HOOGLIED 2:1-13

HOOGLIED 2:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Sy sê: “Ek is die affodil van Saron, die blom van die valleie.” Hy sê: “My liefste, wanneer jy tussen die jongmeisies is, dan is jy soos 'n blom tussen dorings.” Sy sê: “Wanneer die man vir wie ek lief is, tussen die jongmans is, dan is hy soos 'n appelboom tussen die bome in die bos. Ek wil graag in sy skaduwee sit, sy appels is soet in my mond.” Sy sê: “Hy het my geneem na 'n plek waar ons kon feesvier, hy het vir my gewys dat hy lief is vir my. Jy moet vir my rosyntjies gee om my sterk te maak, jy moet vir my appels gee, sodat ek nuwe krag kan kry, want ek het swak geword van liefde. Sy linker-arm is onder my kop, sy regter-arm is om my lyf. Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe, en die gaselle en die takbokke in die veld moet die getuies wees, julle moet belowe dat julle ons nie sal wakker maak en nie sal pla nie. Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit wat om te doen.” Sy sê: “Ek hoor die man vir wie ek lief is, kyk daar, hy kom, hy gaan teen die berge op, hy spring oor die heuwels. Die man vir wie ek lief is, is soos 'n gasel, soos 'n jong takbok. Kyk daar, hy staan anderkant ons muur, hy kyk deur die vensters, hy loer deur die tralies. Die man vir wie ek lief is, begin praat, hy sê vir my: ‘My liefste, my mooiste, jy moet opstaan, jy moet kom. Want kyk, die winter is verby, dit reën nie meer nie. Daar is weer blomme in die veld, dit is nou die tyd om te sing, ek hoor die duiwe koer in ons land. Die vyeboom laat sy vye groot word, jy kan ruik dat die wingerdstokke blomme kry. My liefste, my mooiste, jy moet opstaan, jy moet kom.