JESAJA 55:6-12
JESAJA 55:6-12 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet vir die Here vra wat Hy wil hê, Hy wil dit vir julle sê. Julle moet tot Hom bid, Hy wil hoor wat julle sê. Die mense wat verkeerd doen, die mense wat slegte planne het, moet ophou. Hulle moet hulle planne los, en hulle moet terugkom na die Here, na ons God, want die Here is genadig, Hy vergewe altyd weer. “Ja, Ek dink nie soos julle dink nie, en Ek doen nie soos julle doen nie. Ja, wat Ek dink en doen, is ver bo wat julle dink en doen, soos die hemel ver bo die aarde is. Ja, die reën en die sneeu kom uit die hemel en dit gaan nie terug na die hemel nie. Dit maak die aarde nat, en daar groei plante wat saad gee sodat die man wat wil saai, saad het en sodat die man wat wil eet, brood het. So sal my woorde wees wat uit my mond kom, dit sal doen wat Ek wil hê. My woorde sal doen wat Ek gesê het hulle moet doen, my woorde sal nie leeg na My toe terugkom nie. Ja, julle sal bly wees wanneer julle uit Babel kom, julle sal vrede hê wanneer die Here julle terugbring. Die berge en die heuwels sal bly wees en juig, al die bome in die veld sal hande klap wanneer hulle sien julle kom.
JESAJA 55:6-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur. Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.
JESAJA 55:6-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap.
JESAJA 55:6-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Soek die HERE terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die HERE terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik. “Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die HERE. “ Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne. Ja, soos reën en sneeu uit die hemel afkom en nie daarheen terugkeer nie, maar die aarde deurdrenk en plante laat voortbring, dit laat uitspruit, en so saad gee vir die saaier en voedsel vir dié wat eet, net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. “ Ja, met vreugde sal julle wegtrek, en in vrede gelei word. Die berge en heuwels sal voor julle in jubelkrete uitbreek, en al die bome van die veld sal hande klap.
JESAJA 55:6-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die onregverdige sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, en Hy sal hom genadig wees; en aan onse God, want Hy sal menigvuldig vergewe. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, maar die aarde natmaak en dit laat uitspruit en uitbot, sodat dit saad kan gee aan die saaier en brood aan die eter. So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal volbring wat My behaag, en dit sal voorspoedig wees in alles waarheen Ek dit gestuur het. Want julle sal uitgaan met blydskap en met vrede gelei word: berge en heuwels sal voor julle uitbreek in gejubel, en al die bome van die veld sal hande klap.
JESAJA 55:6-12 Die Boodskap (DB)
Vra wat die Here van julle wil hê terwyl dit nog moontlik is. Bid tot die Here noudat Hy naby is. Die goddelose moet die verkeerde manier waarop hy lewe, laat staan. Die sondaar moet afsien van sy verkeerde gedagtes. Hy moet na die Here toe terugkom. Die Here sal hom graag terugontvang. Hy moet na ons God toe kom. Ons God sal hom alles vergewe. Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen. Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink. Die reën val op die aarde en die sneeu val uit die lug. Dit gaan nie weer terug na waar dit vandaan kom nie. Dit bly in die grond en laat die plante groei. Dit laat die plante saad maak om te oes. Dit gee kos om te eet. Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor Ek dit gestuur het. Julle sal baie bly wees wanneer julle uit Babel weggaan. Ek sal julle in vrede laat weggaan. Die berge en die heuwels sal van vreugde sing as julle verbykom. Die bome in die veld sal hande klap van blydskap.
JESAJA 55:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vra na die HERE terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom nou aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die HERE en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe! “My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die HERE. “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes. Reën en sneeu kom uit die hemel, en dit gaan nie daarheen terug nie. Dit maak die aarde nat om die plante te laat bot en vrugte te laat dra sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. Julle sal in blydskap wegtrek en in vrede gelei word. Die berge en heuwels sal juig en die bome in die veld sal hulle hande klap!