GENESIS 42:5-7
GENESIS 42:5-7 Bybel vir almal (ABA)
So het Israel se seuns saam met ander mense van Kanaän gegaan om koring in Egipte te koop, omdat daar min kos in Kanaän was. Josef was die hoof van die land en hy het die koring aan die mense verkoop. Josef se broers het gekom en hulle het voor hom gebuig. Toe Josef sy broers sien, het hy geweet dat dit sy broers is, maar hy het gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kwaai met hulle gepraat en vir hulle gevra: “Van waar kom julle?” Hulle het gesê: “Ons kom van Kanaän. Ons kom kos koop.”
GENESIS 42:5-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän. En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig. Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kanaän om voedsel te koop.
GENESIS 42:5-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die seuns van Israel het saam met ander mense gegaan wat ook koring in Egipte wou gaan koop omdat daar hongersnood was in die hele Kanaän. Josef was in beheer van Egipte en hy het self die graan aan die mense verkoop. Sy broers het dus na hom toe gegaan en diep voor hom gebuig. Toe hy sy broers sien, het hy hulle herken. Maar hy het hulle nie laat agterkom wie hy is nie. Hy het hulle bars aangespreek en gevra: “Waarvandaan is julle?” Hulle het hom geantwoord: “Ons is van Kanaän. Ons kom koop graan.”
GENESIS 42:5-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So het Israel se seuns dan in Egipte aangekom om graan te koop, saam met ander wat ook gekom het, want daar was hongersnood in die land Kanaän. Josef was die heerser oor die land. Hy was die een wat aan al die mense van die land graan verkoop het. Josef se broers het daar aangekom, en hulle het diep voor hom neergebuig, met hulle gesigte na die grond. Toe Josef sy broers sien, het hy hulle herken. Hy het hom egter vreemd gehou teenoor hulle en hulle streng aangespreek. Hy het vir hulle gevra: “Waarvandaan kom julle?” Hulle het geantwoord: “Van die land Kanaän af, om kos te koop.”
GENESIS 42:5-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die kinders van Israel het gekom om koring te koop onder die wat gekom het, want die hongersnood was in die land Kanaän. En Josef was die goewerneur oor die land, en hy was dit wat aan al die mense van die land verkoop het; en Josef se broers het gekom en hulle voor hom neergebuig met hulle aangesig na die aarde. En Josef het sy broers gesien en hulle geken, maar hy het hom vreemd vir hulle gemaak en hardhandig met hulle gepraat; en Hy sê vir hulle: Waar kom julle vandaan? En hulle sê: Uit die land Kanaän om voedsel te koop.
GENESIS 42:5-7 Die Boodskap (DB)
Jakob se seuns is toe daar weg. Soos baie ander mense is hulle Egipte toe om kos te gaan koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood in Kanaän het by die dag erger geword. Josef het die land regeer en almal se porsies vir hulle afgemeet. Toe sy broers by hom kom, het hulle laag voor hom gebuig. Hy het hulle onmiddellik herken. Hy het egter gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kortaf vir hulle gevra: “Waar kom julle vandaan?” “Ons kom van Kanaän af, Meneer, en ons het gekom om kos te koop,” het hulle geantwoord. Hulle het hom egter nie herken nie.
GENESIS 42:5-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jakob se seuns het saam met ander mense in Egipte aangekom om kos te koop omdat die hongersnood ook Kanaän getref het. Josef was in beheer van die hele Egipte. Hy het ook die graanverkope behartig. Daarom het sy broers na hom toe gegaan. Hulle het diep voor hom gebuig. Josef het hulle dadelik herken, maar hom as ’n vreemdeling voorgedoen. “Van waar is julle?” het hy kortaf gevra. “Van die land Kanaän,” antwoord hulle. “Ons het gekom om graan te koop.”