PREDIKER 11:1-8
PREDIKER 11:1-8 Bybel vir almal (ABA)
As jy iets het waarvan jy moet lewe, en jy stuur dit weg op die water, dan sal jy dit miskien ná 'n lang tyd terugkry. Jy moet jou goed verdeel en dit vir sewe of ag mense gee, want jy weet nie watter slegte dinge sal op die aarde gebeur nie. Wanneer die wolke vol water is, dan reën dit op die aarde totdat die wolke leeg is. Wanneer 'n boom val, dan bly die boom lê daar waar dit geval het, dit maak nie saak of dit na die noorde of na die suide val nie. As jy eers wil kyk hoe die wind waai, dan sal jy nie saai nie. As jy eers wil kyk of dit sal reën, dan sal jy nie koring afsny nie. Jy weet nie hoe die wind sal waai nie en jy weet nie hoe die bene van 'n baba in die liggaam van 'n swanger vrou kom nie. Dit is dieselfde: Jy weet nie wat God sal doen nie, God wat alles maak. Jy moet in die oggend jou saad op die land saai en jy moet aanhou saai tot die aand, want jy weet nie watter saad goed sal groei nie. Jy weet nie of dit goed sal gaan met die saad wat jy in die oggend gesaai het of met die saad wat jy in die middag gesaai het nie. Jy weet ook nie of al die saad goed sal groei nie. 'n Mens moet die lig geniet, dit is goed vir die oë om die son te sien. Ja, as 'n mens lank lewe, dan moet hy elke jaar van sy lewe geniet, maar hy moet daaraan dink dat die donker tyd ook lank sal wees, die tyd wanneer hy dood sal wees. Alles wat later kom, sal nie reg wees nie.
PREDIKER 11:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WERP jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind. Gee 'n deel aan sewe, ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie. As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as 'n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê. Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie. Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van 'n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie. Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie. Verder, soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug en dink aan die dae van duisternis, dat dit baie sal wees; alles wat kom, is nietigheid.
PREDIKER 11:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie. As die wolke vol water is, reën hulle leeg op die aarde; of 'n boom nou suid of noord val, dit bly lê waar dit geval het. Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie. Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles. Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal 'n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie. Die lig is aangenaam, dit is goed vir die oë om die son te sien. As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks.
PREDIKER 11:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Stuur jou graan oor die water, want ná baie dae kan jy dit terugkry. Gee 'n deel aan sewe, selfs aan agt, want jy weet nie watter ramp op die aarde sal gebeur nie. As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as 'n boom val, na die suide of na die noorde – waar die boom moet val, daar sal dit val. Wie die wind dophou, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie. Soos wat jy nie weet watter weg die gees volg in die gebeente binne die buik van 'n swanger vrou nie, net so ken jy nie die werk van God wat alles doen nie. Saai in die môre jou saad, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nie watter een gaan slaag nie, hierdie of daardie, en of beide goed sal wees nie. Soet is die lig; dit is goed vir die oë om die son te sien. Ja, as die mens baie jare leef, moet hy hom in hulle almal verheug; maar hy moet onthou dat die donker dae baie gaan wees. Alles wat kom, is sinloos.
PREDIKER 11:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Gooi jou brood op die water, want ná baie dae sal jy dit vind. Gee 'n deel aan sewe en ook vir agt; want jy weet nie watter onheil op die aarde sal wees nie. As die wolke vol reën is, maak hulle hulleself leeg op die aarde; en as die boom val na die suide of na die noorde, op die plek waar die boom val, daar sal hy wees. Hy wat na die wind kyk, sal nie saai nie; en hy wat na die wolke kyk, sal nie maai nie. Soos jy nie weet wat die weg van die gees is en ook nie hoe die gebeente opgroei in die moederskoot van haar wat swanger is nie, so ken jy ook nie die werke van God wat alles maak nie. Saai jou saad in die môre, en in die aand moet jy jou hand nie terughou nie, want jy weet nie of dit voorspoedig sal wees nie, of dit of dat, en of hulle albei eenders goed sal wees. Waarlik, die lig is soet, en dit is aangenaam vir die oë om die son te aanskou. Maar as iemand baie jare lewe en hom oor almal verheug; laat hom tog dink aan die dae van duisternis; want hulle sal baie wees. Al wat kom, is nietigheid.
PREDIKER 11:1-8 Die Boodskap (DB)
Waag soms ’n kans met ’n belegging. Wie weet, dit verras jou dalk nog eendag. Versprei dit net oor ’n paar plekke, want ’n mens weet nooit watter teëspoed jou nog in hierdie land kan tref nie. Alles is vooraf bepaal. As die wolke vol reën is, sal hulle dit op die aarde uitgiet. En as ’n boom afgekap word, sal dit op die bestemde plek val. Of dit nou noord of suid is, maak nie saak nie. Dit sal op die regte plek val. Moenie heeltyd die wind dophou en na die wolke opkyk nie, want die reën sal op sy bepaalde tyd kom. Werk liewer voluit voort. Soos jy nie weet hoe lewe in ’n vrou wat verwag se buik ontstaan nie, net so min verstaan ’n mens die werk van God. Saai in die oggend, maar ook in die aand, want jy weet nooit watter van die twee gaan opkom nie. Hoe mooi is lig nie, en hoe lekker die strale van die son! As iemand lank leef en oud word, moet hy die lewe geniet. Hy moet egter ook aan die dood dink en onthou dat die tyd na die dood lank gaan duur. Alles is sinloos. Daar is niks om na uit te sien nie.
PREDIKER 11:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gooi jou brood op die water, want na ’n lang tyd kry jy dit terug. Sit jou besittings op sewe of agt plekke. Jy weet immers nie watter rampe die land kan tref nie. As wolke vol water is, val daar reën op die aarde. Of ’n boom nou suid val of noord, dit bly lê waar dit geval het. As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie. Net so min as wat jy die pad van die wind ken, of weet hoe die liggaam lyk in die skoot van ’n swanger vrou, net so min verstaan jy die werk van God wat vir alles verantwoordelik is. Saai jou saad vroegoggend, maar moenie ophou as dit aand word nie. Jy weet nie watter een suksesvol sal wees, en of al twee saam ’n goeie oes sal lewer nie. Lig is soet, en dis goed vir die oë om die son te sien. Ongeag hoe lank jy lewe, geniet elke oomblik daarvan. Maar onthou die donker dae, want hulle sal baie wees. Tog is alles wat kom, sinloos.