HANDELINGE 4:1-17
HANDELINGE 4:1-17 Bybel vir almal (ABA)
Petrus en Johannes was besig om met die mense te praat. Toe kom die priesters en die offisier van die wagte wat by die tempel werk en die Sadduseërs daar aan. Hulle was baie kwaad en ontsteld omdat Petrus en Johannes vir die mense geleer en vertel het dat as jy in Jesus glo, dan sal jy weer lewe nadat jy gesterf het. Hulle het toe vir Petrus en Johannes gevang en hulle het hulle in die tronk gesit tot die volgende dag, want dit was al klaar donker. Maar baie van die mense wat gehoor het wat Petrus en Johannes sê, het begin glo. Hulle het net die mans getel, en daar was omtrent 5 000 mans. Die volgende dag het die Jode se leiers en familieleiers en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaargekom. Annas die hoëpriester, Kajafas, Johannes, Aleksander, en al die ander mans wat familie was van die hoëpriester, was ook daar. Hulle het vir Petrus en Johannes in die middel laat staan en het vir hulle gevra: “Wie se krag of wie se naam het julle gebruik toe julle die lam man gesond gemaak het?” Die Heilige Gees het toe in Petrus gekom, en Petrus het gesê: “Leiers van die volk en familieleiers, julle beskuldig ons vandag omdat ons iets goed gedoen het vir 'n siek man, omdat ons iets gedoen het wat hierdie man gesond gemaak het. Julle almal, en die hele volk Israel, moet weet dat Jesus Christus van Nasaret hierdie man gesond gemaak het, daarom staan die man nou hier voor julle. Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het Hom weer laat lewe. Hierdie Jesus is “ die klip, en julle is die bouers, julle het hierdie klip weggegooi, maar hierdie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. “Net Jesus kan ons red, niemand anders nie. God het nie 'n ander naam op die aarde vir die mense gegee wat ons kan red nie, Hy wil hê die Naam van Jesus moet ons red.” Die Joodse leiers was verbaas toe hulle sien dat Petrus en Johannes nie bang is om oor Jesus te praat nie. Want hulle het geweet dat Petrus en Johannes die Wette van Moses nie goed geken het nie en dat hulle nie geleer het om voor ander mense te praat nie. Hulle het ook geweet dat Petrus en Johannes dissipels van Jesus was. Maar hulle het gesien die lam man wat gesond geword het, staan by Petrus en Johannes, en daarom kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het vir Petrus en Johannes gesê om buite die Joodse Raad te gaan wag. Hulle het toe vergadering gehou en met mekaar gepraat. Hulle het gesê: “Wat sal ons doen met hierdie mense? Want God het hulle 'n teken laat doen, dit is seker. Al die mense van Jerusalem dink so, ons kan nie stry nie. Maar ons wil nie hê dat nog méér mense daarvan moet hoor nie. Daarom moet ons hulle waarsku om nie weer Jesus se Naam te noem nie, hulle moenie met iemand oor Hom praat nie.”
HANDELINGE 4:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig. En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand. En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword. Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar, ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was; en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen? Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor 'n weldaad aan 'n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat 'n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken. En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar 'n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie. Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie.
HANDELINGE 4:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding 'n werklikheid geword het. Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend. Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde, julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan – dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is “die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”
HANDELINGE 4:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hulle nog besig was om die volk toe te spreek, het die priesters en die bevelvoerder van die tempelwag en die •Sadduseërs op hulle afgekom, hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig. Hulle het hulle toe gevange geneem en onder bewaking geplaas tot die volgende môre, omdat dit reeds aand was. Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het. Die volgende dag het hulle leiers en familiehoofde en skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom – ook Annas, die hoëpriester, en Kajafas en Johannes en Aleksander, en almal wat tot die hoëpriesterlike familie behoort het. Hulle het •Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, as ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het, moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret “wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. “Hy is “ ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, en die hoeksteen geword het.’ “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. ” Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat hulle die man wat gesond gemaak is, by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat, en met mekaar beraadslaag: “Wat gaan ons met hierdie mense doen? Dit is immers vir al die inwoners van Jerusalem duidelik dat 'n onmiskenbare teken deur hulle toedoen plaasgevind het. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te verhoed dat dit verder onder die volk versprei, laat ons hulle dreig, sodat hulle nie meer met enige mens in hierdie Naam praat nie.”
HANDELINGE 4:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hulle met die volk gespreek het, het die priesters en die owerste van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom. Hulle was bedroef dat hulle die mense geleer het en deur Jesus die opstanding uit die dode verkondig het. En hulle het hulle die hande opgelê en hulle vasgehou tot die volgende dag, want dit was nou aand. Maar baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne was omtrent vyf duisend. En die volgende dag het hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes. En Annas, die hoëpriester, en Kajafas, en Johannes en Alexander, en almal uit die geslag van die hoëpriester, was in Jerusalem bymekaar. En toe hulle hulle in die midde gestel het, vra hulle: Met watter krag of met watter naam het julle dit gedoen? Toe sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle: Regeerders van die volk en oudstes van Israel! As ons vandag ondersoek word na die goeie daad wat aan die magtelose mens gedoen is, hoe word hy gesond; Laat dit aan julle almal en aan die hele volk van Israel bekend wees dat deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret, wat julle gekruisig het, wat God uit die dode opgewek het, ja, deur Hom staan hierdie man heel voor julle. Dit is die steen wat deur julle bouers verwerp is, wat die hoof van die hoek geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie. En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en sien dat hulle ongeleerde en onkundige mense was, was hulle verwonderd; en hulle het van hulle geweet dat hulle by Jesus was. En toe hulle die man wat genees is, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie. Maar toe hulle hulle bevel gegee het om uit die Raad uit te gaan, het hulle onder mekaar beraadslaag: en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? want waarlik 'n merkwaardige wonderwerk deur hulle gedoen is, is geopenbaar aan almal wat in Jerusalem woon; en ons kan dit nie ontken nie. Maar dat dit nie verder onder die volk versprei het nie, laat ons hulle nougeset dreig, dat hulle voortaan met niemand in hierdie Naam spreek nie.
HANDELINGE 4:1-17 Die Boodskap (DB)
Petrus en Johannes was nog besig om met die skare te praat toe die bevelvoerder van die tempelpolisie en ’n klomp van die Jode se godsdienstige leiers daar aankom. Hulle was woedend omdat die apostels vir die mense gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat elkeen wat dit glo, ook uit die dood sal opstaan. Daar op die plek het hulle toe vir Petrus en Johannes gevang en in die tronk gegooi. Die twee apostels moes in die tronk bly tot die volgende oggend. Intussen het baie mense in Christus begin glo. Die kerk in Jerusalem se ledetal het tot by die 5 000 aangegroei. Die volgende oggend het al die belangrikste godsdienstige leiers van Israel wat op die Joodse Raad sitting gehad het in Jerusalem vergader. Behalwe die skrifkenners en volksleiers was die hoëpriester Annas en lede van sy familie, soos Kajafas, Johannes en Aleksander, ook daar. Petrus en Johannes is tot in die middel van die vertrek gebring waar hulle bymekaar was.Toe vra hulle die apostels: “Sê vir ons, waar kry julle die krag vandaan om so ’n wonderwerk te doen? En wie het vir julle gesê om dit te doen?” Petrus was vol van die Heilige Gees se groot krag. Hy het dadelik geantwoord: “Geagte leiers van die volk en raadslede, ons staan vandag hier voor julle omdat ons ’n siek man gesond gemaak het. Hierdie man is in die Naam van Jesus Christus, die Man van Nasaret, genees. Julle weet van wie ek praat, want julle het Jesus ’n rukkie terug aan ’n kruis laat vasspyker. Maar God het Hom weer lewendig gemaak. “Julle het julle lelik misreken met Jesus. Julle het Hom doodgemaak en gedink julle is ontslae van Hom. So het julle die belangrikste klip in die gebou verwerp. Jesus is nou die belangrikste Persoon in die hemel. Daar is geen ander manier hoe julle in die regte verhouding met God kan kom as deur Hom nie. Niemand anders in die hemel of hier op aarde kan julle nou red nie.” Die lede van die Raad was verstom oor Petrus en Johannes se woorde, veral omdat hulle nie geleerde mense was nie. Tog was hulle nie bang om oor Hom te praat nie.Om alles te kroon het die man wat verlam was ook nou gesond langs hulle gestaan. Die Joodse Raad het Petrus en Johannes beveel om buite te wag terwyl hulle met mekaar beraadslaag. “Wat moet ons met hulle doen?” het hulle mekaar gevra. “Almal in Jerusalem weet teen hierdie tyd al wat gister in die tempel gebeur het. Ons kan dit nie wegpraat nie. Al wat ons nou kan doen, is om hulle te verbied om verder in die naam van daardie Jesus met die mense te praat. So sal ons ten minste keer dat hierdie storie verder versprei.”
HANDELINGE 4:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesterhoofde, die bevelvoerder van die tempelwag en sommige van die Sadduseërs op hulle afstorm. Hulle was baie ontsteld omdat Petrus en Johannes die volk geleer het en die opstanding uit die dood in Jesus verkondig het. Die tempelwag het hulle gearresteer, en omdat dit al laat was, hulle oornag in die tronk gesit. Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000. Die volgende môre het die priesterhoofde, die leiers, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergadering gehou. Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester. Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk, word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n ver-lamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is? Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is: ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is; Hý het nou die sluitklip geword.’ “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.” Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie. Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal gestuur en die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie. Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.”