PSALMS 119:129-144
PSALMS 119:129-144 Bybel vir almal (ABA)
Wat U sê, is wonderlik, daarom doen ek wat U sê. Wanneer mense verstaan wat U gesê het, dan is dit vir hulle soos 'n lig, dit wys vir jongmense wat hulle moet doen. Ek is honger vir u gebooie, so honger soos 'n dier wat sy bek wyd oopmaak omdat hy honger is. U moet luister en genadig wees vir my, soos U altyd doen vir die mense wat lief is vir u Naam. U moet my help, sodat ek kan aanhou om te lewe soos U sê. U moenie dat sonde oor my regeer nie, nie een sonde nie. U moet keer, mense moenie vir my verdruk nie, dan sal ek kan doen wat U beveel. U moet naby my wees, naby my, u dienaar, en U moet vir my leer wat u wette sê. My trane loop soos strome water omdat mense nie doen wat U vir ons geleer het nie. Here, U doen reg, U besluit reg. Alles wat U gesê het, is reg, mense kan dit altyd glo. Ek word baie kwaad wanneer my vyande vergeet wat U gesê het. Die dinge wat U sê, is baie waar. Ek, u dienaar, is lief vir wat U sê. Ek is klein en onbelangrik maar ek het nie vergeet wat U beveel het nie. U doen reg en U sal altyd reg doen, die dinge wat U vir ons geleer het, bly dieselfde. Toe ek swaargekry het en toe dit sleg gegaan het met my, was dit vir my lekker om u gebooie te hou. Wat U sê, is altyd reg, U moet my help om dit te verstaan, sodat ek kan aanhou lewe.
PSALMS 119:129-144 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig. Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek. Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet. Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou. Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge. My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge. In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou. My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het. U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief. Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie. U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid. Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging. U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.
PSALMS 119:129-144 Afrikaans 1983 (AFR83)
U verordeninge is wonderlik, daarom kom ek hulle na. Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet. Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. Bevry my van veronregting deur mense. Ek wil u bevele gehoorsaam. Verskyn tog tot my redding, leer my u voorskrifte. My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie. U is regverdig, Here, wat U bepaal, is reg. In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig. Ontsteltenis verteer my omdat my teëstanders u woord verontagsaam. U woord is baie suiwer, ek het dit lief. Al is ek gering en verag, u bevele verontagsaam ek nie. U is altyd getrou en regverdig, u wet staan altyd vas. Al oorval angs en benoudheid my, in u gebooie bly ek my verlustig. U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe.
PSALMS 119:129-144 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie. Regverdig is U, HERE, en u beslissings is reg. U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe.
PSALMS 119:129-144 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
PE. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. Die ingang van u woorde gee lig; dit gee verstand aan die eenvoudiges. Ek het my mond oopgemaak en hyg, want ek het verlang na U gebooie. Kyk na my en wees my genadig, soos jy gewoond was om te doen aan dié wat u Naam liefhet. Volg my voetstappe volgens U woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. Red my van die onderdrukking van mense, so sal ek U bevele bewaar. Laat U aangesig skyn oor u kneg; en leer my U insettinge. Waterstrome loop in my oë af, omdat hulle U wet nie onderhou nie. TZADDI. Regverdig is U, o HERE, en opreg is U oordele. Jou getuienisse wat jy beveel het, is regverdig en baie getrou. My ywer het my verteer, omdat my vyande U woorde vergeet het. U woord is baie rein; daarom het U kneg dit lief. Ek is klein en verag; tog vergeet ek U bevele nie. U geregtigheid is 'n ewige geregtigheid, en u wet is die waarheid. Benoudheid en benoudheid het my aangegryp, maar U gebooie is my behae. Die geregtigheid van U getuienisse is vir ewig; gee my insig, en ek sal lewe.
PSALMS 119:129-144 Die Boodskap (DB)
Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg. Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig, dit vul gewone mense met wysheid. Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe. Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet. Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad. Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie. Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen, sodat ek net kan doen wat U sê. Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen. Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie. Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge. U sê presies vir ons hoe ons moet leef. Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie. U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer! Daarom het ek u Woord so lief. Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie. U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar. Al kom ek vragte vol probleme teë, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink. U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe.
PSALMS 119:129-144 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
U voorwaardes is wonderlik; daarom gehoorsaam ek hulle. Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. My mond is oop en ek snak na asem, want ek verlang na u gebooie. Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet. Rig my treë deur u woord sodat boosheid my nie oorval nie. Red my van menslike verdrukking sodat ek u bevele kan gehoorsaam. Laat u guns oor u dienaar skyn; leer my al u voorskrifte. Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag. HERE, U is regverdig, en u oordele is reg. U vereistes is regverdig; dit is baie betroubaar. My ontsteltenis oorweldig my, want my vyande verontagsaam u woorde. U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief. Al is ek gering en verag, ek misken nie u bevele nie. U regverdigheid duur vir altyd, en u gebooie is betroubaar. Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde. U vereistes is altyd regverdig; gee my insig sodat ek kan lewe.