DIE OPENBARING 20:12-15
DIE OPENBARING 20:12-15 Bybel vir almal (ABA)
Toe sien ek die mense wat gesterf het, staan voor die troon, al die mense, grootmense en kinders. Iemand het die boeke in die hemel oopgemaak, ook die boek van die lewe. God het gekyk wat in die boeke geskryf is oor wat elke mens gedoen het, en toe het Hy die mense ge-oordeel. Ja, al die mense het weer begin lewe: die mense wat in die see gesterf het, en ook die mense wat gesterf het en wat in die doderyk was. God het gekyk wat hulle gedoen het en Hy het hulle almal ge-oordeel. Toe het God die dood en die doderyk in die see van vuur gegooi. Dit is die tweede dood. As iemand se naam nie in die boek van die lewe geskryf was nie, dan het God hom in die see van vuur gegooi.
DIE OPENBARING 20:12-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
DIE OPENBARING 20:12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
DIE OPENBARING 20:12-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan. Toe is die boekrolle oopgemaak. 'n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe. Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel. Die see het toe die dooies wat daarin is, teruggegee, en die dood en Hades het die dooies wat daarin is, teruggegee. Elkeen is volgens hulle dade geoordeel. Toe is die dood en die •Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. En as gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
DIE OPENBARING 20:12-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het die dooies, klein en groot, voor God sien staan; en die boeke is geopen, en 'n ander boek is geopen, dit is die boek van die lewe; en die dooies is geoordeel uit wat in die boeke geskrywe is, volgens hulle werke. En die see het die dooies gegee wat daarin was; en die dood en die doderyk het die dode oorgegee wat in hulle was, en hulle is elkeen geoordeel volgens sy werke. En die dood en die hel is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En elkeen wat nie opgeskryf gevind is in die boek van die lewe nie, is in die poel van vuur gewerp.
DIE OPENBARING 20:12-15 Die Boodskap (DB)
Mense wat reeds dood en begrawe was - klein en groot - het voor die troon gestaan. Boeke is toe oopgeslaan. ’n Boek is oopgemaak waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig sal lewe. Daarin is boekgehou van wat die mense alles gedoen het. God het besluit wat met elkeen gaan gebeur op grond van wat in die boek staan. Die mense wat in die see verdrink het, het lewendig geword. Al die mense, hoe hulle ook al dood is, het lewendig geword en voor die troon verskyn. Elkeen moes God se oordeel aanhoor, volgens hoe hy geleef het. Daarna het God die moontlikheid van die dood ook vernietig. Die dood en die doderyk self is in die see van vuurvlamme gegooi. Dit is die tweede dood: om in hierdie see van vlamme verskroei te word. Nou wie presies beland in hierdie vlamme? As jou naam nie in die boek staan waarin die name staan van die mense wat vir ewig sal leef nie, is die vlamme jou voorland!
DIE OPENBARING 20:12-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ’n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat daarin was, en hulle is elkeen geoordeel volgens wat hulle gedoen het. Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood – die poel van vuur. En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.