JOHANNES 3:22-30

JOHANNES 3:22-30 AFR83

Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het 'n rukkie daar gebly en mense gedoop. Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en 'n Jood 'n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.” Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’ Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Hy moet meer word en ek minder.