LUKAS 10:29-37

LUKAS 10:29-37 Bybel vir almal (ABA)

Maar die skrifgeleerde wou wys dat hy slimmer is as Jesus. Daarom vra hy toe vir Jesus: “Maar wie is my naaste?” Jesus het vir hom gesê: “'n Man het van Jerusalem na Jerigo geloop. Op daardie pad het manne hom aangeval. Hulle het sy klere uitgetrek en hom geslaan en sy goed gesteel. Toe hardloop hulle weg en los hom daar. Hy was amper dood. Daar het toe 'n priester op dieselfde pad geloop. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad. 'n Leviet het ook daar verbygeloop en hy het dieselfde gedoen. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad. 'n Samaritaan het daar aangekom op dieselfde pad. Toe hy by die man kom en hom sien, was hy baie jammer vir hom. Hy het nader gegaan, hy het die man se seerplekke toegedraai, en olyf-olie en wyn daarop gegooi. Die Samaritaan het sy donkie nader gebring. Hy het die man op die donkie laat ry en hy het hom na 'n herberg geneem. Daar het hy goed vir hom gesorg. Die volgende dag het hy twee silwer geldstukke uitgehaal, en hy het dit vir die eienaar van die herberg gegee. Hy het vir hom gesê: ‘Jy moet goed sorg vir die man, en as hierdie geld nie genoeg is nie, dan sal ek vir jou nog gee wanneer ek weer hier verbykom.’ ” Jesus vra toe vir die skrifgeleerde: “Wat dink jy? Wie van hierdie drie mense het 'n naaste geword van die man vir wie daardie manne aangeval het?” Die skrifgeleerde het gesê: “Daardie man wat jammer was vir hom en wat hom gehelp het.” Toe sê Jesus vir die skrifgeleerde: “Gaan, en doen wat die Samaritaan gedoen het.”

LUKAS 10:29-37 Die Boodskap (DB)

Maar die kenner van die wet was nog lank nie klaar nie. Hy het sy strikvraag vir laaste gebêre: “Wag eers. Sê my, wie is my medemens van wie die wet praat?” Jesus antwoord toe met ’n verhaal: “Weet jy, eendag was daar ’n man wat van Jerusalem na Jerigo toe gestap het. Langs die pad het ’n klomp rowers hom ingewag en hom behoorlik toegetakel. Hulle het hom ernstig aangerand, al sy geld en klere gevat en hom daar vir dood laat lê. “Toevallig stap ’n priester ’n rukkie later daar verby. Maar toe hy die halfdooie man daar sien lê, het hy aan die ander kant van die pad verbygestap en gemaak of hy hom glad nie sien nie. “Die priester was skaars weg of daar stap ’n Leviet verby, iemand wat in die tempel diens gedoen het. Maar hy het ook gemaak of hy nie die gewonde man raaksien nie en het verder gestap. “Toe kom daar ’n Samaritaan verby. En, soos jy weet, is die Samaritane en die Israeliete nie vriende nie. Maar hierdie Samaritaan het gaan stilstaan om te kyk wat die beseerde man makeer. Toe hy sien hoe die arme man lyk, het hy hom baie jammer gekry. Hy het dadelik die medisyne uitgehaal wat hy by hom in sy tas gehad het en die man se wonde skoongemaak. Hy het hom toe verbind en versigtig op sy donkie getel. Die Samaritaan is toe na die naaste herberg toe. Daar het hy die man in die bed gaan sit en hom versorg. “Die volgende oggend moes die Samaritaan verder reis. Hy sê toe vir die eienaar van die herberg: ‘Hier is geld om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap wanneer ek van my reis af terugkeer.’ “Sê My, wie van hierdie drie mans was ’n medemens vir daardie arme man wat onder die rowers deurgeloop het? Wat dink jy?” het Jesus toe vir die kenner van die wet gevra. Hy antwoord toe: “Ja, wel, seker daardie een wat goedgedoen het aan die man wat aangerand is.” “Mooi so! Gaan doen jy nou presies dieselfde as hy. Word ’n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het, maak nie saak wie of wat hulle is nie,” het Jesus geantwoord.