HEBREËRS 4:1-15
HEBREËRS 4:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat ons dan vrees dat, terwyl daar 'n belofte om in sy rus in te gaan, ons agtergelaat word, dit lyk of iemand van julle dit ontbreek. Want aan ons is die evangelie verkondig, sowel as aan hulle; Want ons wat geglo het, gaan in die rus in, soos Hy gesê het: Soos Ek in my toorn gesweer het, as hulle in my rus sal ingaan, al is die werke volbring van die grondlegging van die wêreld af. Want hy het op 'n sekere plek van die sewende dag op hierdie wyse gespreek, en God het op die sewende dag gerus van al sy werke. En weer op hierdie plek, as hulle in my rus ingaan. Aangesien dit dan oorbly dat sommige daarin moet ingaan, en die aan wie dit eers verkondig is, het nie ingegaan vanweë ongeloof nie. Weer beperk hy 'n sekere dag deur in Dawid te sê: Vandag, na so 'n lang tyd; soos daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Jesus hulle rus gegee het, sou Hy nie later van 'n ander dag gepraat het nie. Daar bly dus rus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, hy het ook opgehou van sy eie werke, soos God van syne gedoen het. Laat ons ons dan arbei om in daardie rus in te gaan, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongeloof val nie. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die gedagtes en bedoelings van die hart. Daar is ook geen skepsel wat nie voor sy oë sigbaar is nie, maar alles is naak en oop voor die oë van Hom met wie ons te doen het. Aangesien ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deurgegaan het na die hemele, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan ons belydenis. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie deur die gevoel van ons swakhede aangeraak kan word nie; maar was in alle opsigte versoek soos ons, maar sonder sonde.
HEBREËRS 4:1-15 Bybel vir almal (ABA)
God het belowe dat Hy sy volk sal laat kom in die land waar hulle veilig kan woon en kan rus, en hierdie belofte is nou nog waar. Daarom moet ons oppas, God sal miskien sê dat party van julle nie in die land sal kom waar ons veilig kan woon en kan rus nie. Want ons het ook die goeie boodskap gehoor soos daardie mense wat uit Egipte gekom het, dit gehoor het. Maar die boodskap wat hulle gehoor het, het hulle nie gehelp nie omdat hulle nie geglo het nie. Want ons wat glo, gaan in die land in waar ons veilig kan woon en kan rus. Die Here het gesê: Ek was kwaad en Ek het gesê: So seker soos Ek lewe, hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie. God het dit nie gesê omdat Hy nie vir hulle rus kan gee nie. God kan vir mense rus gee, Hy rus self vandat Hy die wêreld gemaak het. Want God het gepraat oor die sewende dag en Hy het gesê: “ God het op die sewende dag gerus, Hy het nie gewerk nie.” En ons lees ook dat God sê: “ Hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie.” Die mense wat voorheen die goeie boodskap gehoor het dat God vir hulle rus sal gee, het nie ingegaan in die plek waar hulle kan rus soos God vir hulle belowe het nie. Hulle het nie ingegaan nie omdat hulle ongehoorsaam was. Maar party mense sal kan ingaan in die plek waar hulle veilig kan wees en kan rus, soos God belowe het. Daarom het God besluit dat daar weer 'n dag sal wees wat Hy “Vandag” noem. Dit het gebeur toe Dawid lank hierna gepraat het oor die dinge waaroor ek nou geskryf het. Dawid het gesê: Vandag, wanneer julle luister na wat God sê, dan moet julle nie hardkoppig wees nie. Want as Josua die volk gebring het in 'n land waar hulle veilig kan woon en kan rus, dan sou God nie later gepraat het van 'n ander dag nie. Daarom sal die volk van God nog kom in die land waar hulle veilig kan woon en kan rus, soos hulle op die Sabbatdag rus. Want wanneer God iemand laat rus, dan werk die persoon nie meer nie, soos God gerus het toe Hy klaar gewerk het. Daarom moet ons hard probeer om daardie rus by God te kry, sodat niemand van ons so ongehoorsaam sal wees soos Israel was nie. Want die boodskap van God is nie woorde wat dood is en niks beteken nie, dit kan werk en dinge doen. Dit is skerper as die skerpste swaard, dit kan diep oopsny, tot by 'n mens se lewe en gees, tot by sy murg en die bene in sy liggaam. Dit kan sien wat is reg en wat is verkeerd wanneer 'n mens dink en graag dinge wil doen. En God kan almal en alles sien, niemand kan iets wegsteek vir Hom nie, Hy sien alles presies soos dit is. Ons moet vir God alles verduidelik wat ons gedoen het. Jesus wat die Seun van God is, het gegaan tot by God in die hoogste hemel, en Jesus is nou ons groot Hoëpriester. Daarom moet ons aanhou om die dinge te glo wat ons weet is waar. Want ons het 'n Hoëpriester wat presies weet hoe dit voel om so swak te wees soos ons. Die duiwel het op baie maniere hard probeer om vir Jesus te verlei, soos hy ook vir ons probeer verlei. Maar Jesus het nie sonde gedoen nie.
HEBREËRS 4:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LAAT ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie — alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer 'n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van 'n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus 'n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. TERWYL ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
HEBREËRS 4:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: “Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan. God het immers weer 'n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.” As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van 'n ander dag gepraat het nie. Daar wag dus nog steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee. Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
HEBREËRS 4:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat ons daarom versigtig wees, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan, nog bly staan, dat dit nie mag blyk dat een van julle agtergebly het nie. Want net soos aan hulle, is die goeie boodskap ook aan ons verkondig. Maar die boodskap wat hulle gehoor het, het hulle nie gebaat nie, omdat hulle nie deur die geloof verenig is met dié wat dit wel gelowig aangehoor het nie. Ons wat tot geloof gekom het, gaan immers wel die rus in – soos Hy gesê het, “So het Ek in my toorn gesweer, ‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ” al was God se werke reeds vanaf die grondlegging van die wêreld afgehandel. Hy het immers êrens aangaande die sewende dag gesê: “God het op die sewende dag van al sy werke gerus.” En in hierdie gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!” Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – bepaal Hy weer 'n sekere dag, dit is “vandag”, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!” As Josua hulle dan tot rus gebring het, sou Hy nie gepraat het van 'n ander dag daarna nie. Daar bly dus steeds 'n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord. Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die •Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het.
HEBREËRS 4:1-15 Die Boodskap (DB)
God het beloof dat sy mense eendag vir ewig saam met Hom sal rus. Dit geld ook vir ons. Ons moet seker maak dat julle almal dit uiteindelik sal haal. Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie. Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus. God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.” Hierdie plek waar ons vir ewig saam met God sal rus, is lankal klaar, want alles wat God gedoen het, het Hy klaargemaak toe Hy die wêreld gemaak het. Iewers staan mos oor die sewende dag geskryf: “Op die sewende dag het God gerus toe Hy al sy werk klaar gedoen het.” Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie. Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie. Maar God het die mense nog ’n kans gegee. Daarom het Hy nog ’n dag, wat Hy “vandag” noem, gegee. Hy het lank daarna weer deur Dawid daaroor gepraat: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer nie.” Hierdie rus wat God aan mense beloof het, is nie die rus wat Josua vir die Israeliete gegee het toe hy hulle in Kanaän ingelei het nie. Dan sou God mos nie jare later deur Dawid weer van ’n ander dag (die “vandag”) gepraat het nie. Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus soos God op die sewende dag gerus het. Iemand wat vir ewig saam met God sal rus, sal net soos God rus nadat Hy alles gemaak het. Ons moet nie die voorbeeld van die ou Israeliete volg en by God in die moeilikheid beland soos hulle nie. Hulle wou mos nie na God luister nie. Ons moet egter ons uiterste bes probeer om seker te maak dat ons vir ewig saam met God sal gaan rus. Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie. God weet alles wat in die wêreld aangaan. Net mooi niks kan vir Hom weggesteek word nie. Hy sien en weet alles asof dit voor Hom op ’n tafel uitgepak is. So sal ons ook voor Hom moet staan en antwoorde gee oor wat in ons lewe aangaan. Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou. Ons het baie goeie rede om dit te doen: Jesus, die Seun van God, is ons groot Hoëpriester wat tot by God self gegaan het. Hy sal ons saak by God behartig. Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur dieselfde versoekings as ons, met dié verskil dat Hy nie een maal ’n fout gemaak het nie.
HEBREËRS 4:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God se belofte dat ons sy rus kan binnegaan, staan nog steeds. Daarom moet ons oppas dat dit nie dalk blyk dat een van julle langs die pad agtergebly het nie. Want hierdie blye boodskap van ’n plek van rus het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie. Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan. Ten opsigte van hulle wat nie geglo het nie, het God egter gesê: “Daarom het Ek in my toorn met ’n eed soos volg verklaar: ‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’” Dit is ten spyte van die feit dat God se rusplek alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af. Ons weet dit is so, want die Skrif sê êrens van die sewende dag: “En God het op die sewende dag gerus van alles wat Hy gemaak het.” In die ander gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.” God se plek van rus is dus beskikbaar, maar dié wat destyds die goeie tyding ontvang het, kon as gevolg van hulle ongeloof nie daar ingaan nie. Gevolglik het God weer ’n dag bepaal om sy rus binne te kan gaan. Daardie dag is vandag. God het dit aansienlik later deur Dawid aangekondig, naamlik: “Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard nie.” Hierdie nuwe rusplek was nie die land Kanaän waarheen Josua die Israeliete gelei het nie. Anders sou God nie later van ’n ander plek van rus gepraat het nie. Daar wag dus nog ’n heel spesiale rus vir God se volk. Want almal wat in hierdie rus van God ingaan, sal self rus van hulle moeitevolle arbeid, soos God ook van sy eie skeppingswerk gerus het. Kom ons span dan alles in om daardie rus binne te gaan sodat niemand van ons dalk hulle slegte voorbeeld van ongehoorsaamheid volg en ook omkom nie. Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop. Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen. Ons het dan nou ’n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou. Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.