GENESIS 45:1-15

GENESIS 45:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Josef kon nie meer vir die mense wegsteek hoe hy voel nie. Hy het gesê al die ander mense moet weggaan van hom. Net sy broers het by hom gebly. Toe het hy vir sy broers gesê wie hy is. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se huis dit gehoor het. Josef het vir sy broers gesê: “Ek is Josef. Lewe Pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was te bang vir hom. Toe sê Josef vir sy broers: “Kom asseblief nader na my toe.” Hulle het nader gekom, en hy het vir hulle gesê: “Ek is julle broer Josef, julle het my verkoop, en die mense wat my gekoop het, het my na Egipte gebring. Julle moenie sleg voel en vir julleself kwaad wees omdat julle my verkoop het nie. God het my gestuur om voor julle hiernatoe te kom sodat ek mense se lewens kan red. Dit is nou die tweede jaar dat daar hongersnood in die land is. Dit sal nog vyf jaar lank so droog wees dat die mense nie sal kan ploeg en plant nie. God het my vóór julle gestuur om julle te help sodat daar van julle mense in die land kan aanhou lewe en sodat ek baie mense kan red. Dit was nie júlle wat my hiernatoe laat kom het nie, dit was Gód. Hy het my gekies om vir die farao te sê wat hy moet doen. Ek is ook die hoof van die farao se hele huis, en die hoof oor die hele Egipte. “Gaan nou dadelik na Pa toe en sê vir hom sy seun Josef sê: ‘God het my die hoof oor die hele Egipte gemaak. Pa moet na my toe kom, moenie wag nie. Pa kan in Gosen woon en naby my wees, jy en jou kinders en jou kleinkinders en jou skape en bokke en beeste, alles wat aan Pa behoort. Dan kan ek vir Pa hier sorg, want daar sal nog vyf jaar lank min kos wees. As Pa na my toe kom, dan sal Pa nie arm word nie, jy en jou seuns en almal by jou.’ “Julle kan sien dit is ek, en Benjamin kan ook sien dit is ek, Josef, wat met julle praat. Gaan vertel vir Pa ek is 'n belangrike man in Egipte. Vertel vir hom van alles wat julle hier sien, en maak gou, bring Pa na my toe.” Toe sit Josef sy arms om sy broer Benjamin se nek en hy huil. Benjamin het ook vir Josef omhels en gehuil. Josef het al sy broers gesoen en hy het by hulle gestaan en huil. Daarna het sy broers met hom gepraat.

GENESIS 45:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot 'n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my 'n raadsman van Farao gemaak en 'n gebieder oor sy hele huis en 'n regeerder in die hele Egipteland. Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my 'n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort. En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek. Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af. Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween. En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek.

GENESIS 45:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’ Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.” Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.

GENESIS 45:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nader gegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op 'n groot uitredding. Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as 'n vader vir die farao aangestel, as 'n heer vir sy hele huishouding en 'n regeerder oor die hele Egipteland. Maak gou en trek op na my pa. Sê vir hom, ‘So sê u seun Josef: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte. Trek af na my toe. Moenie talm nie! Kom woon in die Gosenstreek, sodat pa naby my kan wees – pa en pa se kinders en kleinkinders, en ook pa se kleinvee en beeste en alles wat aan pa behoort. Ek sal pa daar van kos voorsien, want daar gaan nog vyf jaar lank hongersnood wees. Anders verarm pa – pa, pa se huis en almal wat aan pa behoort.” ’ Kyk, julle sien nou self, en my broer Benjamin sien dit ook, dat dit my eie mond is wat met julle praat. Vertel vir my pa van al die aansien wat ek in Egipte geniet, en van alles wat julle gesien het. Maak net gou en bring my pa af hierheen.” Toe val hy sy broer Benjamin om die nek en huil, en Benjamin het op sy skouer gehuil. Hy het al sy broers gesoen en by hulle gehuil. Daarna het sy broers met hom gepraat.

GENESIS 45:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe kon Josef hom nie weerhou voor almal wat by hom gestaan het nie; en hy het uitgeroep: Laat elkeen van my af weggaan. En niemand het by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. En hy het hardop geween, en die Egiptenaars en die huis van Farao het dit gehoor. Toe sê Josef aan sy broers: Ek is Josef; lewe my vader nog? En sy broers kon hom nie antwoord nie; want hulle was ontsteld voor sy aangesig. Toe sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En hulle het nader gekom. En hy sê: Ek is julle broer Josef, wat julle na Egipte verkoop het. Wees dan nou nie bedroef en nie kwaad vir julleself dat julle my hierheen verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om die lewe te bewaar. Want hierdie twee jaar was daar hongersnood in die land, en nogtans is daar vyf jaar waarin daar geen versnyding of oes sal wees nie. En God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n nageslag op die aarde te bewaar en julle lewens te red deur 'n groot verlossing. En nou was dit nie U wat my hierheen gestuur het nie, maar God; en hy het my 'n vader vir Farao gemaak en heer oor sy hele huis en 'n owerste oor die hele Egipteland. Gaan gou op na my vader en sê vir hom: So sê jou seun Josef: God het my aangestel as heer oor die hele Egipte; kom af na my toe, moenie vertoef nie. En jy sal in die land Gosen woon, en jy moet naby my wees, jy en jou kinders en jou kindskinders en jou kleinvee en jou beeste en alles wat jy het. En daar sal Ek jou voed; want daar is nog vyf jaar van hongersnood; dat jy en jou huisgesin en alles wat jy het, nie in armoede kom nie. En kyk, julle oë sien, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek. En julle moet my vader vertel van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het; en julle moet gou my vader hierheen afbring. En hy het sy broer Benjamin om die nek geval en geween; en Benjamin het om sy nek geween. Verder het hy al sy broers gesoen en oor hulle geween; en daarna het sy broers met hom gepraat.

GENESIS 45:1-15 Die Boodskap (DB)

Josef kon dit nie meer langer hou nie en het vir die ander gesê om uit te gaan. Niemand anders was by nie toe Josef begin praat. Na ’n paar woorde het hy in trane uitgebars. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het. Selfs die mense in die farao se huis het dit gehoor. Na ’n ruk het hy weer probeer: “Ek is Josef! Leef Pa werklik nog en is dit waar dat hy nog gesond is?” Sy broers was totaal en al stomgeslaan. “Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het? Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help. Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie. God het my solank Egipte toe gestuur sodat ek vir julle kos kon bêre. So kon julle en ook Pa eet en bly leef. Hoe wonderlik werk die Here tog nie! My broers, dit is nie julle wat my hierheen laat kom het nie, maar God. Hy het my Egipte toe laat kom om vir die farao amper soos ’n pa te wees. Hy het my toe die hoof van sy hele administrasie gemaak en my oor die hele land laat regeer. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: U seun Josef sê: Pa, ek leef nog! God het my oor die hele Egipte aangestel en ek wil hê Pa moet onmiddellik na my toe kom. Ek wil hê Pa moet sommer hier naby my by ’n plek wat ons Gosen noem, kom bly. Al Pa se kinders en kleinkinders moet saamkom. En bring ook al die vee en alles wat Pa besit saam. Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’ Julle moet al hierdie dinge vir Pa gaan vertel. Julle almal en ook Benjamin het self gesien dat ek leef en dat dit ek is wat met julle praat. Sê vir Pa ek is onderkoning en vertel hom van al die wonderlike dinge wat julle hier gesien het. Julle moet reguit huis toe gaan en vir Pa gaan haal.” Josef het Benjamin toe omhels en begin huil. Benjamin het Josef ook omhels en op sy skouer gehuil. Toe het hy al sy broers omhels en hulle gesoen. Josef was baie bewoë. Die broers het tot verhaal gekom en met Josef begin praat.

GENESIS 45:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe kon Josef dit nie meer voor al sy personeel uithou nie. “Gaan uit, almal van julle!” beveel hy hulle. Daar was niemand anders teenwoordig toe Josef hom aan sy broers bekendstel nie. Toe bars hy in trane uit. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het en ook die mense in die farao se paleis. “Ek is Josef!” sê hy vir sy broers. “Leef Pa nog?” Maar sy broers was stomgeslaan, want hulle het baie bang geword. “Kom nader na my toe,” sê hy. Hulle kom toe nader. Hy sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is. Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word. Twee jaar hongersnood is verby, maar daar lê nog vyf jaar voor. In dié tyd sal daar nie geploeg en geoes kan word nie. God het my voor julle uit gestuur om voorsorg te tref dat julle en julle gesinne aan die lewe kan bly en sodat julle ’n groot nasie kan word. Ja, dit is God wat my gestuur het en nie julle nie! Hy het gesorg dat ek as Farao se raadgewer aangestel word, en ook as bestuurder van sy hele huishouding en heerser oor die hele Egipte. “Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het my heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik hierheen! Pa kan in die streek van Gosen woon sodat Pa naby my kan wees saam met Pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal daar vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.’” Josef sê verder: “Julle kan nou self sien, en ook my broer Benjamin kan sien, dit is regtig ek, julle broer Josef wat met julle praat! Gaan vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik hiernatoe.” Terwyl hy huil van vreugde, omhels hy vir Benjamin, wat ook begin huil het. Daarna het Josef elkeen van sy broers omhels en by hulle gehuil. Toe eers het hulle met hom begin praat.