2 KORINTIËRS 9:8-15
2 KORINTIËRS 9:8-15 Die Boodskap (DB)
God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke. Hoor net wat een van die psalms hieroor sê: “Iemand wat God liefhet, klou nooit krampagtig aan sy besittings vas nie. Hy deel dit met die armes. Hy hou nooit op om goed te doen nie.” God is baie goed vir ons almal. Hy sorg dat daar elke jaar goeie oeste op die lande is en dat daar altyd genoeg brood op die tafel is om te eet. Net so sal Hy ook vir julle die regte soort saad gee om te saai en sorg dat dit baie vrug dra. Wat ek bedoel, is dat God sal sorg dat al die goeie dinge wat julle doen ’n reuse-oes oplewer. So sal julle en ander mense selfs nog meer van die Here se goedheid in julle lewe beleef. God sal sorg dat julle altyd meer as genoeg het om van te leef. Hy maak julle ryk genoeg om altyd vrygewig te wees. Daarom sal julle geldelike bydraes, wat ons binnekort na die gelowiges in Jerusalem neem, tot gevolg hê dat daar sommer baie dankgebede na God toe opgestuur word. Weet julle, hierdie geldelike offers waarmee julle die gelowiges in Jerusalem dien, gaan nie net help om hulle armoede te verlig nie. Dit natuurlik ook, maar julle bydraes sal maak dat God regtig gedank word. Wanneer die gelowiges in Jerusalem sien dat julle bereid is om hulle met julle geld te dien, sal hulle God eer omdat julle so gehoorsaam is aan Christus. Hulle sal sien julle geloof is nie net lippetaal nie. Hulle sal God loof omdat julle so ’n groot klomp geld gee aan hulle en aan ander wat swaarkry om te wys dat julle een is voor God. As bewys dat hulle ook vir julle omgee, sal daardie gelowiges vir julle bid en vir God dankie sê omdat Hy so ongelooflik goed is vir julle. Prys God vir sy ongelooflike groot geskenk aan ons almal!
2 KORINTIËRS 9:8-15 Bybel vir almal (ABA)
God kan vir julle baie goeie dinge gee, sodat julle meer as genoeg sal hê. En dan sal julle altyd genoeg hê van alles wat julle nodig het. Maar dan sal julle ook meer as genoeg hê om te gee vir mense wat nie genoeg het nie. In die Ou Testament is geskryf: Hy gee graag, hy gee vir die arm mense, hy doen wat God wil hê, en hy hou nooit op nie. God is die Een wat saad gee vir die persoon wat saai, en Hy gee kos om te eet. Hy sal ook vir julle saad gee en Hy sal dit meer laat word. As julle doen wat God wil hê, dan sal Hy dit meer en meer laat word. God sal vir julle genoeg gee van alles sodat julle altyd graag vir ander mense sal wil gee. En dan sal die gelowiges in Jerusalem vir God dankie sê wanneer ons die geld vir hulle gee wat julle gekollekteer het. As ons die geld wat julle bymekaargemaak het, gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan sal hulle genoeg hê om te lewe. En dan sal die ander gelowiges ook meer en meer vir God wil dankie sê. As julle hierdie geld gee vir die gelowiges in Jerusalem, dan het julle die toets geslaag. Dan wys dit dat julle gehoorsaam is wanneer julle sê dat julle die goeie boodskap van Christus glo. Dit wys ook dat julle jammer is vir die gemeente in Jerusalem en vir al die gemeentes. En dan sal die gelowiges vir God prys. En wanneer die gelowiges in Jerusalem vir julle bid, dan verlang hulle na julle. Want hulle sien dat God ook genadig was vir julle. Ons sê vir God dankie vir sy groot present. Dit is so groot dat 'n mens nie kan sê hoe groot dit is nie.
2 KORINTIËRS 9:8-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid. En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk. Want die bediening van hierdie hulpbetoning voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God, omdat hulle deur die bewys van hierdie diens God verheerlik oor die onderwerping van julle belydenis aan die evangelie van Christus en oor die milddadigheid van die bydrae aan hulle en aan almal, terwyl hulle ook in die gebed vir julle na julle verlang vanweë die uitnemende genade van God aan julle. Maar God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe.
2 KORINTIËRS 9:8-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer. Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee. Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was. Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.
2 KORINTIËRS 9:8-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk. Soos daar geskryf staan: “Hy het wyd uitgestrooi; Hy het aan die armes gegee; sy •geregtigheid bly vir ewig.” En Hy wat saad aan die saaier voorsien en ook brood as voedsel, sal aan julle saad verskaf en dit vermeerder, en Hy sal die vrug van julle geregtigheid laat toeneem. So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees, en dit loop deur ons bemiddeling uit op danksegging aan God. Want die hulp van hierdie bediening voorsien nie net in die •heiliges se behoeftes nie, maar lei ook tot 'n oorvloed van baie uitinge van danksegging aan God. Op grond van die bewys wat deur hierdie diensbetoning gelewer word, verheerlik hulle God oor julle gehoorsaamheid aan julle belydenis van die evangelie van •Christus, en oor die vrygewigheid van julle bydrae aan hulle en aan almal. Terselfdertyd verlang hulle, in hulle gebede vir julle, vuriglik na julle, weens die oortreffende genade wat God aan julle bewys het. Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe!
2 KORINTIËRS 9:8-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En God is magtig om alle genade oorvloedig oor jou te laat wees; sodat julle, wat altyd in alles genoegsaam is, oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. (Soos geskrywe is: Hy het verstrooi, Hy het aan die armes gegee; sy geregtigheid bly vir ewig. En hy wat saad bedien vir die saaier, bedien ook brood vir jou voedsel en vermeerder jou saad wat gesaai is, en vermeerder die vrugte van jou geregtigheid.) Deur in alles verryk te word tot alle oorvloed, wat deur ons danksegging aan God bewerk. Want die bediening van hierdie diens voorsien nie alleen in die gebrek van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God; Terwyl hulle deur die beproewing van hierdie bediening God verheerlik vir julle belyde onderdanigheid aan die evangelie van Christus en vir julle vrygewige verspreiding aan hulle en aan alle mense; En deur hulle gebed vir jou wat na jou verlang om die uitnemende genade van God in jou. Dank aan God vir sy onuitspreeklike gawe.
2 KORINTIËRS 9:8-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee so-dat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk. Soos daar geskryf staan: “Hy het uitgedeel en gegee aan die armes; sy goedhartigheid bly vir altyd staan.” God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons toedoen bring julle vrygewigheid mee dat God gedank word. Die bediening van hierdie hulp voorsien nie net in die behoeftes van die gelowiges in Jerusalem nie, maar word ’n stroom van danksegging teenoor God. Deur hierdie diensbetoning sal hulle aan God die eer gee. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en ook oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. Hulle sal ook vir julle bid en na julle verlang omdat die genade van God oor julle só groot was. Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!