DEUTERONOMIUM 14:22-26
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Bybel vir almal (ABA)
“Julle moet elke jaar een tiende van alles wat julle geplant het en wat julle uit die grond kry, apart hou. Dan moet julle dit eet op die plek wat julle God die Here sal kies om self daar te woon, daar waar Hy is. Julle moet die tiende van julle koring en julle wyn en julle olyf-olie daar eet, en ook die vleis van die eerste kalwers en lammers, sodat julle kan leer om julle God die Here altyd te eer. Maar miskien is daardie plek te ver van julle, die plek wat julle God die Here sal kies om daar te woon, en miskien kan julle nie die tiendes daarnatoe dra nie, die tiendes van die dinge waarmee julle God die Here julle geseën het. Dan mag julle die tiendes verkoop en die geld saamneem na die plek wat julle God die Here sal kies. Daar mag julle dan alles koop wat julle wil hê: beeste, skape, bokke, wyn, bier, enige iets wat julle wil hê. En dan moet julle eet en feesvier daar waar julle God die Here dit kan sien, julle en julle huisgesinne.
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
JY moet noukeurig die hele opbrings van jou saad — wat jaar vir jaar uit die land uitspruit — vertien. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees. En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën, dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies. Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Jy moet elke jaar 'n tiende van die opbrengs van jou gesaaides, van wat op jou land groei, opsy sit: jy moet dit in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer. Maar as die Here jou God jou baie voorspoedig maak en die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig boonop nog ver van jou af is, sodat jy nie die tiende die hele ent pad kan dra nie, kan jy die tiende in geld omsit. Jy moet dan die geld vat en na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom gekies het. Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier, of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees.
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Jy moet jaar ná jaar presies een tiende van die volle opbrengs saad wat jou saailande oplewer, eenkant hou. Jy moet 'n tiende van jou koring, •nuwe wyn en olie, sowel as die eersgeborenes van jou beeste en kleinvee, in die teenwoordigheid van die HERE jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig, sodat jy kan leer om altyd ontsag te hê vir die HERE jou God. “ Maar as die afstand vir jou te groot is, as jy dit nie kan dra nie, omdat die HERE jou God jou geseën het en omdat die plek wat die HERE jou God gaan kies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, moet jy dit in silwer omsit en met die silwer toegebind in 'n sak, na die plek gaan wat die HERE jou God sal kies. Betaal dan met die silwer vir alles wat jou hart begeer, vir beeste en kleinvee, vir wyn en sterk drank, ja vir alles waarvoor jy lus het, en eet dit daar voor die HERE jou God, en wees bly, jy en jou huisgesin.
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jy moet die hele opbrings van jou saad wat die land jaar na jaar voortbring, waarlik tiendes gee. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te vestig, eet die tiende van jou koring, van jou wyn en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee; sodat jy kan leer om die HERE jou God altyddeur te vrees. En as die pad vir jou te lank is, sodat jy dit nie kan dra nie; of as die plek te ver van jou af is wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, wanneer die HERE jou God jou geseën het; Dan moet jy dit in geld verander en die geld in jou hand bind en gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies. En jy moet daardie geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste of kleinvee, of vir wyn of sterk drank of vir alles wat jou siel begeer; en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God, en jy moet wees bly, jy en jou huisgesin
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Die Boodskap (DB)
“Elke jaar moet jy ’n tiende van jou hele oes vir die Here opsy sit. Dan moet jy dit na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Daar moet jy die tiende van jou koring, mos en olie, asook die eerstelinge van jou beeste en skape, in die Here se teenwoordigheid neersit en ’n deel daarvan eet. So sal jy leer om die Here altyd lief te hê. “Wanneer alles wat jy as ’n tiende vir die Here vat egter vir jou te swaar word omdat die plek wat die Here gaan kies, te ver is, moet jy die tiendes verkoop. Vat dan die geld en gaan na die plek toe wat die Here nog sal aanwys. Koop vir jou daar net wat jy wil hê. Koop genoeg beesvleis, lamsvleis, wyn en enige ander drinkgoed. Neem dit dan na die plek toe wat die Here nog sal aanwys en geniet dit daar saam met jou familie en wees bly in die Here.
DEUTERONOMIUM 14:22-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Jy moet ’n tiende van jou oes eenkant sit, een tiende van alles wat jy elke jaar oes. Bring die tiende na die plek wat die HERE jou God kies om sy Naam te eer en eet dit daar in sy teenwoordigheid. Hierdie reëling geld vir die tiendes van jou graan, wyn, olyfolie en die manlike eersgeborenes uit jou grootvee en kleinvee. Die doel van die tiendes is om jou te leer om altyd die HERE jou God te eer. Dit mag wees dat jy besonder geseën was, maar dat die plek waar die HERE jou God kies om sy Naam te eer, te ver van jou huis af is. As dit so is, mag jy die tiende deel van jou oes en van jou diere verkoop en die geld neem na die plek wat die HERE jou God kies. Wanneer jy daar aankom, gebruik daardie geld om enigiets te koop wat jy wil: ’n bees, ’n skaap, wyn of bier. Jy en jou huishouding moet dan daar in die teenwoordigheid van die HERE jou God feesvier.