YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 8:31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59

JOHANNES 8:31 AFR83

Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels

JOHANNES 8:32 AFR83

en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

JOHANNES 8:33 AFR83

Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?”

JOHANNES 8:34 AFR83

Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde.

JOHANNES 8:35 AFR83

'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd.

JOHANNES 8:36 AFR83

Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.

JOHANNES 8:37 AFR83

Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie.

JOHANNES 8:38 AFR83

Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”

JOHANNES 8:39 AFR83

Hulle het vir Hom gesê: “Ons vader is Abraham.” Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het.

JOHANNES 8:40 AFR83

Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie.

JOHANNES 8:41 AFR83

Julle doen wat julle vader gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.”

JOHANNES 8:42 AFR83

Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur.

JOHANNES 8:43 AFR83

Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie!

JOHANNES 8:44 AFR83

Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.

JOHANNES 8:45 AFR83

En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie.

JOHANNES 8:46 AFR83

Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie?

JOHANNES 8:47 AFR83

Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”

JOHANNES 8:48 AFR83

Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!”

JOHANNES 8:49 AFR83

Jesus het geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.

JOHANNES 8:50 AFR83

Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter.

JOHANNES 8:51 AFR83

Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.”

JOHANNES 8:52 AFR83

Die Jode sê toe vir Hom: “Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’

JOHANNES 8:53 AFR83

Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?”

JOHANNES 8:54 AFR83

Maar Jesus antwoord: “As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’

JOHANNES 8:55 AFR83

en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte.

JOHANNES 8:56 AFR83

Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”

JOHANNES 8:57 AFR83

Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?”

JOHANNES 8:58 AFR83

Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.”

JOHANNES 8:59 AFR83

Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.