MATTEUS 5:5-15
MATTEUS 5:5-15 Bybel vir almal (ABA)
Mense wat nederig is en wat op God vertrou, nie op hulleself nie, is gelukkige mense, want God sal vir hulle die aarde gee. Mense wat baie graag wil doen wat God wil hê, is gelukkige mense, want God sal vir hulle help om alles te doen wat Hy wil hê. Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense. God sal vir hulle ook goed wees. Mense wat net vir God dien, is gelukkige mense, want hulle sal God sien. Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders. Wanneer mense doen wat God wil hê, en ander mense doen slegte dinge aan hulle, dan is hulle gelukkige mense. God wat in die hemel is, is hulle Koning. “Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees. Die mense het ook slegte dinge gedoen aan die profete wat voor julle gelewe het.” “Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop. “Julle is vir die wêreld soos lig wat skyn. As 'n stad bo-op 'n berg lê, dan kan al die mense die stad sien. So steek 'n mens ook nie 'n lamp op en maak dit dan toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander, en die lig skyn sodat almal in die huis kan sien.
MATTEUS 5:5-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het. JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
MATTEUS 5:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.
MATTEUS 5:5-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Gelukkig is dié wat honger en dors na •geregtigheid, want hulle sal versadig word. Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang. Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.” “Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis.
MATTEUS 5:5-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Geseënd is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word. Salig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid verkry. Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Geseënd is die wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek, om My ontwil. Verheug julle en wees baie bly, want julle loon is groot in die hemel; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle was. Julle is die sout van die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit gesout word? dit is van nou af vir niks goed nie, behalwe om uitgewerp te word en onder die voete van mense vertrap te word. Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n heuwel lê, kan nie weggesteek word nie. 'n Mens steek ook nie 'n kers op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n kandelaar; en dit gee lig vir almal wat in die huis is.
MATTEUS 5:5-15 Die Boodskap (DB)
“Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort. “Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat. “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee. “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien. “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is. “Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. “Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.” “Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. “Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie.
MATTEUS 5:5-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig. Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor húlle ontferm. Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien. Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders.’ Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.” “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word. “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.