PSALMS 51:3-12
PSALMS 51:3-12 Bybel vir almal (ABA)
O God, U moet genadig wees vir my, want U doen altyd wat U belowe het. U is altyd jammer vir u mense, daarom moet U nie meer daaraan dink dat ek opstandig was teen U nie. U moet alles wegneem wat ek verkeerd gedoen het. U moet my reinig en my sonde wegwas soos 'n mens iemand skoon was. Ja, ek weet self dat ek opstandig was, ek vergeet nooit my sonde nie. Ek het sonde gedoen teen U, net teen U, ek het dinge gedoen waarvan U nie hou nie. Daarom was U reg toe U gesê het dat ek skuldig is, U het nie 'n fout gemaak toe U my ge-oordeel het nie. Ek weet, ek het verkeerd gedoen vandat ek gebore is, ek was 'n sondaar voordat ek gebore is. Ek weet, U hou van die waarheid, ook in die donker, U leer vir my wysheid waar niemand dit kan sien nie. U moet my reinig van my sonde, soos die priesters dinge reinig met 'n hisop-takkie. U moet my rein maak soos wanneer iemand iets skoon was, so skoon dat dit witter as sneeu is. U het my baie swaar laat kry, maar U moet my weer vrolik en bly maak, U moet my weer laat juig. U moenie na my sonde kyk nie, U moenie dink aan al die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. O God, gee vir my 'n nuwe hart wat rein is, maak my gees in my nuut, sodat ek altyd aan U kan behoort.
PSALMS 51:3-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
PSALMS 51:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit! Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
PSALMS 51:3-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredings uit volgens u groot ontferming. Was my heeltemal skoon van my sondeskuld en reinig my van my sonde want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my. Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel. Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het. Kyk, getrouheid verwag u reeds in die moederskoot, in die verborgenheid leer U my wysheid. Neem my sonde weg met marjolein sodat ek rein kan wees, was my, dan sal ek witter as sneeu wees. Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente wat U verbrysel het, juig. Sluit u oë vir my sonde, en al my sondeskuld, wis dit uit! Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste.
PSALMS 51:3-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ek erken my oortredinge, en my sonde is altyd voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë, sodat U geregverdig kan word as U spreek, en duidelik kan wees as U oordeel. Kyk, ek is gevorm in ongeregtigheid; en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U begeer waarheid in die binneste, en in die verborge sal U my wysheid leer ken. Reinig my met hisop, en ek sal rein word; was my, en ek sal witter wees as sneeu. Laat my blydskap en blydskap hoor; sodat die gebeente wat jy gebreek het, bly kan wees. Verberg u aangesig vir my sondes en wis al my ongeregtighede uit. Skep vir my 'n rein hart, o God; en vernuwe 'n regte gees in my binneste. Verwerp my nie van U aangesig af nie; en neem u heilige gees nie van my af nie. Gee my die vreugde van U verlossing terug; en ondersteun my met u vrye gees.
PSALMS 51:3-12 Die Boodskap (DB)
God, wees my genadig. U het tog u kinders baie lief. Vergewe my al my sonde omdat U u kinders oorlaai met arms vol liefde. Vat my verkeerde dade baie ver van my af weg. Delg die skuld van my sondes uit. Maak my skoon omdat my sondes my vuilgesmeer het. Ek weet dat ek groot foute in u oë gemaak het. Ek kan nie ophou om daaraan te dink nie. My gewete pla my aanmekaar. Ek was baie ongehoorsaam aan U, en dit teenoor U alleen. Maar U sal reg optree as U oor my lewe moet besluit. U sal nie die verkeerde ding doen nie. Vandat ’n mens die dag gebore word, ja, vandat jou ma begin verwag, is verkeerde dinge deel van jou lewe. Ek sien dit in my eie lewe. Vandat my ma my in die wêreld gebring het, dryf iets my om ongehoorsaam aan die Here te wees. U wil hê ’n mens moet altyd eerlik en opreg wees, Here. Ek wil bitter graag weet wat U van my verwag. Hoe wil U hê moet ek lewe? Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here. Kyk op ’n splinternuwe manier na my. Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie. My lewe moet so skoon wees soos die witste wol. Help my om weer opgewonde en bly te wees. Help my om te jubel van vreugde, al het U my swaar gestraf. Moet nooit weer dink aan die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Vat alles weg uit my lewe wat nie reg is in u oë nie. Maak my opreg, God! Maak my van kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie.
PSALMS 51:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid. Was my skoon van my skuld. Reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredings en my sonde is gedurig voor my. Teen U, U alleen, het ek gesondig; ek het gedoen wat vir U verkeerd is. Daarom is u uitspraak reg en u oordeel regverdig. Want ek is as sondaar gebore, en was dit toe my ma swanger geword het. Maar U verwag waarheid in die hart. U leer my om wysheid te besit. Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Gee my tog weer blydskap en vreugde; U het my stukkend gebreek, laat my weer vol vreugde wees. Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit. Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees.