EFESIËRS 6:10-14
EFESIËRS 6:10-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan
EFESIËRS 6:10-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ten slotte: Vind krag in julle verbondenheid aan die Here, ja, in die krag van sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vasstaan. Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.
EFESIËRS 6:10-14 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil vir julle nog één ding sê: Julle behoort aan die Here. Hy is baie sterk, Hy sal vir julle sy krag gee, en julle moet sterk wees. Julle moet alles gebruik wat God vir julle gee om aan te hou oorlog maak teen die duiwel. Hy maak baie skelm planne teen julle. Ons veg nie teen mense nie, ons veg teen bose geeste en hulle leiers. Die mense van die wêreld luister na geeste, maar ons veg teen slegte geeste in die lug. Daarom moet julle soos soldate al die klere en wapens gebruik wat God vir julle gee. As julle dit doen, dan sal julle kan veg wanneer die slegte dag kom en die oorlog begin, en wanneer die oorlog verby is, dan sal julle nog staan. Julle moet vas staan. Julle moet die waarheid praat. Dit is soos die belt om 'n soldaat se heupe. Julle moet altyd doen wat reg is. Dit is soos die harnas van 'n soldaat.
EFESIËRS 6:10-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas
EFESIËRS 6:10-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid
EFESIËRS 6:10-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ten slotte, my broeders, word sterk in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstel nie teen vlees en bloed nie, maar teen owerhede, teen magte, teen die owerhede van die duisternis van hierdie wêreld, teen geestelike boosheid in die hoogtes. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan op, julle lendene omgord met waarheid en met die borswapen van geregtigheid aan
EFESIËRS 6:10-14 Die Boodskap (DB)
Daar bly nog een ding oor waaroor ek met julle wil praat. As Christene moet julle in hierdie lewe sterk staan, maar julle kan dit alleen doen as julle naby aan die Here bly. Hy is sterk en daarom kan Hy julle sterk maak. Laat ek die voorbeeld van soldate in ’n oorlog gebruik. Trek die klere aan wat God vir julle gegee het om mee te veg sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie. Een ding moet julle weet. Daar is ’n oorlog aan die gang en ons veg ook daarin. Dis nie ’n oorlog teen gewone mense nie. Ons moet teen die onsigbare geestelike magte van Satan veg. Hulle hou hulle sterk hier op aarde en doen bose dinge, maar kom eintlik van oral af. Sorg dat julle al die wapens reg hou wat God vir julle gegee het sodat wanneer die bose magte op julle toesak, julle nie ’n duim vir hulle hoef terug te tree nie. Met al sy aanvalle en dinge sal die duiwel net mooi niks aan julle kan doen nie. Julle sal die wenners wees. Dit is die klere wat julle moet aantrek om te keer dat die duiwel iets aan julle doen: die waarheid moet jy soos ’n belt om jou middel vasbind. Die wete dat God jou van al jou sondes vrygespreek het, moet soos ’n stuk staal jou bors beskerm.