ROMEINE 8:35-37
ROMEINE 8:35-37 Bybel vir almal (ABA)
Kan iemand keer dat Christus lief is vir ons? Nee, nooit nie! Niemand kan dit keer nie, nie wanneer ons swaarkry nie, nie wanneer ons bang is nie, nie wanneer mense ons verdruk nie, nie wanneer ons honger is nie, nie wanneer ons niks klere het nie, nie wanneer ons vyande het nie, nie wanneer mense ons wil doodmaak nie. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Mense hou aan om ons dood te maak omdat ons aan U behoort. Hulle maak of ons slagskape is. God is lief vir ons, daarom wen ons altyd wanneer al hierdie slegte dinge met ons gebeur.
ROMEINE 8:35-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
ROMEINE 8:35-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
ROMEINE 8:35-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskryf staan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.
ROMEINE 8:35-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie sal ons skei van die liefde van Christus? sal verdrukking of benoudheid of vervolging of hongersnood of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om u ontwil word ons die hele dag doodgemaak; ons word gereken as slagskape. Nee, in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
ROMEINE 8:35-37 Die Boodskap (DB)
Wat kan ons nou nog skei van Christus se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie! Nie eens die grootste probleme waarvan daar in die Bybel gepraat word, kan ons ooit van Christus skei nie. Daar staan juis in een van die psalms: “Here, ter wille van U word ons heeltyd doodgemaak. Ons is soos ’n klomp slagskape wat reg staan om geslag te word.” Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse-oorwinning omdat Hy ons baie liefhet.
ROMEINE 8:35-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry? Selfs die Skrif verklaar tog: “Om u ontwil bedreig die dood ons die hele dag en word ons as slagskape beskou.” Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het.