YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 8:40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56

LUKAS 8:40 AFR83

Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte.

LUKAS 8:41 AFR83

Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom

LUKAS 8:42 AFR83

want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom.

LUKAS 8:43 AFR83

Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie.

LUKAS 8:44 AFR83

Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe

LUKAS 8:45 AFR83

“Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”

LUKAS 8:46 AFR83

Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”

LUKAS 8:47 AFR83

Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

LUKAS 8:48 AFR83

Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

LUKAS 8:49 AFR83

Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

LUKAS 8:50 AFR83

Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”

LUKAS 8:51 AFR83

Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma.

LUKAS 8:52 AFR83

Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.”

LUKAS 8:53 AFR83

Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is.

LUKAS 8:54 AFR83

Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!”

LUKAS 8:55 AFR83

Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee.

LUKAS 8:56 AFR83

Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.