HANDELINGE 3:23-26
HANDELINGE 3:23-26 Bybel vir almal (ABA)
Elkeen wat nie luister na daardie profeet nie, moet dit weet: Die Here sal hom wegvat van sy mense.’ En al die profete het vertel van die dinge wat nou gebeur, die profete van die tyd af toe Samuel gelewe het, die een profeet ná die ander profeet. Julle is die kinders van die profete en van die verbond wat God gemaak het met julle voorvaders. God het vir Abraham gesê: ‘ Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou nageslag sal seën.’ Daarom het God sy Dienaar Jesus gestuur. God het Hom eerste na julle toe laat kom. Die Dienaar wil julle seën, Hy wil elkeen van julle laat ophou om verkeerde dinge te doen.”
HANDELINGE 3:23-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word. En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig. En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word. God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.
HANDELINGE 3:23-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot 'n seën wees.’ Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot 'n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”
HANDELINGE 3:23-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk uitgedelg word.’ Ook al die profete wat sedert Samuel en sy opvolgers geprofeteer het, het hierdie dae aangekondig. Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het, ‘In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.’ God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.”
HANDELINGE 3:23-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit sal gebeur dat elke siel wat nie na daardie profeet luister nie, onder die volk verdelg sal word. Ja, en al die profete van Samuel af en dié wat daarna volg, almal wat gespreek het, het eweneens van hierdie dae voorspel. Julle is die kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het deur aan Abraham te sê: En in jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. God het eers vir julle, nadat Hy sy Seun Jesus opgewek het, gestuur om julle te seën deur elkeen van sy ongeregtighede af te keer.
HANDELINGE 3:23-26 Die Boodskap (DB)
Doen alles wat hy vir julle sê! Elkeen wat nie na hom luister nie, sal doodgemaak word. Hulle sal nie meer deel wees van God se volk nie.’ “Al die ander profete daar van Samuel se tyd af het presies dieselfde gesê. “Julle is mos die nageslag van die profete. God het sy groot ooreenkoms met julle voorvaders gesluit. Hy het vir Abraham gesê: ‘Baie mense hier op aarde sal nog my goedheid beleef omdat Ek hierdie ooreenkoms met jou en jou nageslag gesluit het.’ “Julle staan vandag heel voor in die ry. Nadat God Jesus weer lewendig gemaak het, het Hy Hom heel eerste na julle toe gestuur om te wys hoeveel Hy vir julle omgee. Daarom moet julle julle sondes laat staan.”
HANDELINGE 3:23-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het ook nog verder gesê: ‘Elkeen wat nie na daardie Profeet luister nie, sal van die volk van God afgesny en vernietig word.’ “Van Samuel af het elke profeet gepraat oor wat vandag gebeur. Júlle is die kinders van daardie profete, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. God het mos vir Abraham gesê: ‘In jou nageslag sal al die families van die aarde geseën word.’ Toe God sy Dienaar in die wêreld laat kom het, het Hy Hom heel eerste na julle, Israeliete, toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deurdat julle almal van julle verkeerde paaie af omdraai.”