JOHANNES 13:21-30
JOHANNES 13:21-30 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy baie hartseer en ontsteld geword en Hy het ernstig gepraat en vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het na mekaar gekyk. Hulle was baie verbaas, want hulle het nie geweet van wie Jesus praat nie. Een van die dissipels het langs Jesus gesit. Dit was die dissipel vir wie Jesus lief was. Petrus het vir daardie dissipel gewys hy moet vir Jesus vra wie Hom sal verraai. Die dissipel wat langs Jesus gesit het, vra toe vir Jesus: “Here, van wie praat U? Wie is die persoon wat U sal verraai?” Jesus het gesê: “Ek sal 'n stukkie brood in die sous druk en Ek sal dit gee vir die een wat My sal verraai.” Jesus druk toe 'n stukkie brood in die sous en Hy gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. Judas het die stukkie brood geneem, en toe het die Satan in Judas se hart gekom en vir Judas regeer. Daarom het Jesus vir Judas gesê: “Jy moet nou gou maak en gaan doen wat jy wil doen.” Die ander dissipels wat daar gesit het, het nie verstaan hoekom Jesus vir Judas gesê het hy moet gou maak nie. Judas het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was. Daarom het party van die dissipels gedink Jesus sê vir Judas om alles te gaan koop wat hulle moet hê vir die Paasfees. Party dissipels het gedink Jesus sê vir Judas hy moet geld vir die arm mense gaan gee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy dadelik uitgegaan. Buite was dit donker.
JOHANNES 13:21-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE Jesus dit gesê het, het Hy in sy gees ontsteld geword en getuig en gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. En die dissipels het na mekaar begin kyk, in twyfel omtrent die een van wie Hy dit sê. En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê. Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit kon wees van wie Hy spreek. En hy val op die bors van Jesus en sê vir Hom: Here, wie is dit? Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon. En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig. Maar waarom Hy dit vir hom gesê het, het niemand van die wat aan tafel was, verstaan nie. Want sommige het gedink, terwyl Judas die beurs gehad het, dat Jesus vir hom sê: Koop wat ons nodig het vir die fees; of dat hy iets aan die armes moes gee. Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.
JOHANNES 13:21-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit. Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?” Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe 'n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie. Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee. Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.
JOHANNES 13:21-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Jesus dit gesê het, was Hy diep ontroerd, en het Hy getuig en gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker van wie Hy praat. Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het teen Jesus se bors geleun. Simon •Petrus het vir hom geknik om uit te vind wie dit sou kon wees van wie Jesus praat. Hy het toe teruggeleun teen Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?” Jesus het hom geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood sal indoop en aangee.” Toe Hy die stukkie brood ingedoop het, het Hy dit geneem en aan Judas, seun van Simon Iskariot, gegee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy gou doen.” Niemand van dié wat daar aangeleun het om te eet, het verstaan waarom Hy dit aan Judas gesê het nie. Omdat Judas die geldbeurs gedra het, het sommige gedink dat Jesus aan hom gesê het: “Gaan koop wat ons vir die fees nodig het,” of dat hy iets aan die armes moes gee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy onmiddellik buitentoe gegaan. En dit was nag.
JOHANNES 13:21-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Jesus dit gesê het, was Hy ontsteld in die gees en het getuig en gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. Die dissipels het toe na mekaar gekyk en getwyfel van wie Hy gepraat het. En daar het een van sy dissipels, vir wie Jesus liefgehad het, op Jesus se boesem geleun. Simon Petrus het dan vir hom beduie dat hy moet vra wie dit moet wees van wie hy gepraat het. Hy wat toe op Jesus se bors lê, sê vir Hom: Here, wie is dit? Jesus antwoord: Hy is dit vir wie ek 'n sop sal gee as ek dit gedoop het. En nadat hy die sop gedoop het, gee hy dit aan Judas Iskariot, die seun van Simon. En ná die sop het Satan in hom ingegaan. Toe sê Jesus vir hom: Wat jy doen, doen gou. Nou het niemand aan tafel geweet met watter bedoeling hy dit vir hom gesê het nie. Want sommige van hulle het gedink, omdat Judas die sak gehad het, dat Jesus vir hom gesê het: Koop wat ons nodig het teen die fees; of, dat hy iets aan die armes moet gee. Toe hy die sop ontvang het, het hy dadelik uitgegaan, en dit was nag.
JOHANNES 13:21-30 Die Boodskap (DB)
Jesus het nog ernstiger geword en was nou sigbaar ontsteld. “Ai, dit is vir My swaar om dit vir julle te sê, maar een van julle gaan My lelik in die rug steek.” “Wie sou dit nou wees?” het sy volgelinge so stilletjies onder mekaar gevra. Simon skraap toe moed bymekaar om te vra. Hy knik toe vir die dissipel wat langs Jesus gesit het. (Dit was die dissipel van wie Jesus baie gehou het.) “Vra ’n bietjie wie dit is.” Die dissipel leun toe oor: “Here, wie is dit?” Jesus sê toe: “Ek gaan ’n bietjie sous op hierdie brood sit en dit vir een van julle gee. Kyk mooi, dit is hy!” Jesus doen dit toe en gee die brood vir Judas, seun van Simon Iskariot. Hy het dit gevat en geëet. Van toe af het Satan ’n houvas op hom gekry. Jesus sê toe: “Moenie nog wag nie. Maak gou!” Die ander aan tafel het nie geweet wat Jesus bedoel nie. Hulle het gedink dit het maar iets met die geld te doen. (Judas het mos met die geld gewerk.) Judas moes seker nog iets vir die fees gaan koop of ietsie vir die armes gee, het hulle vir mekaar gesê. Judas het dadelik opgestaan en uitgestap. Buite was dit pikdonker.
JOHANNES 13:21-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy erg ontsteld geword en openlik verklaar: “Ek verseker julle, een van julle wat hier is, gaan My uitlewer.” Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker oor wie Hy bedoel. Een van Jesus se dissipels het langs Hom aan tafel aangelê – die lieflingdissipel. Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit is van wie Jesus praat. Hy het toe agteroor geleun tot na aan Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?” Jesus reageer daarop: “Dit is dié een vir wie Ek ’n stukkie brood in die sous sal doop en vir hom gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, doop dit in die sous en gee dit aan Judas, seun van Simon Iskariot. Ná die stukkie brood het Satan van hom besit geneem. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy doen, moet jy gou afhandel!” Niemand wat aan tafel was, het geweet om watter rede Hy dit vir Judas gesê het nie. Sommige het inderdaad gedink, terwyl Judas die beursie dra, dat Jesus vir hom gesê het: “Gaan koop wat ons nodig het vir die paasete,” of dat hy soos gebruiklik iets aan die armes moes gaan gee. Net nadat Judas die stukkie brood aanvaar het, het hy dadelik vertrek. Dit was nag.