FILIPPENSE 3:1-14

FILIPPENSE 3:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Daar is nog iets wat ek vir julle wil sê. My vriende, julle moet bly wees, want julle behoort aan die Here! Dit maak my nie moeg om dieselfde dinge weer en weer vir julle te skryf nie, want dit is goed vir julle. Julle moet oppas vir daardie slegte mense wat vir julle verkeerde dinge leer! Julle moet oppas vir daardie mense wat slegte dinge doen! Julle moet oppas vir daardie mense wat altyd almal wil besny! Ons het die regte besnydenis, want die Gees van God help ons om vir God te dien. Ons is trots op Christus Jesus, en ons het self dinge reggekry, maar ons weet daardie dinge sal ons nie red nie. Ek kan praat oor baie dinge in my lewe. Ander mense dink hierdie dinge kan 'n mens red. Hulle dink hulle kan praat oor baie dinge in hulle lewens, maar ek kan oor baie meer praat: My ouers het my laat besny toe ek ag dae oud was. Ek behoort aan die volk Israel, ek behoort aan die Benjamin-stam, ek is 'n ware Jood, en ek was 'n Fariseër wat alles gedoen het wat die wette sê. Die Joodse godsdiens was vir my so belangrik dat ek die kerk van God wou verwoes. Ek het gedink God sal my vryspreek van my sonde, want ek het alles gedoen wat die wette sê. Ja, ek het gedink al hierdie dinge is baie belangrik, maar ek het in Christus begin glo, en toe het ek besef dit alles beteken niks! Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry! Ek behoort nou aan Christus. God het my vrygespreek omdat ek in Christus glo, nie omdat ek doen wat die wette sê nie, maar omdat ek glo. Nou ken ek Hom en ek voel sy krag in my lewe, die krag wat Hom weer laat lewe het. Ek kry ook swaar, soos Hy swaargekry het. Ja, ek sterf soos Hy gesterf het, en ek glo dat God my ook weer kan laat lewe nadat ek gesterf het. Ek sê nie dat ek hierdie nuwe lewe al klaar het nie of dat ek al klaar is wat ek moet wees nie. Maar ek sal aanhou probeer om dit te kry, want Christus Jesus het gesê ek behoort aan Hom. Vriende, ek dink nie dat ek dit al klaar alles gekry het nie, maar een ding is vir my belangrik: Ek vergeet al die dinge wat verby is, en ek dink net aan die dinge wat nog sal gebeur. Ek is soos iemand wat resies hardloop om 'n prys te wen. Die prys is om in die hemel te kom, want God het my gekies en ek behoort aan Christus Jesus.

FILIPPENSE 3:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid. Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie; alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; wat ywer betref, 'n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

FILIPPENSE 3:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

FILIPPENSE 3:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Verder, my broers, wees bly in die Here. Om dieselfde dinge aan julle te skryf, is nie vir my moeite nie, en aan julle gee dit vastigheid. Waak teen die honde! Waak teen die kwaadstokers! Waak teen die afsnyding! Want ons is die besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op •Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie, al het ek self rede om op menslike dinge te vertrou. As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer – Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n •Fariseër, wat ywer betref, 'n vervolger van die •kerk, wat •geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.

FILIPPENSE 3:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ten slotte, my broers, verbly julle in die Here. Om dieselfde dinge aan jou te skryf, is vir my weliswaar nie swaar nie, maar vir jou is dit veilig. Pasop vir honde, pasop vir bose werkers, pasop vir die beknoptheid. Want ons is die besnydenis, ons wat God in die gees aanbid en in Christus Jesus verheug en nie op die vlees vertrou nie. Al kan ek ook op die vlees vertrou. As iemand anders meen dat hy iets het waarop hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer: Op die agtste dag besny, uit die geslag van Israel, van die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; Wat ywer betref, die vervolging van die gemeente; wat die geregtigheid aanraak wat in die wet is, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek vir Christus skade geag. Ja, ongetwyfeld, en ek ag alles maar skade weens die voortreflikheid van die kennis van Christus Jesus, my Here; vir wie ek alles verloor het en dit as mis beskou, om Christus te wen, en in Hom gevind word, nie met my eie geregtigheid wat uit die wet is nie, maar wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof. Sodat ek Hom kan ken, en die krag van sy opstanding en die gemeenskap van sy lyde, wat aan sy dood gelykvormig gemaak word; As ek op enige manier die opstanding van die dooies kan bereik. Nie asof ek alreeds bereik het nie, of ek al volmaak is nie; maar ek jaag daarna, as ek dit kan begryp waarvoor ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken my nie as gevat nie; maar hierdie een ding doen ek, en vergeet die dinge wat agter is, en reik uit na die dinge wat voor is, Ek jaag na die punt vir die prys van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

FILIPPENSE 3:1-14 Die Boodskap (DB)

Liewe broers en susters, voor ek klaar is, is daar nog iets belangriks wat ek vir julle wil sê: moenie dat enigiets julle onderkry nie. Wees altyd oortuigend en opgeruimd. Julle is mos Christene wat die Here ken. Dit pla my nie om dieselfde dinge weer ’n keer aan julle te skryf nie. Dit kan mos nie kwaad doen nie, maar so sal julle net sekerder van julle saak word. Wees baie versigtig vir daardie skelms wat maak asof hulle vir Jesus werk, maar eintlik net die teenoorgestelde doen. Kyk hoe sleg tree hulle op. Dit wys mos vir julle wat hulle ware gedaante is. Oppas, al waarin daardie mense belangstel, is om julle te dwing om Joodse gebruike na te kom, soos om julle te laat besny. Moenie julle daaraan steur nie. Ons, die Christene, weet mos wat regtig saak maak. Dit hang nie af van wat mense aan jou doen nie, maar wat God aan jou doen. God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê. Dit is nie sommer net iets fisieks wat met ons gebeur (soos met die Joodse gebruike) nie, maar God se Gees verander ons hart. Wanneer ons met God praat en Hom dien, weet ons dat dit sy Gees is wat ons help. Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het. As dit wat God aan jou doen iets is wat regtig saak maak, staan ek nie ’n duim vir die ander terug nie. Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net. Ek is deur en deur ’n Israeliet. Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word, is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom. In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie. Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het. Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor. Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap. Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort.

FILIPPENSE 3:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verder, my broers en susters, wees bly omdat julle aan die Here verbind is. Om weer hieroor vir julle te skryf maak my nie moeg nie, en vir julle gee dit duidelikheid. Pas op vir daardie rondloperhonde, pas op vir daardie kwaaddoeners, pas op vir die mense van die versnydenis! Ons wat God deur sy Gees dien, het mos klaar die ware besnydenis. Ons beroep ons op wat Christus Jesus gedoen het en nie op menslike dinge nie. Nietemin sou ek ook op menslike dinge kon vertrou. As iemand meen om op menslike dinge te vertrou, ek nog méér! Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik! Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg. Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef! Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.