HANDELINGE 16:1-15
HANDELINGE 16:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Paulus het ook in die stede Derbe en Listre gekom. In Listre was daar 'n gelowige, sy naam was Timoteus. Hy was die seun van 'n Joodse vrou wat 'n gelowige was, en sy pa was 'n Griek. Die gelowiges in die stede Listre en Ikonium het goeie dinge oor Timoteus gesê. Paulus wou hê dat Timoteus saam met hom moes gaan. Daarom het Paulus hom geneem en hy het hom besny. Paulus het dit gedoen omdat al die Jode wat in daardie stede was, geweet het dat Timoteus se pa 'n Griek was. Toe Paulus en sy vriende deur die stede gegaan het, het hulle vir die gelowiges vertel wat die apostels en die ouderlinge in Jerusalem besluit het. Hulle het ook vir die gelowiges gesê dat hulle moet doen wat die apostels en die ouderlinge besluit het. Paulus en sy vriende het aangehou om die gelowiges in die gemeentes sterker te laat glo, en elke dag het meer en meer mense in Christus begin glo. Die Heilige Gees het vir Paulus en sy vriende gekeer sodat hulle nie die boodskap in die provinsie Asië kon bring nie. Daarom het hulle deur die lande Frigië en Galasië gegaan. En toe hulle oorkant die provinsie Misië kom, het hulle probeer om na die provinsie Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle gekeer om dit te doen. Hulle het toe deur Misië gegaan en hulle het na die hawestad Troas gegaan. In die nag het die Here vir Paulus iets gewys, dit was soos in 'n droom. 'n Man van die provinsie Masedonië het daar gestaan en hy het vir Paulus mooi gevra: “Kom asseblief oor die see na ons toe en kom help ons.” Nadat die Here dit vir Paulus gewys het, het ons dadelik probeer om met die skip na Masedonië te seil omdat ons geglo het dat God ons gekies het om die goeie boodskap vir daardie mense te bring. Ons het met die skip weggeseil van die hawestad Troas, en toe het ons reguit na die eiland Samotrake geseil. Die volgende dag het ons na die hawestad Neapolis geseil. Ons het van daardie stad na die stad Filippi geloop. Dit was 'n stad in die eerste deel van die provinsie Masedonië. Die stad was ook 'n kolonie van Rome. Ons het 'n paar dae in daardie stad gebly. Op die Sabbatdag het ons uitgegaan by die stad se poort en ons het gegaan na 'n plek langs die rivier. Ons het geweet dat die Jode altyd daar kom bid. Ons het gaan sit en ons het begin praat met die vroue wat daar saam was. Daar was 'n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was 'n handelaar in pers materiaal. Sy was nie 'n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het. Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.” En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het.
HANDELINGE 16:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was 'n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse vader. Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader 'n Griek was. En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal. En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig. En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie. So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom. EN Paulus het 'n gesig in die nag gesien — daar staan 'n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons! En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig. Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, 'n kolonie. En ons het in hierdie stad 'n paar dae deurgebring. En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs 'n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.
HANDELINGE 16:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was 'n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook 'n gelowige, was 'n Joodse vrou en sy pa 'n Griek. Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is 'n Griek. Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword. Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. Daarvandaan is ons na Filippi toe, 'n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae gebly. Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou 'n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was 'n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.
HANDELINGE 16:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Paulus het na Derbe gegaan, en toe na Listra. En kyk, daar was 'n dissipel met die naam Timoteus – die seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse pa. Hy was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het. Paulus wou Timoteus saam op reis neem, en het hom laat besny ter wille van die Jode wat in daardie streke gewoon het, omdat almal geweet het dat sy vader 'n Griek was. Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die voorskrifte waarop die •apostels en ouderlinge in Jerusalem besluit het, aan die gelowiges oorgedra om dit te onderhou. Sodoende is die •gemeentes in die geloof versterk en hulle het van dag tot dag in getal toegeneem. Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. Daardie nag het Paulus 'n visioen gehad. 'n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig. Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal.
HANDELINGE 16:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe kom Hy in Derbe en Listre, en daar was 'n sekere dissipel met die naam van Timótheüs, die seun van 'n sekere vrou, wat 'n Joodse vrou was en gelowig was; maar sy vader was 'n Griek: Waaroor goed berig is deur die broers wat in Listra en Ikonium was. Hom sou Paulus saam met hom moes uitgaan; en hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie omgewing was, want hulle het alles geweet dat sy vader 'n Griek was. En terwyl hulle deur die stede gegaan het, het hulle die insettinge oorgegee om te onderhou, wat deur die apostels en ouderlinge wat in Jerusalem was, bepaal was. En so is die gemeentes in die geloof gevestig en het hulle daagliks in getal vermeerder. En toe hulle deur Frigië en die gebied van Galasië gegaan het en deur die Heilige Gees verbied is om die woord in Asië te verkondig, Nadat hulle in Misië gekom het, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees het hulle nie toegelaat nie. En hulle wat by Misië verbygegaan het, het afgekom na Troas. En 'n gesig het in die nag aan Paulus verskyn; Daar het 'n man van Masedonië gestaan en hom gebid en gesê: Kom oor na Masedonië en help ons. En nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Masedonië te gaan, en verseker ingesamel dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig. Daarom, toe ons van Troas losgemaak het, het ons met 'n reguit koers na Samotrakië gekom en die volgende dag na Neapolis; En daarvandaan tot by Filippi, wat die hoofstad van daardie deel van Masedonië is, en 'n kolonie; en ons het sekere dae in daardie stad gebly. En op die sabbat het ons uit die stad uitgegaan langs die rivier, waar gebid was; en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar tuisgegaan het. En 'n sekere vrou met die naam van Lidia, 'n purperverkoper van die stad Thiatira, wat God aanbid het, het ons gehoor; wie se hart die Here oopgemaak het, dat sy ag geslaan het op die dinge wat van Paulus gespreek is. En toe sy gedoop is en haar huisgesin, het sy ons gesmeek en gesê: As julle geoordeel het dat ek getrou is aan die Here, kom in my huis en bly daar. En sy het ons ingeperk.
HANDELINGE 16:1-15 Die Boodskap (DB)
Paulus het ook weer ’n draai in Derbe en Listra gaan maak. Daar het hy vir Timoteus raakgeloop, ’n Christen met ’n Joodse ma en ’n Griekse pa. Sy ma het saam met hom die Here gedien. Die gelowiges in Listra en Ikonium kon nie uitgepraat raak oor Timoteus se liefde vir die Here nie. Paulus het toe besluit om Timoteus saam met hom te vat om sendingwerk te gaan doen. Maar hy het Timoteus eers besny om seker te maak dat die Jode hom nie van die staanspoor af sou verwerp nie. Baie van hulle het geweet dat hy ’n Griekse pa het. Daarom sou hulle hom nooit toelaat om met hulle in hulle sinagoges oor Jesus te praat as hy nie besny was nie. Daarna het Paulus en Timoteus by ’n paar gemeentes gaan besoek aflê. Oral het hulle vir die gelowiges vertel van die besluite wat die kerkleiers in Jerusalem geneem het oor daardie voorskrifte wat al die gelowiges moes gehoorsaam. Paulus het hierdie besoeke gebruik om die Christene se geloof te versterk. Baie mense het ook tot bekering gekom sodat die kerk oral uitgebrei het. Paulus-hulle het deur die landstreke van Frigië en Galasië gereis. Hulle wou van daar af in ’n westelike rigting na die Romeinse provinsie Asië toe gaan om daar te gaan preek. Die Heilige Gees wou hulle egter nie toelaat om dit te doen nie. Hulle het toe van roete verander en na Misië toe gegaan. Van daar af wou hulle dan na Bitinië reis. Maar weer ’n keer het Jesus hulle deur sy Gees gekeer om soontoe te gaan. Toe het hulle deur Misië na Troas toe gereis. In Troas het Paulus een nag ’n visioen gesien. Hy het gesien hoe ’n man uit Masedonië, daar in die noorde van Griekeland, voor hom kom staan en by hom pleit: “Kom dadelik na ons toe. Kom help ons!” Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat om te doen. Hy het vir ons almal wat saam met hom was, gesê om dadelik gereed te maak om Masedonië toe te gaan. Paulus was nou oortuig dat God ons almal geroep het om die goeie nuus vir daardie mense te gaan vertel. Ons het die eerste skip geneem wat na Samotrake gevaar het. Van daar af het ons die volgende dag tot in Neapolis gereis. Toe ons daar aankom, het ons dadelik koers gekies die binneland in. Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly. Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly.
HANDELINGE 16:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek. Daar was van die kant van die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus. Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek. Soos hulle die stede deurreis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra om daarvolgens te leef. So is die gemeentes in hulle geloof versterk, en die aantal gelowiges het by die dag meer geword. Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe. Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly. Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het.