MARKUS 1:14-28

MARKUS 1:14-28 Bybel vir almal (ABA)

Koning Herodes het vir Johannes laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Daarna het Jesus na Galilea gekom en Hy het vir die mense God se goeie boodskap gebring. Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.” Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy het gesien Simon en sy broer Andreas gooi hulle visnette in die see, want hulle was vissermanne. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.” Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. Toe Jesus 'n bietjie verder geloop het, sien Hy vir Jakobus en sy broer Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in hulle boot besig om die visnette reg te maak. Jesus het hulle ook dadelik geroep om saam te kom. Hulle het hulle pa, Sebedeus, en die vissermanne wat vir hom gewerk het, in die boot gelos, en hulle het saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer. Die mense was baie verbaas oor hoe Jesus vir hulle geleer het, want hulle het besef dat dit van God kom. Jesus het vir hulle nie geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie. Skielik kom daar toe in hulle sinagoge 'n man, daar was 'n onrein gees in hom, en die gees het geskree: “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is: U is die Heilige wat van God kom.” Jesus het met die onrein gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!” Die onrein gees het die man op die grond laat val en die man het geruk en geskop. Die gees het hard geskree en hy het toe uit die man uitgegaan. Almal was baie verbaas en hulle het aangehou praat daaroor. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur? Hierdie man leer vir die mense iets wat anders is. Dit kom van God. Hy sê ook vir die onrein geeste wat hulle moet doen, en hulle is gehoorsaam aan hom.” Die mense het oral in die hele provinsie Galilea gepraat oor wat Jesus gedoen het.

MARKUS 1:14-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word. En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg. En toe Hy daarvandaan 'n bietjie verder gaan, sien Hy Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, wat besig was om die nette in die skuit heel te maak. En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg. EN hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa.

MARKUS 1:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan. Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

MARKUS 1:14-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.” Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. Hy het 'n entjie verder geloop en Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die boot besig was om nette heel te maak. Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle vader Sebedeus met die huurarbeiders in die boot agtergelaat, en weggegaan agter Hom aan. Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie. Juis toe was daar in hulle sinagoge 'n man in die mag van 'n •onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God!” Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, kliphard geskreeu en uit hom uit gegaan. Almal was verbaas, en het daarom onder mekaar geredeneer: “Wat is dit dié – 'n nuwe gesaghebbende lering? Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom!” Die nuus oor Hom het dadelik oral in die hele omgewing van Galilea versprei.

MARKUS 1:14-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat Johannes in die tronk gesit is, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. En terwyl hy langs die see van Galilea loop, sien hy Simon en sy broer Andreas besig om 'n net in die see uit te gooi, want hulle was vissers. En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En dadelik het hulle hul nette verlaat en Hom gevolg. En toe hy 'n entjie verder daarvandaan gegaan het, sien hy Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, sy broer, wat ook in die skip besig was om hulle nette reg te maak. En hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hul vader Sebedeüs saam met die huurlinge in die skip agtergelaat en agter hom aan gegaan. En hulle het na Kapernaum gegaan; en dadelik op die sabbatdag het Hy in die sinagoge ingegaan en geleer. En hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onrein gees; en hy het uitgeroep, en gesê: Laat ons staan; wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? kom jy om ons te vernietig? Ek ken U wie U is, die Heilige van God. En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit. En toe die onrein gees hom verskeur en met 'n groot stem uitroep, het hy uit hom uitgegaan. En hulle was almal verbaas, sodat hulle onder mekaar gevra het en gesê het: Wat is dit? watter nuwe leerstelling is dit? want met gesag beveel Hy selfs die onreine geeste, en hulle is Hom gehoorsaam. En dadelik het sy roem versprei in die hele gebied rondom Galilea.

MARKUS 1:14-28 Die Boodskap (DB)

’n Rukkie daarna is Johannes in die tronk gestop. Jesus is toe terug Galilea toe en het vir mense begin vertel watter goeie nuus God vir hulle het. “Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.” Op ’n dag het Jesus langs die See van Galilea gestap. Daar kry Hy twee vissermanne wat besig was om hulle nette in die see te gooi. Dit was twee broers, Simon en Andreas. “Kom saam met My. Ek sal julle wys om op ’n ander manier vissers te wees, nie van vis nie, maar van mense, sê Jesus toe.” Hulle los toe alles net so en is saam met Hom. ’n Entjie verder sien hulle nog twee broers aan die werk om die nette reg te kry. Hulle was Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Jesus nooi hulle toe ook daar en dan saam. Sonder om te huiwer is hulle ook agter Jesus aan. Hulle pa, Sebedeus, en die mense wat vir hom gewerk het, het alleen in die boot agtergebly. Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie. Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.” “Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit. Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor.

MARKUS 1:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!” Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep. Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!” En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan. ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak. Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!” Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!” Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.