2 PETRUS 3:8-10
2 PETRUS 3:8-10 Bybel vir almal (ABA)
Maar my vriende, julle moenie hierdie een ding vergeet nie. Een dag is vir die Here soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar is vir Hom soos een dag. Party mense dink dat die Here 'n lang tyd neem om te doen wat Hy belowe het. Maar dit is nie waar nie. Nee, die Here is jammer vir julle, want Hy wil nie hê dat party mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat al die mense moet lewe soos Hy wil hê hulle moet lewe. Maar die dag van die Here sal kom wanneer niemand sal dink dat dit sal gebeur nie. Daardie dag sal kom soos 'n dief wat kom wanneer niemand dink dat hy sal kom nie. Op daardie dag sal dit baie hard raas en dreun, en die hemel sal verdwyn. Die sterre in die lug sal smelt en verdwyn. Die Here weet wat almal op die aarde gedoen het en Hy sal hulle oordeel.
2 PETRUS 3:8-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.
2 PETRUS 3:8-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.
2 PETRUS 3:8-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Die dag van die Here sal egter kom soos 'n dief, 'n dag waarop die hemele met 'n gedruis tot 'n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.
2 PETRUS 3:8-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar, geliefdes, moenie hierdie een ding onkundig wees nie, dat een dag by die Here is soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie sy belofte nie, soos sommige dit vertraging ag; maar is lankmoedig teenoor ons, en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag; waarin die hemele met 'n groot gedruis sal verbygaan en die elemente sal versmelt met vurige hitte, ook sal die aarde en die werke wat daarop is, verbrand word.
2 PETRUS 3:8-10 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag. Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Niemand weet wanneer die Here na ons toe terugkom nie. Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos ’n dief wat iewers in ’n huis inbreek. Op daardie dag sal die hemelruim bokant julle inmekaarstort, die sterre en die planete sal tot ’n hoop as verbrand, en die aarde met alles daarop sal vergaan.
2 PETRUS 3:8-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief. Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.