MATTEUS 24:1-51

MATTEUS 24:1-51 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus uit die tempel kom en wegstap, het sy dissipels na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom die geboue van die tempel gewys. Maar Jesus het vir hulle gevra: “Sien julle al hierdie geboue? Ek sê vir julle, en dit is seker: Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.” Jesus het op die Olyf-berg gaan sit. Die dissipels het toe na Hom toe gekom, en hulle was alleen. Hulle het vir Hom gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur waarvan U gepraat het? Watter teken sal vir ons wys dat U sal kom en wanneer dit die einde van die wêreld sal wees?” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie, want baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ En hulle sal baie mense bedrieg. Julle sal hoor daar is oorlog, naby julle of ver van julle. Pasop, julle moenie skrik wanneer julle dit hoor nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is dan nog nie die einde van alles nie. Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land veg. Mense sal min kos hê om te eet. Daar sal ook aardbewings op baie plekke wees. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry. Dan sal mense julle vir ander mense gee, en daardie mense sal julle verdruk en doodmaak. Al die volke sal julle haat omdat julle aan My behoort. Dan sal baie mense ophou om in My te glo. Hulle sal mekaar verraai en hulle sal mekaar vir die vyand gee. Hulle sal mekaar haat. Daar sal baie vals profete kom en hulle sal vir baie mense verkeerd leer. Meer en meer mense sal nie doen wat God se wette sê nie, en daarom sal die liefde van die meeste mense min word. Maar as iemand tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God hom red. In die hele wêreld sal mense hierdie goeie boodskap bring, die boodskap dat God Koning is. Al die volke sal dit kan hoor. Daarna sal die einde van die wêreld kom.” Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan in die gewyde plek. Die profeet Daniël het daaroor geskryf. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. Iemand wat op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers iets in die huis gaan haal nie. En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Julle moet bid dat julle nie in die winter of op 'n Sabbatdag sal moet vlug nie. In daardie tyd sal mense baie swaar kry. Tot vandag toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal groot tekens wys en wonderwerke doen. God het mense gekies, en die vals profete sal probeer om ook daardie mense verkeerd te laat doen. Maar die vals profete sal dit nie regkry nie. Julle moet luister, Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ dan moet julle nie daarnatoe gaan nie. En as hulle vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in 'n kamer!’ dan moet julle dit nie glo nie. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos wanneer die weerlig van die ooste tot in die weste skyn. Al die mense sal weet dat Ek kom, soos mense weet dat daar 'n dooie liggaam is wanneer hulle sien die aasvoëls kom bymekaar.” Jesus het gesê: “En nadat mense die gelowiges verdruk het, sal dit nie lank wees nie, “ dan sal die son donker word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die lug val en alles in die lug sal skud. “Dan sal mense 'n teken in die lug sien wat sal wys dat Ek, die Seun van die mens, kom. En die volke van die aarde sal huil en treur. Almal sal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Wanneer iemand die groot trompet blaas, dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.” Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos in die tyd van Noag. Want in daardie dae voor die watervloed het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. En hulle het nie geweet wat gebeur het nie, totdat die watervloed gekom het en alles weggespoel het. So sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die mens, kom. Dan sal twee mense in 'n koringland werk, en God sal die een mens kies maar nie die ander een nie. Twee vroue sal met dieselfde maalklippe koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie. Julle moet wakker wees, want julle weet nie op watter dag julle Here sal kom nie. “Maar julle moet dit weet: As die eienaar van 'n huis weet hoe laat in die nag 'n dief sal kom, dan sal hy wakker bly en nie toelaat dat die dief by sy huis inbreek nie. Daarom moet julle ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.” Jesus het ook gesê: “Ek wil vir julle vertel hoe is 'n slaaf wat verstandig is en wat doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om die hoof te wees oor al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien die slaaf is besig om alles te doen wat hy vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slegte slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. Dan begin hierdie slaaf die ander slawe slaan en hy eet en drink saam met die slegte mense wat altyd dronk is. En eendag kom die eienaar van die slaaf skielik terug, hy kom wanneer die slegte slaaf dit nie verwag nie, en nie weet hoe laat die eienaar kom nie. Dan sal die eienaar daardie slegte slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat skynheilig is. Die slegte slaaf sal saam met hulle huil en hard op sy tande byt van die pyn.”

MATTEUS 24:1-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie. En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. EN dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan. En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie. WIE is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom — en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie en op 'n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

MATTEUS 24:1-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” “Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. Bid dat julle nie in die winter of op 'n sabbatdag hoef te vlug nie, want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie. Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig. “Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.” “Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.” “Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as dit 'n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink. Die eienaar van daardie slaaf sal op 'n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

MATTEUS 24:1-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.” Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het die dissipels na Hom gekom en Hom eenkant gevra. “Sê vir ons,” het hulle gevra, “wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd? ” Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, ‘Ek is die Christus!’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.” “Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan om besittings uit sy huis te gaan haal nie; en wie op die landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat julle nie in die winter en op die Sabbat sal moet vlug nie; want dan sal daar groot verdrukking wees, soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nog nie was nie, en beslis ook nie weer sal wees nie. As daardie dae nie ingekort word nie, sou geen mens gered word nie. Maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae ingekort word.” “ As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Hier is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vooruit vir julle gesê. As hulle dan vir julle sê, ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moenie daarheen gaan nie, of ‘Kyk, Hy is in die binneste kamers!’ moet dit nie glo nie. Want net soos die weerlig uitslaan in die ooste en skyn tot in die weste, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls versamel. “Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. ’ “Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid. Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander. ” “Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees. “Dan sal daar twee op die land wees – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee sal by die meule maal – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. “ Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” “Wie is dan die betroubare en verstandige slaaf vir wie die eienaar aangestel het oor sy huishouding om vir hulle op tyd kos te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. As die slegte slaaf egter in sy hart sê, ‘My heer talm,’ en hy begin sy medeslawe slaan, en hy eet en drink saam met die dronkes, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die skynheiliges. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ”

MATTEUS 24:1-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Jesus het uitgegaan en van die tempel af weggegaan, en sy dissipels het na Hom gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle nie al hierdie dinge nie? Voorwaar Ek sê vir julle, hier sal nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie. En terwyl Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees? en wat sal die teken wees van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus; en sal baie mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë; pas op dat julle nie verskrik word nie, want al hierdie dinge moet gebeur, maar die einde is nog nie. Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Dit alles is die begin van smarte. Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie aanstoot neem en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mislei. En omdat die ongeregtigheid toeneem, sal die liefde van baie verkoel. Maar hy wat volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom; laat hy wat lees, verstaan! Laat dan die wat in Judéa is, die berge in vlug. Laat hom wat op die dak is, nie afkom om iets uit sy huis te neem nie. Laat hom wat in die veld is, ook nie terugkom om sy klere te neem nie. En wee die swangeres en die wat soog in daardie dae! Maar bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbatdag sal wees nie. Want dan sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie was en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort word nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is Christus of daar; glo dit nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen; in soverre dat hulle, as dit moontlik was, die einste uitverkorenes sal mislei. Kyk, ek het jou al voorheen gesê. Daarom, as hulle vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn; gaan nie uit nie; kyk, hy is in die skuilkamers; glo dit nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitgaan en tot in die weste skyn; so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want waar die aas ook al is, daar sal die arende versamel word. Onmiddellik na die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf, en hulle sal die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met 'n groot basuingeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemel tot die ander einde. Leer nou 'n gelykenis van die vyeboom; Wanneer sy tak nog sag is en blare uitspruit, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, selfs voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal nie verbygaan voordat al hierdie dinge vervul is nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nie verbygaan nie. Maar van daardie dag en uur weet niemand nie, ook nie die engele van die hemel nie, maar my Vader alleen. Maar soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want soos in die dae voor die sondvloed, het hulle geëet en gedrink, getrou en in die huwelik gegee, tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, En dit het nie geweet totdat die vloed gekom en hulle almal weggeneem het nie; so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal twee in die veld wees; die een sal gevat en die ander een verlaat word. Twee vroue sal by die meul maal; die een sal gevat en die ander een verlaat word. Waak dan, want julle weet nie watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die eienaar van die huis geweet het in watter wagtyd die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie toegelaat het dat sy huis afgebreek word nie. Daarom, wees julle ook gereed, want op 'n uur as julle dit nie dink nie, kom die Seun van die mens. Wie is dan 'n getroue en wyse dienskneg wat sy heer oor sy huisgesin aangestel het om hulle op die regte tyd voedsel te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom aanstel as heerser oor al sy besittings. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om sy medediensknegte te slaan en saam met die dronkgesindes te eet en te drink; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur wat hy nie weet nie, en sal hom uitsny en hom sy deel aan die geveinsdes bepaal; daar sal geween wees en gekners van die tande.

MATTEUS 24:1-51 Die Boodskap (DB)

Daarna is Jesus-hulle daar weg. Terwyl hulle so by die tempel verbystap, praat sy dissipels oor hoe mooi en massief die gebou is. Jesus sê toe: “Ja-nee, dit is darem ’n groot en pragtige gebou. Maar Ek het slegte nuus. Hierdie gebou gaan een van die dae tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie ’n baksteen wees wat op sy regte plek gelos gaan word nie.” Terwyl hulle in die Olyfberg se rigting stap, vra Jesus se dissipels Hom: “Wat sal die teken wees dat ons kan weet: die einde is hier; maak gereed, die Messias is finaal op pad?” “Wees versigtig vir mense wat allerhande stories hieroor gaan versin,” sê Jesus toe vir hulle. “Sulke mense sal sommer skielik van êrens af kom en vir almal vertel dat dié een of daardie een die eintlike Messias is. En hulle sal dit regkry om baie mense te flous. Moenie sê Ek het julle nie gewaarsku nie. “Aan mense wat mekaar wil uitwis, sal daar ook nie ’n einde kom nie. Julle sal nie net die nuus kry van die mense wat oorlog maak nie. Dit sal so naby aan julle kom dat julle die mense self sal kan hoor veg. Moenie dan paniekerig word nie. Hierdie dinge gaan gebeur, maar dit is nog nie die teken dat die einde daar is nie. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser ontslae probeer raak. Soos vroeër sal daar ook tye wees dat kos baie skaars gaan raak en op baie plekke sal daar aardbewings wees. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie! “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie. Die goeie nuus van God moet en sal uitkom vir almal om te hoor. Oor die hele wêreld sal dit weergalm. Dit sal by elke nasie uitkom. “Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken.” “As julle in die tempel daardie veragtelike ‘ding’ sien staan wat alles net wil vernietig, moet julle vinnig padgee. Die ‘ding’ is so veragtelik dat Ek nie eens sy naam wil noem nie. Die profeet Daniël het oor hierdie ‘ding’ geskryf. As julle lees wat hy geskryf het, sal julle verstaan wat Ek bedoel. “As julle in daardie stadium in die omgewing van Jerusalem is, moet julle so gou moontlik in die heuwels gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers weer in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie eers mooi gaan aantrek nie; maak net dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat dan babas verwag of klein babatjies het. Hulle gaan swaarkry! Vra God dat julle nie in die koue van die winter of op die sabbat hoef te vlug nie. Julle wêreld gaan heeltemal deurmekaargekrap word. Mense sal swaarkry soos nog nooit tevore nie. En as hulle kan uithou tot die einde, sal dit net-net wees. Gelukkig sal God die einde op die regte tyd laat kom, anders sal niemand dit haal nie. “As iemand julle dan wil wysmaak dat dit die Christus is wat kom, lag hom uit. Moenie ’n woord glo wat hy sê nie. Daar sal mense kom wat sal voorgee dat hulle die ware Messias is. Hulle gaan almal probeer oortuig dat hulle manne van God is. Dit gaan ook nie net by praat bly nie. O nee! Glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat mense beïndruk om hulle gaan saamdrom. Hulle sal dit selfs regkry om God se mense ’n rat voor die oë te draai. Maar oppas, dit alles is leuens. Ek waarsku julle nou voor die tyd. Moenie dat julle deur hulle op loop gesit word nie. As die mense dus opgewonde skreeu: ‘Kom, Christus is daar buite die stad op ’n verlate plek,’ moenie julle daaraan steur nie; moenie eens moeite doen om te gaan nie. Of as hulle julle roep: ‘Kom gou, Hy kruip hier in die hart van die stad weg,’ glimlag net vir hulle en gaan julle gang. Die Seun van God sal nie skelm of in die geheim kom en iewers wegkruip sodat mense Hom moet gaan soek nie. Wees verseker: wanneer Hy kom, sal almal, en Ek bedoel almal, dit weet. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en ’n mens dan alles vir daardie oomblik helder kan sien. So helder en duidelik sal almal die Seun ook sien wanneer Hy kom. Moenie julle laat kul deur die baie mense wat agter hierdie bedrieërs aanloop nie. Waar baie mense saamdrom, kry jy nie noodwendig die waarheid nie. Immers, aasvoëls kom ook in groot troppe rondom vrot vleis bymekaar.” “Daardie swaarkry sal skaars verby wees of die son sal skielik dowwer word, en die maan sal glad nie meer opkom nie. Die sterre sal uit die hemel val en die natuurwette wat die skepping beheer, sal hulle krag verloor. Hierdie dinge is die teken waarvoor julle moet wag. Dan sal die Seun soos ’n weerligstraal kom. Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie oral openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil en uitskreeu: ‘Wat het ons besiel om nie te luister nie, wat het ons aangevang!’ Terselfdertyd sal die Seun se hemelse helpers al God se mense oor die hele wêreld gaan haal en na Hom toe bring. “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is. Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is. “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie. Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan. “As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit. “Maar laat Ek julle ten minste nog ’n voorbeeld gee. Miskien help dit. Julle almal ken die verhaal van Noag. Terwyl Noag aan die ark geswoeg het, het die ander mense doodnormaal geleef asof niks gaan gebeur nie. Hulle het hulle aan niks anders gesteur as aan die alledaagse dinge soos wat daar te ete is of wie met wie trou nie. As jy na hulle gekyk het, het dit gelyk asof daar geen probleme was nie. Toe klim Noag in die ark, en dit het hulle ook nie beïndruk nie. Hulle het net gestaan en wonder waarom Noag nou so iets doen. Toe begin die reën val en val. Alles spoel later weg; hulle huise, diere en uiteindelik ook hulle self. Die koms van die Seun sal mense wat voortgaan asof niks gaan gebeur nie, ook so verras. Twee mans sal op dieselfde land werk - die een sal gereed wees vir die Seun se koms en die ander een nie. Daarom sal Jesus die een saamneem en die ander een los. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Jesus sal die een kom haal en die ander een los. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat die Here jou saamneem wanneer Hy kom. “Dit beteken dat julle altyd gereed moet wees. Julle vra hoekom. Weet die eienaar van ’n huis miskien wanneer ’n dief by hom gaan inbreek? Natuurlik nie, want dan sou hy hom mos kon voorlê en keer dat hy inbreek. Dan sou daar nie so iets soos diefstal gewees het nie. Maar dit gebeur nie so nie. Die dief kom wanneer die eienaar dit nie verwag nie. Net so sal dit gaan met die koms van die Here. Daarom moet julle maar altyd gereed wees. Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees. “Laat Ek vir julle nog ’n voorbeeld gee. Watter soort werker sal ’n voorman van ’n fabriek gewoonlik die graagste oor die ander wil aanstel? Dit is die persoon wat hard werk, of die voorman daar is om dit te sien of nie. Hy weet wat om te doen en doen dit. So ’n werker sal goed beloon word. Uiteindelik sal hy oor die hele fabriek aangestel word. ’n Werker wat egter nooit gaan vorder nie, is die hopelose een wat net die hele tyd die voorman dophou. As die voorman wegkyk, hou hy op werk. As die voorman lank weggaan, maak hy nog meer droog, drink selfs in werkstyd en pla die hele tyd die ander werkers in hulle werk. Daardie werker gaan ontnugter word. Op ’n dag, as hy so dronk daar sit en die ander pla, gaan die voorman instap. Dit sal natuurlik wees wanneer hy dit die minste verwag. Dan gaan die poppe behoorlik dans. Daardie werker gaan alles verloor wat hy gehad het. Wanneer die Here weer kom en Hy kry mense so onvoorbereid soos daardie hopelose werker, is daar vir hulle geen hoop meer oor nie. Die hel is hulle voorland. Daar sal hulle krul van die pyn en skreeu van smart.”

MATTEUS 24:1-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.” Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?” Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring. Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word. “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.” “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak en waarvan die profeet Daniël gepraat het, in die tempel sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers in die huis ingaan om in te pak nie. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie! En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie. Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.” “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie. Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku. As mense dan vir julle sou sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn,’ moenie gaan kyk nie. Of as hulle sou sê: ‘Kyk, Hy kruip in ’n geheime plek weg,’ moet hulle nie glo nie. Want soos die weerlig in die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom. Net soos ’n versameling aasvoëls die teenwoordigheid van ’n karkas aandui, so sal hierdie tekens wys dat die einde naby is.” “Onmiddellik na hierdie tyd van swaarkry ‘sal die son donker word, en die maan nie meer lig gee nie. Die sterre sal van die hemel val en die kragte wat die hemelruim saambind, sal geskud word.’ “Dan uiteindelik sal daar ’n teken teen die hemel verskyn om aan te dui dat Ek, die Seun van die Mens, aan die kom is. Daarop sal al die nasies van die aarde geskok en ontsteld wees. Hulle sal My, die Seun van die Mens, met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom. Ek sal my engele met die magtige klank van ’n basuin uitstuur en hulle sal my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaarmaak, ja, selfs vanaf die verste uithoeke van die wêreld.” “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, besef julle dat die somer op hande is. Net so kan julle, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die einde op hande is. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.” “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader. “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag. Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het. Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees. “Twee persone sal saam op die land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word. Twee vroue sal saam by die meul koring maal. Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word. Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie. “Julle besef tog goed, as ’n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ’n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” “Wie van julle sal dan soos die betroubare en verstandige slaaf wees aan wie die huisheer die verantwoordelikheid toevertrou om sy huishouding te bestuur en aan sy mense hulle kos op die regte tyd te gee? As die huisheer terugkom en vind dat daardie slaaf sy plig goed uitgevoer het, sal hy hom goed beloon. Ek verseker julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as die slaaf sleg is en by homself redeneer: ‘Dis nog lank voordat my huisheer kom,’ en hy begin die ander slawe aanrand en saam met die drinkers fuifpartye hou, sal die heer van daardie slaaf terugkom op ’n dag en tyd waarop hy nie voorbereid is nie. Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”