EFESIËRS 5:6-17

EFESIËRS 5:6-17 Die Boodskap (DB)

Moenie julle laat bedrieg deur mense wat hierdie dinge wil goedpraat met baie woorde wat eintlik dolleeg is nie. Sulke dinge bring mense in die moeilikheid by God. God sal hulle straf as hulle nie na Hom wil luister nie. Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is. Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie. As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is. In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien. Dit is daarom dat die Skrif sê: “Word wakker, jou slaper; word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou laat val.” Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.

EFESIËRS 5:6-17 Bybel vir almal (ABA)

Daar is mense wat vir julle dinge wil leer wat nie waar is nie, hulle wil hê julle moet verkeerd doen. Julle moenie doen wat hulle sê nie, want mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf. Daarom moet julle nie saam met hulle slegte dinge doen nie. Voorheen was julle soos mense wat in die donker lewe, maar nou behoort julle aan die Here en nou is julle in die lig. Daarom moet julle lewe soos mense wat in die lig lewe. Julle moet die dinge doen wat mense doen wat in die lig lewe, julle moet goeie dinge doen, dinge wat reg is, julle moet eerlik wees. Julle moet uitvind waarvan die Here hou en julle moet dit doen. Julle moenie die dinge doen wat die mense doen wat in die donker lewe nie. Hulle doen dinge wat nie goed is nie. Julle moet vir hulle almal sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Hulle doen baie slegte dinge in die geheim, dit is so sleg dat 'n mens nie daaroor wil praat nie. Wanneer die lig op daardie dinge skyn, dan wys dit vir almal hoe daardie dinge is. Ja, 'n mens kan sien hoe iets is wanneer die lig daarop skyn. Daarom sing ons: Jy wat slaap, jy moet wakker word, jy moet weer begin lewe. Dan sal Christus 'n lig wees vir jou. Daarom moet julle seker wees dat julle reg lewe. Julle moet die regte dinge doen en sê. Julle moenie verkeerde dinge doen en sê nie. Julle moet elke minuut reg gebruik, elke minuut wat julle lewe, want dit is nou die tyd wanneer mense slegte dinge doen. Julle moenie dom dinge doen nie, julle moet seker wees dat julle verstaan wat die Here wil hê julle moet doen.