“Jy is mooi, my liefling,
jy is mooi, jou oë is duiwe agter jou sluier.
Jou hare is soos 'n trop bokke
wat teen die Gileadberge afkom.
Jou tande is so wit soos 'n ry pasgeskeerde skape
wat nou net skoon gewas is,
elkeen met 'n tweeling,
nie een sonder 'n lam nie.
Jou lippe is soos skarlakenrooi lint,
jou mond bekoor my.
Die versiersels op jou voorkop is soos granaatpitte
agter jou sluier.
Dié aan jou nek is soos die Dawidstoring
wat uit rye klip gebou is;
aan hom hang duisend skilde,
al die skilde van die helde.
Jou twee borste is soos takboklammers,
soos die tweeling van 'n ribbok
wat tussen die lelies wei.
Wanneer die aandwind begin waai
en die skaduwees lank word,
wil ek na my mirreberg,
my wierookheuwel, toe gaan.
Alles aan jou is mooi, my liefling,
aan jou is niks verkeerd nie.
Kom saam met my van die Libanon af, my bruid,
kom saam met my van die Libanon af,
kom af hier van die top van Amana,
van die top van Senir en Hermon af,
weg van die leeus se skuilplekke,
weg van die luiperds se hoë lêplekke af.
“Jy het my hart gesteel, my beminde bruid,
jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë,
met een skakel in die ketting om jou hals.
Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid,
jou liefkosings is beter as wyn,
jou parfuum ruik lekkerder as al die lekkerruik-kruie.
Jou lippe proe soos heuningstroop, my bruid,
jou tong soos heuning en dikmelk,
en jou klere ruik soos die Libanon.
“My beminde bruid is 'n tuin wat toegemaak is,
'n tuin met 'n muur om, 'n fontein wat afgekamp is.
Jou liggaam is 'n lushof,
granaatbome met keurige vrugte,
hennastruike saam met nardus,
nardus en saffraan,
kalmoes en kaneel
saam met elke soort lekkerruik-kruie,
mirre en aalwyn
saam met al die beste lekkerruik-kruie.
Daar is 'n fontein in my tuin,
'n put met borrelende water,
strome van die Libanon af.”