MARKUS 5:1-13

MARKUS 5:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het by die ander kant van die see in die land van die Geraseners aangekom. Toe Jesus uit die boot klim, het 'n man van die grafte af gekom en reguit na Jesus toe gegaan. Daar was 'n onrein gees in die man, die man het gedoen wat die onrein gees vir hom sê. Hierdie man het tussen die grafte gewoon. Niemand kon hom vasbind nie, ook nie met 'n ketting nie. Die mense het baie maal sy hande en sy voete vasgebind, maar hy het die kettings en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom vashou nie. Hy het altyd tussen die grafte en in die berge geloop, elke dag en nag. Hy het geskree en hy het homself stukkend gekap met klippe. Toe Jesus nog ver van hom was, het hy Jesus gesien. Hy het na Jesus toe gehardloop en hy het voor Hom gekniel. Jesus het gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Die man het hard geskree: “Wat wil U van my hê, Jesus, Seun van die Hoogste God? Ek vra vir U: Moenie vir my seermaak nie. Belowe dit voor God.” Jesus vra toe vir hom: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “My naam is Legioen, want ons is baie onrein geeste.” Hy het aangehou om vir Jesus baie ernstig te vra om die onrein geeste nie weg te stuur uit die land nie. 'n Groot klomp varke het teen die berg gewei. Die onrein geeste het vir Jesus gesoebat en gesê: “Stuur ons asseblief na die varke toe sodat ons in hulle kan ingaan.” Jesus het gesê hulle mag gaan. Die onrein geeste het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Daar was omtrent 2 000 varke. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink.

MARKUS 5:1-13 Die Boodskap (DB)

So het hulle by die oorkant van die see aangekom. Die Geraseners het in daardie gebied gebly. Jesus het skaars uit die skuit geklim of ’n man met ’n demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens meer met kettings vasbind nie. Hulle het probeer om sy hande en voete met kettings te boei, maar dit het niks gehelp nie. Hy het dit uitmekaargeruk. Die bloedstollende gille van die man het dag en nag oor die grafte en tussen die heuwels weerklink terwyl hy homself met skerp klippe stukkend kap. Hy het Jesus van ver af sien aankom en dadelik na Hom toe gehardloop. Hy het op sy knieë voor Jesus neergesak. So hard as wat hy kon, het hy geskree: “Seun van die grote God, wat kom soek U hier? Ek smeek U, moet my nie pynig nie.” Jesus sê toe vir die bose gees: “Gee pad uit hierdie man uit, jou slegte gees. Maar sê eers vir My jou naam.” “My naam is Legio, want ons is baie,” kom die antwoord. Die slegte gees het Jesus gesmeek en gesoebat om hulle nie uit daardie area te verwilder nie. ’n Entjie daarvandaan teen die skuinste was daar ’n trop varke. Die demone smeek Jesus toe: “Asseblief, ons vra mooi, as U ons uit die man jaag, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.” Skaars het Jesus hulle toegelaat of hulle is uit die man in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, teen die skuinste af, die see in. Daar was omtrent 2 000 en die laaste een van hulle het versuip.