JEREMIA 7:1-15
JEREMIA 7:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Jeremia het gehoor die Here sê vir hom: “Jy moet in die poort gaan staan tussen die paleis en die tempel en jy moet hard praat en sê: Al die mense van Juda wat deur hierdie poorte kom om die Here te aanbid, julle moet hoor wat sê die Here. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle moet reg lewe en reg doen, dan sal Ek by julle in hierdie plek woon. Julle moenie dink dit sal goed gaan wanneer mense sê: ‘Hierdie is die tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here!’ nie. Maar julle moet waarlik reg lewe en reg doen, julle moet waarlik regverdig wees wanneer julle oordeel, julle moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees laat swaarkry nie, julle moenie onskuldige mense laat doodmaak nie, en julle moenie ander gode dien nie, want dan sal dit sleg gaan met julle. As julle reg lewe en reg doen, dan sal Ek by julle woon in hierdie plek wat Ek vir altyd vir julle voorvaders gegee het. Julle dink dit sal goed gaan wanneer mense vir julle dinge sê wat nie waar is nie en wat julle niks sal help nie. Julle steel en vermoor mense en pleeg egbreuk, julle belowe dinge wat julle nie wil doen nie, en julle vertel leuens, julle bring wierook-offers vir Baäl en julle dien ander gode wat julle nie geken het nie. Julle kan nie al hierdie baie verkeerde dinge doen en dan voor My kom staan in hierdie tempel wat my Naam het, en sê: ‘U sal ons red’ nie. Dink julle hierdie tempel wat my Naam het, is 'n plek waar diewe veilig is? Julle moet weet, Ek sien wat hier gebeur. Want gaan na die stad Silo, na die plek wat my Naam gehad het en waar Ek voorheen gewoon het. Gaan kyk wat Ek met daardie plek gedoen het omdat my volk Israel sonde gedoen het. En nou, julle het al hierdie dinge gedoen. Ek het aangehou om met julle te praat, maar julle het nie geluister nie, Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie. Daarom sal Ek met die plek wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het, hierdie tempel wat my Naam het, doen soos Ek met Silo gedoen het. Julle dink hierdie tempel sal dit goed laat gaan met julle. Maar Ek sal julle weggooi soos Ek julle familie, die hele nageslag van Efraim, weggegooi het.
JEREMIA 7:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: Staan in die poort van die huis van die HERE, en roep hierdie woord daar uit en sê: Hoor die woord van die HERE, o hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die HERE te aanbid! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie — dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu. Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! — om al hierdie gruwels te doen? Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, 'n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek — kyk, Ek het dit gesien, spreek die HERE. Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel. Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die HERE, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie, daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het. En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het.
JEREMIA 7:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: Gaan staan in die poort van die huis van die Here en roep daar hierdie woorde uit: Al julle Judeërs wat by hierdie poorte ingaan om die Here te dien, hoor die woord van die Here! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring. As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het. Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie. Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge! Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here. Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel. Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie. Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het. Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het.
JEREMIA 7:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Gaan staan by die poort van die huis van die HERE. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die HERE, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die HERE in aanbidding te buig! So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die HERE, die tempel van die HERE, die tempel van die HERE is dit!’ nie. As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, •vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie. “ ‘ “ Sal julle steel, moord pleeg, egbreuk pleeg, vals sweer, vir Baäl offers verbrand, agter ander gode aanloop vir wie julle nie ken nie, en dan inkom en in my teenwoordigheid kom staan in hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, en dan nog sê, ‘Ons is gered!’ sodat julle met hierdie afstootlike dinge kan voortgaan? Het hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, 'n grot van struikrowers geword in julle oë? Ook Ek, kyk, Ek het dit gesien,” ’ is die uitspraak van die HERE. “ ‘ “ Ja, gaan gerus na my plek wat in Silo was, waar Ek vroeër my Naam laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk, Israel. Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” ’ is die uitspraak van die HERE, ‘ “en Ek aanhoudend met julle gepraat het, maar julle nie geluister het nie, Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, sal Ek met hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, die plek wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, doen wat Ek met Silo gedoen het. Ek sal julle wegwerp uit my teenwoordigheid, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, weggewerp het.” ’ ”
JEREMIA 7:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het en gesê het: Staan in die poort van die huis van die HERE en roep daar hierdie woord uit en sê: Hoor die woord van die HERE, hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die HERE te aanbid. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge reg, en Ek sal julle op hierdie plek laat woon. Vertrou nie op leuenagtige woorde nie, wat sê: Die tempel van die HERE, die tempel van die HERE, die tempel van die HERE, is dit. Want as julle jul weë en julle handelinge heeltemal verander; as julle volkome oordeel tussen 'n man en sy naaste; As julle die vreemdeling, die wees en die weduwee nie verdruk en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie, en nie agter ander gode aan loop tot julle skade nie; Dan sal Ek jou in hierdie plek laat woon, in die land wat Ek aan jou vaders gegee het, vir ewig en altyd. Kyk, julle vertrou op leuenagtige woorde wat niks baat nie. Sal julle steel, moor en egbreuk pleeg en vals sweer en vir Baäl rook laat opgaan en agter ander gode aan loop wat julle nie ken nie? En kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is oorgelewer om al hierdie gruwels te doen? Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, in julle oë 'n rowerskuil geword? Kyk, selfs Ek het dit gesien, spreek die HERE. Maar gaan nou na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam eers gestel het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel. En nou, omdat julle al hierdie werke gedoen het, spreek die HERE, en Ek het met julle gespreek, vroeg opgestaan en gespreek, maar julle het nie gehoor nie; en Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie; Daarom sal Ek doen met hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, en met die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, soos Ek aan Silo gedoen het. En Ek sal julle van my aangesig verdryf, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, verdryf het.
JEREMIA 7:1-15 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap vir Juda gegee. Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die Here se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê: Judeërs, almal van julle wat na die tempel toe kom om die Here te kom dien, hoor wat sê die Here. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê: As julle ophou om al die verkeerde dinge te doen waarmee julle nou besig is, sal Ek julle in julle land laat bly. Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die Here in Jerusalem is nie. Ek sal genadig wees as julle regtig ophou om die dinge te doen wat julle nou doen. Tree regverdig teenoor mekaar op. Moenie mense wat nie van Juda af kom sleg behandel en uitbuit nie. Ook nie weduwees en weeskinders nie. Ek sal ook nie so hard met julle wees as julle sal ophou om onskuldige mense in julle land te vermoor nie. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien. As julle gehoorsaam is aan My, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly. Ek het dit lank terug vir julle voorouers gegee. “Weet julle, die leuens wat julle glo dat julle nie sal swaarkry nie omdat die tempel hier is, gaan julle nêrens bring nie. Dink julle regtig julle kan maar voortgaan om te steel, mense te vermoor, julle huweliksmaat te bedrieg en te lieg? Asof dit nie al is nie, bring julle ook offers vir die god Baäl. Op die koop toe dien julle nog sommer ’n klomp ander gode wat julle vroeër nie eens geken het nie. Dan het julle die vermetelheid om hier in my tempel te kom staan en te sê: ‘Ons is veilig!’ Julle gaan hiervandaan af weg en hou maar net aan om hierdie afskuwelike dinge te doen! Sê My, dink julle dat my tempel ’n wegkruipplek vir skelms behoort te wees? Onthou, Ek sien wat julle doen,” sê die Here. “Gaan na Silo toe waar julle My eers aanbid het. Kyk wat het Ek met Silo gemaak omdat my volk Israel verkeerde dinge gedoen het.” Die Here sê: “Ek het aanhoudend met julle gepraat omdat julle hierdie verkeerde dinge gedoen het, maar julle wou nie na My luister nie. Ek het hard probeer om julle te laat besef dat julle nie reg doen nie, maar julle het My geïgnoreer. Silo bestaan nie meer nie, Ek het die plek verwoes. Julle het al julle hoop op my tempel geplaas. Dit gaan julle niks help nie, want Ek gaan my tempel hier in Jerusalem verwoes net soos Ek Silo tot niet gemaak het. Presies dieselfde gaan gebeur met hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Ek gaan toelaat dat ’n vyand julle uit julle land uit wegvat. Dit het met julle familie in die noordelike gebied, Israel, gebeur, nou is dit julle voorland.”
JEREMIA 7:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jeremia het weer ’n boodskap van die HERE ontvang wat hy aan Juda moes oordra. Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die HERE se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê vir die Judeërs: “‘Almal van julle wat na die tempel toe kom om die HERE te aanbid, luister na die boodskap van die HERE. “‘Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: As julle nou ophou om verkeerde dinge te doen, sal Ek julle in julle land laat bly. Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die HERE in Jerusalem is nie. Ek sal julle genadig wees slegs as julle ophou om verkeerde dinge te doen en regverdig teenoor ander mense optree. Julle moet ook ophou om vreemdelinge, weduwees en weeskinders uit te buit. Verder moet julle ophou om onskuldige mense te vermoor. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien. “‘As julle dit doen, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly wat Ek lank gelede vir altyd vir julle voorouers gegee het. “‘Maar julle vertrou op bedrieglike woorde wat mislei. Dink julle miskien omdat die tempel hier is, sal julle nie swaarkry nie? Dink julle regtig julle kan maar steel, mense vermoor, egbreuk pleeg, lieg, wierookoffers vir Baäl bring en al die nuwe gode wat julle nie geken het nie, dien en dan hier in my tempel voor My kom staan en sê: Ons is veilig! en daarna voortgaan om hierdie afskuwelike dinge te doen? Dink julle my tempel, wat my Naam eer, is ’n wegkruipplek vir moordenaars? Onthou, Ek sien al die boosheid wat daar aangaan, sê die HERE. “‘Gaan na my plek in Silo waar Ek voorheen die tabernakel tot my eer opgerig het. Kyk wat het Ek met Silo gedoen omdat my volk Israel bose dinge gedoen het. Die HERE sê: Ek het aanhoudend met julle gepraat oor die verkeerde dinge wat julle doen, maar julle wou nie luister nie. Ek het julle probeer terugroep, maar julle het nie na My geluister nie. Soos Ek Silo vernietig het, so sal Ek verseker maak met hierdie tempel wat tot my eer opgerig is, hierdie plek wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Ek sal julle in ballingskap laat gaan soos met Israel gebeur het.’”