LUKAS 20:1-47

LUKAS 20:1-47 Bybel vir almal (ABA)

Jesus was eendag by die tempel besig om vir die mense te leer. Hy het vir hulle die goeie boodskap gebring dat God Koning is. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes saam met die familieleiers het na Hom toe gekom en hulle het vir Hom gevra: “Hoekom dink jy dat jy hierdie dinge mag doen? Wie het gesê jy mag dit doen?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal vir julle ook 'n vraag vra, en dan moet julle vir My antwoord. Johannes die Doper het mense gedoop. Wie het hom gestuur om dit te doen? Was dit God, of was dit mense?” Die Joodse leiers het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’ Maar ons kan ook nie sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop’ nie. As ons dit sê, dan sal al die mense ons met klippe wil doodgooi, want hulle het geglo Johannes is 'n profeet.” Daarom het hulle vir Jesus gesê hulle weet nie wie vir Johannes gestuur het nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.” Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “'n Man het 'n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy 'n lang tyd weggegaan. Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy 'n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het nog 'n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het toe 'n derde slaaf gestuur. Maar die mense het hierdie slaaf ook seergemaak en hom weggejaag. Toe het die eienaar van die wingerd gesê: ‘Wat moet ek nou doen? Ek is baie lief vir my seun, ek sal hóm na hulle toe stuur. Hulle sal miskien my seun respekteer.’ Toe die mense die eienaar se seun sien, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan vat ons alles vir onsself.’ Hulle het die eienaar se seun uit die wingerd gejaag en hulle het hom doodgemaak. Wat dink julle, wat sal die eienaar van die wingerd met die mense doen? Hy sal kom en hy sal daardie mense doodmaak. Hy sal die wingerd vir ander mense gee.” Toe sê die mense: “Nee, dit sal nooit gebeur nie! Hierdie wingerd sal nooit aan ander mense behoort nie!” Jesus het ernstig na hulle gekyk en gesê: “Wat beteken hierdie woorde in die Psalms: “ Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. Elkeen wat oor daardie klip val, sal sy bene breek en sterf. En as daardie klip op iemand val, dan sal die klip so iemand doodval?” Die skrifgeleerdes en die priesterleiers het toe dadelik probeer om Jesus te laat vang en toe te sluit. Hulle het geweet Hy het die gelykenis vertel om te wys hulle is soos daardie mense. Maar hulle was bang vir die mense, daarom het hulle nie vir Jesus gevang nie. Die leiers van die Jode het baie goed gekyk wat Jesus doen. Hulle het spioene na Jesus toe gestuur. Die spioene het gemaak of hulle graag meer van Jesus wou leer. Die leiers wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, sodat Hy probleme kan kry. Dan kan hulle Hom vang en vir die Romeinse regering gee, sodat hulle Hom kan straf. Die spioene het toe vir Jesus gevra: “Meneer, ons weet die dinge waaroor jy praat en wat jy leer, is reg. Jy is nie bang vir wat mense van jou sê nie. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en die dinge wat jy vir hulle leer, is waar. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Jesus het geweet hulle wil hê Hy moet iets verkeerd sê waaroor hulle Hom kan vang, en Hy sê toe vir hulle: “Wys vir My 'n silwer geldstuk.” Toe hulle dit doen, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Dit is reg. Dan moet julle vir die keiser gee wat aan hom behoort, maar julle moet ook vir God gee wat aan Hóm behoort.” Die spioene kon Hom nie vang nie, want niemand het gehoor dat Hy iets verkeerd gesê het nie. Hulle was baie verbaas oor wat Jesus geantwoord het en hulle het stilgebly. 'n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se kinders wees.’ Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf maar hy het nie kinders gehad nie. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, en ná hom het die derde broer met haar getrou, en so het al sewe broers met die vrou getrou. Hulle het almal gesterf, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal hierdie vrou wees wanneer al die mense wat gesterf het, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “In hierdie lewe trou mense met mekaar. Maar wanneer God Koning is, dan sal Hy die mense wat in Hom glo en wat gesterf het, weer laat lewe. Dan sal mense nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Want hulle sal wees soos die engele wat nie sterf nie en wat by God in die hemel woon. Maar dit kan net gebeur as God hulle weer laat lewe. Moses het ook vir ons gesê mense wat gesterf het, sal weer lewe. Hy het geskryf oor die bos wat gebrand het. Daar sê Moses die Here is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe. Want vir God is almal wat in Hom glo, mense wat lewe.” Party van die skrifgeleerdes het vir Jesus gesê: “Meneer, jy het goed geantwoord.” Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie. Jesus het vir die mense gevra: “Hoekom sê die mense die Christus is die Seun van Dawid? Want Dawid self sê in die boek van die Psalms: “ Die Here het vir my Here, die Koning, gesê: Sit hier langs My, op die belangrikste plek, Ek sal jou vyande voor jou laat buig, en jy sal jou voete op hulle sit. “Dawid noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?” Toe sê Jesus vir sy dissipels terwyl al die mense Hom kan hoor: “Pasop vir die skrifgeleerdes. Hulle wil graag met deftige klere rondloop en hulle wil hê almal moet hulle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. Hulle wil graag sit op die belangrikste plekke in die sinagoges en by die feeste. Maar die skrifgeleerdes is mense wat weduwees bedrieg en wat hulle huise vat. En hulle is mense wat baie lank bid sodat ander mense dit moet sien. God sal hulle baie swaar straf.”

LUKAS 20:1-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan, en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het? En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra — sê vir My: die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense — sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is. Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie. En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. TOE begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf. Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees. En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen? Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie! Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel. TOE probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het. En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur. En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer — is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg. EN sommige van die Sadduseërs het gekom — hulle wat ontken dat daar 'n opstanding is — en Hom gevra en gesê: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek. Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos gesterwe. En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe. En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders nagelaat nie en het gesterwe. En ten laaste het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? — want al sewe het haar as vrou gehad. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom. En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed gespreek. En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie. TOE sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete. Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun? EN terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye. Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.

LUKAS 20:1-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?” Hy antwoord hulle: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: Die doop van Johannes – kom dit van God of van mense af?” Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê: ‘Van mense af,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.” Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy 'n hele ruk weg van die huis af. Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’ Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’ Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!” Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan: “ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ ? Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.” Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk. Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?” Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly. 'n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. Ook die tweede en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. Daarna het die vrou ook gesterwe. Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ . Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.” Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.” Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie. Maar Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? Dawid sê tog self in die boek van die Psalms: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. “Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?” Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye. Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

LUKAS 20:1-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op een van die dae waarop Jesus die volk op die tempelterrein onderrig en die evangelie verkondig het, het die leierpriesters en skrifkenners saam met die familiehoofde nader gestaan en vir Hom gevra: “Sê vir ons, op watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het aan jou hierdie gesag gegee?” Hy het geantwoord: “Ek sal julle ook 'n vraag vra. Sê My: Was die doop van Johannes van die hemel, of van mense?” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel,’ sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê, ‘van mense,’ sal die hele volk ons stenig, omdat hulle daarvan oortuig is dat Johannes 'n profeet is.” Hulle antwoord toe dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir 'n lang tyd op reis gegaan. Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s'n kan word.’ Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.” Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.’ ” “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.” Die skrifkenners en die leierpriesters wou Hom onmiddellik gevange neem, omdat hulle besef het dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle was egter bang vir die volk. Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly. Sommige van die •Sadduseërs, wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer 'n nageslag verwek.’ So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het 'n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. Ten laaste het ook die vrou gesterf. Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ” Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het 'n goeie antwoord gegee.” Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie. Jesus het hulle gevra: “Hoe kan daar gesê word dat die Christus die •Seun van Dawid is? Dawid sê dan self in die Psalms, “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Dawid noem Hom dus ‘Here’. Hoe kan Hy dan sy seun wees?” Terwyl die hele volk luister, het Hy vir sy dissipels gesê: “Wees op julle hoede vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, en is lief daarvoor om op die markpleine begroet te word en die voorste sitplekke in die •sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.”

LUKAS 20:1-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur dat op een van daardie dae, terwyl Hy die volk in die tempel geleer en die evangelie verkondig het, het die owerpriesters en die skrifgeleerdes op Hom afgekom saam met die ouderlinge, En met hom gespreek en gesê: Vertel ons, deur watter gesag doen jy hierdie dinge? of wie is dit wat jou hierdie gesag gegee het? En hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra; en antwoord my: Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of van mense? En hulle het met hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel; sal hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? Maar as ons sê: Van mense; die hele volk sal ons stenig, want hulle is oortuig dat Johannes 'n profeet was. En hulle het geantwoord dat hulle nie kon weet waar dit vandaan kom nie. En Jesus sê vir hulle: Ek sê ook vir julle nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. Toe het Hy hierdie gelykenis aan die volk begin vertel; 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers uitgegee en 'n lang tyd na 'n ver land gegaan. En op die tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrugte van die wingerd sou gee; maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en hom skandelik gesmeek en hom leeg weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het hom ook gewond en uitgedryf. Toe sê die heer van die wingerd: Wat moet ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle hom eerbiedig wanneer hulle hom sien. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom, laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees. Hulle het hom toe uit die wingerd gegooi en hom doodgemaak. Wat sal die heer van die wingerd dan aan hulle doen? Hy sal kom en hierdie landbouers uitroei en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: God verhoed dit! En hy het hulle aanskou en gesê: Wat is dit dan wat geskrywe is: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Elkeen wat op daardie klip val, sal gebreek word; maar wie dit ook al val, sal hom fyn maal. En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het in dieselfde uur probeer om die hande aan Hom te lê; en hulle was bang vir die volk, want hulle het gemerk dat Hy hierdie gelykenis teen hulle gespreek het. En hulle het hom dopgehou en spioene uitgestuur wat hulleself as regverdiges sou voorgee, sodat hulle sy woorde kon aangryp, sodat hulle hom kon oorlewer aan die mag en gesag van die goewerneur. En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reg sê en leer, en dat U niemand aanneem nie, maar waarlik die weg van God leer. Is dit vir ons geoorloof om belasting aan die keiser te gee, of nie? Maar hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys vir my 'n sent. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. En hy sê vir hulle: Gee dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle kon sy woorde nie vashou voor die volk nie, en hulle was verwonderd oor sy antwoord en het geswyg. Toe het sommige van die Sadduseërs na Hom gekom wat ontken dat daar enige opstanding is; en hulle het hom gevra: Moses het gesê: Meester, Moses het aan ons geskryf: As iemand se broer sterf met 'n vrou, en hy sterf sonder kinders, moet sy broer sy vrou neem en vir sy broer nageslag verwek. Daar was dus sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en sonder kinders gesterf. En die tweede het haar as vrou geneem, en hy het kinderloos gesterf. En die derde het haar geneem; en net so ook die sewe, en hulle het geen kinders nagelaat nie en gesterf. Laastens het die vrou ook gesterf. Daarom, wie se vrou van hulle is sy in die opstanding? want sewe het haar as vrou gehad. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die kinders van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee. Maar hulle wat waardig geag sal word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie; Hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is gelyk aan die engele; en is die kinders van God, synde die kinders van die opstanding. Noudat die dooies opgewek is, het selfs Moses dit by die bos laat sien toe hy die Here die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob noem. Want Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal lewe vir Hom. Toe antwoord sommige van die skrifgeleerdes en sê: Meester, jy het goed gesê. En daarna het hulle Hom glad nie gedurf om iets te vra nie. En Hy sê vir hulle: Hoe sê hulle dat Christus die seun van Dawid is? En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die HERE het tot my Here gesê: Sit aan my regterhand, Totdat Ek jou vyande maak 'n voetbank vir jou voete. Dawid noem Hom dan Here, hoe is hy dan sy seun? Toe sê Hy in die gehoor van die hele volk vir sy dissipels: Pasop vir die skrifgeleerdes wat in lang klere wil wandel en begroeting liefhet op die markte en die hoogste sitplekke in die sinagoges en die hoofkamers by feesmaal; wat die huise van weduwees opeet en vir 'n vertoning lang gebede doen; hulle sal groter veroordeling ontvang.

LUKAS 20:1-47 Die Boodskap (DB)

Eendag toe Jesus in die tempel besig was om die mense te leer wat God van hulle vra, het ’n klomp van die godsdienstige leiers en ’n paar ander belangrike mense uit Jerusalem ook by die skare aangesluit. Hulle vra toe: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?” Maar Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers gou ’n vraag vra. Sê My, wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?” Die leiers het dadelik besef hulle is in ’n hoek. Hulle sê toe onderlangs vir mekaar: “Kyk, as ons sê God het Johannes die reg gegee, sal Jesus vir ons vra: ‘Waarom het julle dan nie geglo wat hy gesê het nie?’ As ons egter antwoord dat die mense Johannes die reg gegee het om te doop, sal die volk ons uitmekaarskeur. Hulle almal dink mos dat Johannes ’n profeet was wat sy gesag van God af gekry het.” Om uit die moeilikheid te bly antwoord hulle toe: “Nee, ons weet nie.” Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Wel, dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.” Daarna het Jesus vir die mense die volgende verhaal vertel: “Daar was eendag ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het. Hy moes kort daarna op ’n reis na ’n ver land gaan. Hy verhuur toe die wingerd aan ’n groep ander boere. Die eienaar het met hulle ooreengekom dat hulle hom ’n deel van die druiwe as huur vir die grond sou betaal. “Later, toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar een van sy werkers om die deel wat hy moes kry te gaan haal. Maar die arme werker is deur die boere aangerand en weggejaag. “Toe stuur die eienaar een van sy ander werkers na die plaas toe. Maar presies dieselfde het met hom gebeur. Hy is pimpel en pers geslaan en van ’n kant af beledig. Daarna het die boer ’n derde werker na sy plaas toe gestuur. Maar hy is halfdoodgeslaan en ook met leë hande van die plaas af weggejaag. “Toe sê die eienaar vir homself: ‘Wat moet ek nog doen? Al wat nog oorbly, is dat ek my seun vir wie ek so lief is na hulle toe moet stuur. Hulle behoort mos vir hom net soveel respek te hê as vir my.’ “Maar toe die huurders die seun sien aankom, het hulle gou-gou koppe bymekaargesit: ‘Kyk, dis nou ons kans. As ons daardie seun doodmaak, sal ons later self die grond in die hande kan kry.’ “Toe pak die spul boere die seun en sleep hom tot buite die wingerd. Daar het hulle hom doodgemaak.” Jesus vra toe vir die mense: “Wat dink julle sal die eienaar met die klomp boere doen wanneer hy terugkom na sy wingerd toe? Kom Ek sê vir julle: hy sal al daardie boere doodmaak en sy wingerd aan ander mense gee.” Maar ’n klomp van die godsdienstige leiers wat na Hom geluister het, het vinnig geantwoord: “Nee, so iets sal nooit gebeur nie! Jy probeer maak asof ons soos daardie slegte boere in die verhaal is.” Jesus het hulle egter reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Julle is mos sulke danige kenners van die Bybel. Wel, sê ’n bietjie vir My wat die volgende teks beteken: ‘’n Klip wat die bouers nie wou gebruik nie en sommer eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.’ “Oppas! Elkeen wat op hierdie ‘klip’ val, gaan bitter seerkry. Maar elkeen op wie hierdie ‘klip’ beland, gaan morsdood wees. Van hulle gaan daar net mooi niks oorbly nie.” Die Joodse godsdienstige leiers het die skimp gevang. Hulle het besef dat Jesus hierdie teks op Homself toegepas het en dat hulle die mense is wat Hom verwerp. Hulle was woedend daaroor. Hulle wou Hom sommer daar en dan in die tronk stop. Maar die gewone mense was baie beïndruk met Jesus. Daarom kon die leiers in daardie stadium niks aan Hom doen nie. Die godsdienstige leiers wou hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle besluit toe om ’n paar mense na Hom toe te stuur wat maak asof hulle verskriklik vroom is. Hierdie mans moes vir Jesus ’n lokval stel sodat hulle Hom kon vang en aan die owerhede uitlewer as Hy iets verkeerds sê. Toe hierdie mense by Jesus aankom, sê hulle: “Leermeester, ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien ook jy probeer nie gewild wees nie. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie. Sê net gou vir ons, dink jy dis reg dat ons so baie belasting aan die Romeinse keiser betaal?” Jesus sê toe: “Het iemand ’n geldstuk hier naby?” Vinnig het iemand vir Hom ’n muntstuk gegee. Toe sê Jesus vir hulle: “Kyk mooi na dié geld. Wie se beeld is daarop en wie se naam is daarop geskryf?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle. “Nou ja, as hierdie geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Gee hom wat hy vra. Maar onthou: julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom. Daarom moet julle julleself aan God gee. Die keiser is geregtig op julle geld, maar God is geregtig op julle hele lewe.” Hierdie antwoord het die wind heeltemal uit die mense se seile gehaal. Hulle plan om Jesus daar voor die skare uit te vang het heeltemal misluk. Jesus se antwoord was so goed dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Stil-stil is hulle toe maar daar weg terwyl die skare Jesus geëer het. Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede broer trou. Maar hy gaan ook dood sonder dat daar ’n kind is. Dan trou die derde een met haar. Maar presies dieselfde gebeur met hom. Hy sterf voordat sy vrou ’n kind het. So gaan dit uiteindelik met al sewe broers. Nie een van hulle laat ’n kind agter nie. Uiteindelik gaan die vrou dan sonder ’n kind dood. Nou, as daar ’n opstanding van die dooies is, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.” ’n Paar van die skrifkenners wat ook na Jesus geluister het, was baie beïndruk met wat Hy gesê het: “Mooi so, Leermeester. U het goed geantwoord. Kyk, daardie klomp Sadduseërs is skoon stil.” Toe sê Jesus vir die godsdienstige leiers wat gedurig net regsit om Hom te probeer uitvang: “Ek het nou ’n vraag vir julle. Hoekom sê almal die Messias is die seun van Dawid? Dawid self noem Hom dan in een van sy psalms ‘my Here’. Julle ken mos Dawid se bekende woorde: ‘God, die Here, het vir my Here gesê: Kom sit hier op die spesiale ereplek langs My totdat Ek al jou vyande magteloos voor jou voete laat lê.’ “Verklaar dit dan nou vir My: As Dawid die Messias ‘Here’ noem, hoe kan Hy terselfdertyd ook nog Dawid se seun wees?” Maar niemand het dit gewaag om daarop te antwoord nie. Terwyl ’n groot groep mense na Jesus geluister het, het Hy na sy getrouste volgelinge gedraai en vir hulle gesê: “Julle moet lig loop vir al daardie groot kenners van die Bybel. Kyk, hulle loop oral rond met hulle blink kerkklere en hou daarvan dat almal hulle op straat groet. Hulle maak ook baie seker dat mense hulle in godsdienstige plekke raaksien. En hulle geniet dit om die middelpunt van belangstelling by elke funksie te wees. Net om te wys hoe vroom hulle is, gaan eet hulle die arm weduwees se kos op en bid lang gebede in die openbaar. Die skynheilige spul! God sal hulle baie swaarder as al die ander straf.”

LUKAS 20:1-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op een van die dae, terwyl Jesus besig was om mense in die tempel te onderrig en die Goeie Nuus te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifkenners saam met die familiehoofde nadergestaan en vir Jesus gevra: “Sê vir ons met watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het jou hierdie gesag gegee?” Sy reaksie was: “Ook Ek het ’n vraag vir julle. Sê My, die doop van Johannes – was dit uit die hemel afkomstig of was dit ’n bloot menslike saak?” Hulle het dit toe onder mekaar bespreek: “As ons sê dat dit uit die hemel kom, sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sou sê: ‘Dit was ’n bloot menslike saak,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is vas oortuig dat Johannes ’n profeet is.” Hulle antwoord was dat hulle nie weet waarvandaan dit kom nie. Jesus het toe aan hulle gesê: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hierna het Jesus vir die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan boere verhuur het. Daarna het hy vir ’n lang tyd weggegaan. Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur met die doel dat hulle ’n deel van die druiwe-oes aan hom sou gee. Maar die boere het die slaaf geslaan en hom met leë hande teruggejaag. Die eienaar het verder gegaan en ’n ander slaaf gestuur. Maar hulle het daardie een ook aangerand, hom beledig en met leë hande teruggejaag. Die eienaar het toe nog verder gegaan en ’n derde slaaf gestuur, maar hulle het hom ernstig verwond en weggejaag. “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat staan my nou te doen? Ek sal my lieflingseun stuur. Hopelik sal hulle hom met respek behandel.’ “Toe die boere hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê: ‘Hierdie man is die erfgenaam. Laat ons hom doodmaak sodat die erfenis ons s’n kan wees.’ Hulle het hom toe uit die wingerd gejaag en vermoor. “Wat moet die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal opdaag en daardie boere doodmaak en die wingerd aan ander mense gee.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit mag nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat is die betekenis van hierdie Skrifwoord dan? ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het, het die hoekklip van die gebou geword.’ “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal vergruis word.” Die skrifkenners en die priesterhoofde wou Hom daar en dan arresteer, maar hulle was bang vir die volk. Hulle het in elk geval besef dat hierdie gelykenis teen hulle gemik was. Hulle het hulle geleentheid afgewag en toe spioene wat voorgegee het dat hulle dit opreg bedoel, gestuur om Jesus op sy woord vas te trek. So sou hulle Hom aan die owerheid en die gesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle het Hom toe gevra: “Leermeester, ons weet dat u reg praat en onderrig, en dat u nie mense op die uiterlike beoordeel nie: U onderrig mense volgens die waarheid om op die pad van God te loop. Is dit korrek dat ons aan die keiser belasting betaal of is dit nie?” Jesus het dwarsdeur hulle skelmstreek gesien en sê toe vir hulle: “Wys vir My ’n Romeinse muntstuk. Wie se beeld en opskrif is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.” Hulle kon duidelik nie daarin slaag om Jesus op grond van sy boodskap voor die volk vas te trek nie. Verwonderd oor sy antwoord het hulle liewer stilgebly. Sommige uit die geledere van die Sadduseërs, dié mense wat die opstanding uit die dood ontken het, staan toe nader en vra vir Jesus: “Leermeester, Moses het aan ons voorgeskryf: ‘As iemand se getroude broer kinderloos doodgaan, moet só iemand met sy broer se weduwee trou en vir hom ’n nageslag verwek.’ Daar was eenmaal sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met die weduwee getrou, maar ook kinderloos gesterf. Net só het ook die res van die sewe kinderloos gesterf. Laastens het ook die vrou gesterf. Wie se vrou word sy dan by die opstanding? Het al sewe die broers haar dan nie as vrou gehad nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee, maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is. Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.” Sommige uit die geledere van die skrifkenners het gereageer: “Leermeester, u het dit mooi gestel.” Hulle het dit daarna nie meer gewaag om Hom iets te vra nie. Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle dan beweer dat die Messias die seun van Dawid is? Dawid sê self in die boek van die Psalms: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Dawid noem Hom dan ‘Here’; hoe kan Hy sy seun wees?” Terwyl die hele volk aandagtig na Jesus luister, sê Hy aan sy dissipels: “Lig loop vir die skrifkenners. Hulle wil graag op en af loop met hulle ampsklere aan. Hulle is ook lief daarvoor om op die markplekke met respek gegroet te word en om die voorste sitplekke in die sinagoges, asook die ereplekke by die etes in te neem. Hulle verorber die huise van die weduwees en huigel met lang gebede. Hulle sal ’n swaarder straf ontvang.”