JESAJA 42:1-9
JESAJA 42:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAR is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer. So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel: Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, as 'n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit. HERE EK is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie. Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.
JESAJA 42:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Hier is my dienaar, Ek hou hom vas, Ek het hom gekies en Ek is lief vir hom. Ek het my Gees in hom laat kom. My dienaar sal vir die volke gaan sê wat Ek wil hê hulle moet doen. Hy sal nie vra dat iemand hom moet help nie, hy sal nie hard praat nie, hy sal nie skree in die straat nie. Hy sal nie 'n riet breek wat klaar stukkend is nie, hy sal nie 'n vlam doodblaas wat dof brand nie. Hy sal seker maak dat almal weet wat Ek wil hê hulle moet doen. Hy sal wees soos 'n vlam wat niemand sal doodblaas nie, 'n riet wat niemand sal breek nie, totdat hy vir almal op die aarde gesê het wat Ek wil hê hulle moet doen. Ook die mense wat in die ver lande by die see woon, wag om te hoor wat hy vir hulle sal leer.” God het gepraat. Hy is die Here wat die hemeldak gemaak het en wat dit soos 'n tent styfgetrek het. Hy is die Here wat die aarde gemaak het en alles wat uit die aarde kom. Hy is die Here wat asem en lewe gee aan die mense wat op die aarde is. Hy het gesê: “Ek, die Here, het jou geroep om te doen wat Ek wil hê, en Ek hou jou hand vas en Ek beskerm jou. Jy moet my verbond wees met my volk, jy moet die lig wees vir die ander volke. Jy moet blinde mense weer laat sien en jy moet die mense laat uitkom wat in donker tronke is. Ek is die Here, dit is my Naam. Die mense moet My eer, hulle moet niemand anders eer nie. Hulle moet My prys, hulle moenie die beelde van gode prys nie. Alles het gebeur wat Ek voorheen gesê het, en nou sê Ek wat later nog sal gebeur. Ek sê dit vir julle voordat dit begin gebeur.”
JESAJA 42:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak. Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie, hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. 'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is. Self sal hy ook nie uitgedoof of geknak word nie totdat hy my wil op aarde gevestig het. Die eilande wag op wat hy hulle sal leer. So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg: Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan. Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie. Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind. Ek kondig nuwe dinge aan. Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor.
JESAJA 42:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Kyk, hier is my dienskneg wat Ek ondersteun, my uitverkorene in wie my binneste vreugde vind. Ek het my Gees op hom laat kom; hy sal reg vir die nasies laat deurbreek. Hy sal nie om hulp roep en nie uitroep nie. Hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. 'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n dowwe lamppit sal hy nie uitdoof nie; in getrouheid sal hy reg laat deurbreek. Hy sal nie weifel en nie geknak word nie, totdat hy reg op die aarde gevestig het; op sy lering wag die eilande. ” So sê die ware God, die HERE, wat die hemel geskep en oopgespan het, wat die aarde uitgebrei het, en dit wat daaruit voortkom, wat asem gee aan die mense daarop, lewensasem aan wie daarop beweeg: “ Ek, die HERE, het jou geroep met die oog op geregtigheid; Ek sal jou hand vasgryp, jou bewaar en jou bestem tot 'n verbond vir die volk, tot 'n lig vir die nasies – om blinde oë oop te maak, om gevangenes uit die kerker te lei, om hulle wat in donkerte sit, uit die tronk te lei. Ek is die HERE, dit is my Naam. My heerlikheid sal Ek nie afstaan aan 'n ander nie, my roem nie aan gesnede beelde nie. Die dinge van vroeër – kyk, dit het gebeur; en die nuwe dinge – Ek kondig dit aan, voordat dit uitspruit, laat Ek julle daarvan hoor.”
JESAJA 42:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, my kneg wat ek ondersteun; my uitverkorenes in wie my siel 'n welbehae het; Ek het my Gees op hom gelê: hy sal oordeel aan die heidene bring. Hy sal nie roep of ophef nie, en nie sy stem op die straat laat hoor nie. 'n Geknakte riet sal hy nie verbreek nie en die rokende vlas nie uitblus nie; Hy sal nie faal of moedeloos word nie, totdat Hy oordeel op die aarde gegee het; en die eilande sal wag op sy wet. So sê God die HERE, Hy wat die hemele geskape en uitgespan het; hy wat die aarde uitsprei en wat daaruit voortkom; hy wat aan die volk daarop asem gee, en gees vir die wat daarin wandel; Ek, die HERE, het jou geroep in geregtigheid, en Ek sal jou hand vashou en jou bewaar en jou gee as 'n verbond van die volke, as 'n lig vir die heidene; Om die blinde oë te open, om die gevangenes uit die gevangenis uit te bring en die wat in duisternis sit uit die gevangenis. Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee nie, en ook nie my lof aan gesnede beelde nie. Kyk, die vorige dinge het gebeur, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat dit uitspruit, vertel Ek julle daarvan.
JESAJA 42:1-9 Die Boodskap (DB)
Ek het iemand wat vir My werk. Ek help hom. Ek het hom spesiaal gekies. Ek hou baie van hom. Ek het hom die krag gegee om vir die nasies te leer wat reg is. Hy doen dit nie met ’n geskreeu en ’n lawaai nie. Hy gaan nie op straat te kere nie. Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die grond in trap nie. Hy sal nie iemand se laaste bietjie hoop vernietig nie. Hy sal eerlik wees wanneer hy sê wat reg is. Hy sal hom nie laat keer om vir die wêreld te leer wat reg is nie. Die lande oorkant die see sal wag om te hoor wat hy sê. Die Here God het die blou lug oor die aarde gespan. Hy het die uitgestrekte aarde gemaak. Hy het dit volgemaak met alles wat daarop lewe. Hy gee lewe aan almal wat op aarde is. Hy gee vir al die volke op aarde asem om te lewe. Hy sê vir hierdie man: Ek is die Here. Ek het jou geroep om geregtigheid op aarde te bring. Ek sal jou hande sterk maak en jou beskerm. Deur jou maak Ek ’n ooreenkoms met die volke. Jy is die lig wat die nasies na My toe lei. Jy sal dié wat blind was, laat sien. Jy sal dié wat in tronke was, laat uitkom. Jy sal dié wat in donker selle gebly het, daaruit bevry. My naam is die Here. Ek staan die eer wat Ek moet ontvang, aan niemand anders af nie. Ek laat geen afgod toe om soos Ek grootgemaak te word nie. Wat Ek voor die tyd al vir julle gesê het, gaan net so gebeur soos Ek gesê het. Ek laat julle hoor van dinge wat nog moet kom, selfs al voor dit begin het om te gebeur.
JESAJA 42:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Kyk, hier is die dienaar wat Ek ondersteun. Hy is die een wat Ek gekies het en wat my guns geniet. Ek het my Gees op hom laat kom. Hy sal regspreek oor die nasies. Hy sal nie roep of hard skree nie. Hy sal nie sy stem in die openbaar laat hoor nie. Hy sal ’n geknakte riet nie verder afbreek nie. Mense wat dof brand soos ’n lamppit sal hy nie uitdoof nie. Hy sal in opregtheid reg laat geskied. Hy sal nie moeg of moedeloos word nie, totdat reg en geregtigheid op aarde gevestig is. Selfs die kuslande en eilande wag vir sy opdragte.” So sê God, die HERE, wat die hemel gemaak en dit oopgespan het. Hy het die aarde gemaak en alles wat daarop is. Hy gee asem vir almal op aarde, lewe vir alles wat daarop beweeg. “Ek, die HERE, het jou geroep om my reg te demonstreer. Ek sal jou hand vat en jou beskerm. Ek sluit deur jou ’n verbond met die volk. En jy sal ’n lig vir die nasies wees om hulle na My terug te lei. Jy sal die oë van blinde mense oopmaak, gevangenes uit die tronk bevry, mense wat in die gevangenis sit, vrylaat. “Ek is die HERE, dit is my Naam. My eer deel Ek met niemand anders nie. Die lof wat My toekom, deel Ek nie met afgode nie. Alles wat Ek gesê het, het net so gebeur. En nou vertel Ek jou van nuwe dinge wat gaan gebeur. Voordat dit gebeur, vertel Ek dit reeds aan julle.”