter wille van die leër, ter wille van hom wat verbygaan en vanweë hom wat terugkom; en geen verdrukker sal meer deur hulle deurtrek nie, want nou het ek dit met my oë gesien.
SAGARIA 9:1-8 Die Boodskap (DB)
Die Here se straf. Die Here sê die volgende oor die land Gadrak en oor die stad Damaskus: Die hele wêreld se oë is op wat die Here doen, nie net die stamme van Israel nie. Wat Hy te sê het, is ook bedoel vir Hamat, Damaskus se buurstad. Dit raak selfs ook die stede Tirus en Sidon, al dink hulle ook hulle mense is so slim en handig. Die mense van Tirus het vir hulle ’n baie veilige wegkruipplek gebou. Verder het hulle ook baie silwer en goud bymekaargemaak. Dit is so baie dat dit amper net soveel soos die stof en die modder in die strate is. Maar kyk wat gaan gebeur. Die Here gaan al Tirus se rykdom en skatte wegvat en dit in die Middellandse See gooi. So sal Hy die mag van die stad breek. Daarna sal die stad in ’n brand verwoes word. Wat gebeur, raak al die Filistynse stede. Askelon se mense sal bang word as hulle sien wat met Tirus gebeur. Die mense in Gasa en Ekron sal aan die bewe gaan omdat hulle bang is. Al die goed wat hulle gedink het belangrik is in die lewe, verdwyn net skielik. Gasa sal sy koning verloor en Askelon sal ’n verlate stad sonder enige mense wees. Asdod sal deur mense van gemengde afkoms oorgeneem word. Die Here sê: “Die Filistyne dink verskriklik baie van hulleself. Ek sal hulle nederig maak. Hulle eet vleis met bloed in. Ek sal dit uit hulle mond uitruk. Ek sal ook keer dat hulle ander kos eet wat Ek verbied het.” Die Filistyne wat oorbly, sal deel van die Here se volk word. Hulle sal soos ’n nuwe stam in Juda wees. Die mense van Ekron sal net soos die Jebusiete destyds in die volk van die Here opgeneem word. Die Here sê: “Ek sal my land en alles wat aan My behoort, baie goed oppas. Ek sal dit beskerm teen mense wat die land wil inval. Ek sal nie toelaat dat enige vreemde mag weer my volk aanval nie. Ek sal self my oog oor hulle hou en hulle goed oppas.”
SAGARIA 9:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is die boodskap van die HERE teen die land Gadrak en die stad Damaskus, want die oë van alle mense, ook die volk van Israel, is op die HERE. Oordeel is seker vir Hamat, naby Damaskus, en vir die stede van Tirus en Sidon ook al is hulle ook hoe slim. Tirus het ’n sterk vesting gebou, soveel goud en silwer bymekaargemaak dat dit so algemeen sal wees soos stof in strate! Maar nou sal die Here Tirus se besittings wegstroop en sy vesting in die see gooi. Tirus sal aan die brand gesteek en tot op die grond afgebrand word. Askelon sal dit sien en skrik. Gasa sal bewe van angs en so ook Ekron, want hulle hoop sal daarmee heen wees. Gasa sal sonder koning wees en Askelon sal verlate wees. Vreemdelinge sal die stad Asdod inneem, en die trots van die Filistyne sal vernietig word, sê die HERE. Hulle sal nie langer vleis eet met bloed daarin nie, hulle sal ook nie ander verbode kos eet nie. Al die Filistyne wat oorleef, sal ons God aanbid en aanvaar word as ’n nuwe stam in Juda. Ekron sal word soos die Jebusiete. Ek sal my tempel bewaak en beskerm teen invallende leërs. Ek sal hulle bewegings dophou sodat geen buitelandse onderdrukker ooit weer my volk se land sal binneval nie.